Die stillte, die vars lug, my half meter hoë basil wat nie wil ophou groei nie en swart olywe wat toe eintlik groen olywe is ,is als salig.

Maar toe Duine tannie haarself moes opdos vir 'n sprokies troue. Het al die gegrawe in die garage net mooi ietwat verlepte en erg knap uitvatjies tot gevolg gehad. Hier het ek gewoond geraak aan my visplakkies en uncomplicated plain swart gewaadjies!

Min fancy goed. Spring Sateroggend eerste ding met 'n reuse fanfare hier weg... honde in die kar want Taro is op dog sitting duty.

Stap met my heel nuutste visplakkies by Francois Rall in, want nou moet daar vinnig 'n rokkie aangeskaf word. Ek gaan nie se hoeveel opsies ek aangetrek nie, maar slim soos hy is, gee hy my 'n rokkie wat ek nooit ooit sal dra nie - dis frivolous en cute! So tikkie Mary Poppins met 'n beautiful jakkie met nog FRILLE!

Ek jaag Waterfront toe want sjoe daar moet darem seker bietjie ingekleur word ook. Maybelline mascara, Bobby Brown overall concealer en lippe en my YSL blusher wat ek wel in die garage gevind het!

Daai staatmaker swart spaanse dans style skoene van ZARA van klomp jare terug, didn’t quite make it. Maar Francois is vrygewig en noem dit die intellectual touch! Mmmm, so bietjie nonnerig!

Hare geblow en toe sommer in so sagte knoop agter die kop en my groot sonbril.

Dit was die mees beautiful troue van ‘n jong man , Jacob, wat voor my groot geword het en Jackie sy lieflike bruid. 'n sprokies-Saterdag waar jy later nie meer weet waar om te kyk na nog amazing detail... ’n Werklike magic dag! En dit was lekker om weer uitgedos te wees!

Toe Taro die dag gebore is het my Ma Issie so oor sy lyfie gevryf en gesê: ‘Koekoe, jy moet vir die seuntjie sterk vlerke gee sodat hy eendag kan vlieg.’ Hoe profeties was daardie woorde van 'n baie wyse ou dame! Nie alleen vlieg hy teen enorme spoed oor die water nie. Hy sprei behoorlik sy vlerke. Vir Taro lewe hy elke dag voluit. "Ek lewe nie net nie, ek design my lewe ma!"

Op pad Kaap toe bel jong meneer, ek trek af... "ek wil met ma praat."

No my dear man...ek is al gewoond aan skokke van my kind, hy’s altoos sy ma se impulsiewe kind... "Ek seil volgende week Amerika toe met 'n yacht, kan ma na Mobe kyk?"

Nee ek jok, eers was daar darem 'n “is dit ok met ma” en toe die vreeslike groot vraag of kan ma na Mobe kyk?

Nou vir die wat weet en nou sommer vir die wat nie weet nie. Mobe bly al van verlede Augustus permanent by my. Hy’s nou my boytjie met sy klein oortjies en onblusbare liefde vir die see. Hy verwoes my tuin week na week, hy eet die turksvye met dorings en al, hy kou gate in die waslappe nadat hy sy gesiggie teen die nat lap gevee het. Hy is my alarm hier buite op die dek! Hy’s weerbarstig en wonderlik!

Nou vir daai vraag... moes ek aftrek van die pad af want ek kon net nie ophou lag nie. Die liewe liewe liewe kind!

Terug huistoe Donderdag is daar 'n reuse padblokkade net voor die afrit Langebaan toe... almal moet af. Met die 'kan ek mevrou se lisensie sien' steek Mobe sy groot swart kop heel vriendelik by die venster uit... ek grawe nog vir die stukkie plastiek toe se die stem, dis OK u kan maar ry!

Die dorp is besig maar hier op die duin was dit lekker stil. So stil dat ek Saterdag oggend na ons plaaslike haberdashery toe is om no. 5 breinaalde en katoen-wol te koop, want brei die wil ek. As ek al die half gebreide arms, voorpante en blokke vir komberse aanmekaar stik kan ek moontlik ‘n beautiful winter jassie vir my kar maak...

Ek wou nog altyd brei. Ek wou nog altyd hekel. En my intensies is edel. Ek probeer hard tot ek een verkeerde iets doen dan word daai stukkie harde arbeid saggies weggesteek dat ek hopelik vergeet van die belustigheid.

Maar dié keer is anders. More is ek met breiwerk en al op kantoor dat Anita en Lounette net eers help met die steek wat daar ver onder die naald bystergeraak het. Na 'n vier-dag week in die stad laat so ‘n stil naweek hier in die sement huis my altyd weer met nuwe happy oë na die vrede om my kyk.

Op elke mat lê ‘n hond in die son. Picasso skuif van stoel na stoel waar sy lang lyf lê en bak.

Hier kan ek na hartelus potte vol pruime en chillies kook, my bedding kruie en groente bewerk en met trots emmers vol olywe pluk. Dit is die goed wat my grounded hou. En as die stilte en rustigheid te lank aanhou broei daar nuwe positiewe giere uit. Kry ek lus om nuwe dinge aan te pak. To add a bit more madness and magic!

Dis kosmark naweek op Vredenburg. Lekker. ‘n Klompie ure van gemoedlike gesels met vreemdes en ‘n lekkerte om ou bekende gesigte weer te sien. En vir my ‘n vroegoggend vetkoek met lekker mince! My veel besproke tamatie konfyt, en ‘n quiche of twee, waarvoor ek nog eers vriendin Linda Alberts se resep moet uittoets!

Linda is nog een wat gedurig aan die woel is. So maand gelede het sy haar deure opgegooi by haar beautiful huis in Melkbos en Linda se Stoep, elke Woensdag begin. Jy kan gaan tee drink, die ongelooflikeste koeke en terte eet, ‘n ligte middagete en onbyt, én die beste cappuchino wat ek in jare gedrink het!

As julle in die omtrek is gaan loer in by Gull Cry Close no. 5 - als is mooi, fyn en vroulik, dit is ‘n feel good ervaring!

Sondag laatmiddag ontsnap Mobe en is reguit strand toe! In die ysige koue is ek kaalvoet agter menneer aan wat plat oortjies lê en wag vir die bamboese om gegooi te word. So meter van hom lê ‘n cormorant seevoël met ‘n gebreekte vlerk. 100de voete het al by die voël verbygestap en haar net vol sand geskop.

Eers word voël saggies op die duin neergesit waar sy veilig kan voel. Ure en etlike oproepe later is ek met my nuwe wit pantoffeltjies met dowwe goue lint strikke af see toe in die donkerte, handdoek in die hand om vir voël te gaan haal en te versorg. Eers probeer ek haar in die water sit, maar sy spoel net uit .Teen die tyd is my snoesige pantoffels twee nat moppe aan my voete. Met voël, of eerder, Ally, in ‘n mooi sagte grys handdoek toegedraai in ‘n boks in die spaarkamer sit ek vir ure en vryf haar (ek dink dit was ‘n sy...) fluweel sagte koppie en elke nou en dan word ek geknyp met daai lang snawel.

Ek probeer water gee en krummels... en ek bid hard vir Ally. Sy maak dit nie. Nou het ek vir haar ‘n lêplek in die duin gegrawe, en weer geleer: sometimes you must let nature take its course! Dammit! Ek blaai so deur die nuwe SARIE en kyk na my eerste van vier mode-stories - en kry lekker .

Dis lekker om weer met mooi goed te speel en beautiful prentjies te create. Om weer deel van ‘n span te wees vir ‘n ruk, en inspirasie uit ander se woorde en energie te kry. En ek besef dat dit soms vir my nodig is om afgesonder te lewe om splinternuwe woema te kry!

Volgende Saterdag skop ek af met ‘n nuutjie hier op die duin...’n reeks klerekas beplannings-oggende. Iets wat ek so lankal wou doen, en uiteindelik het al die elemente in plek geval. Die hele toetie: praatjies oor juwele, grimering, hare en die lekkerste is die klere en juwele is daar om mee te speel!

En Fernanda is daar om te se wat jy regtig in jou grimeersakkie nodig het! Ons drink ‘n wyntjie en eet iets special! My slim motiverings woorde vir myself: glo in jou passie. Leef jou passie... gebruik jou passie om ander te inspireer!

Vrede hier van die weskus tot ons weer gesels.

Isabella.