Ek verlang tog so nou en dan na daai frustrerende ondervinding wanneer jy magteloos in ‘n stadsverkeersknoop vasgebind sit! En jy loer so agter jou donkerbril na wat in die ander karre aangaan!!

Ummmm, daar word my verlange toe verlede week inderdaad bewaarheid en ek word summier midde-in gedompel toe ek by die parkeergarage uitry, vas in die vuvu-blasende Oranje brigade.

Net daar ry ek agteruit, terug na parkering no. 824. Af met die hyser en binne minute is ek in my swart 'outfitjie' in die hiper-energieke stroom opgeslurp! Hup, Holland, Hup!

Terug in die dorp beleef ek ‘n Weskus-verkeersknoop. Hulle werk aan die pad en die boodskap op ‘n groot geel bord lees iets soos "Ontspan, daar’s padwerk en als vat biekie langer." Wat kan jy sê? Jy kan net smile en sit en wag en wag. Slow down, madam, môre is mos nog ‘n dag. En ek dink aan een van daai slim filosowe, Eddie Cantor, wat gesê het: “Slow down and enjoy ... it’s not only the scenery you’re missing by going too fast. You’re also missing the sense of where you’re going and why!

As mense een keer diep in my hart gekruip het en hulself daar tuismaak asof hulle genooi is, los ek hulle maar daarbinne! Daar’s drie sulke wonnerlike Weskus-hartkapers in my lewe ...

Rhona, so dun soos ‘n plankie, is nou al vier jaar deel van die familie. Sy’s ‘n aanwins wat geen mens met ‘n huis sonder kan nie. Een – sy hou nie van stryk nie! Twee – silwerskoon maak is nie haar ding nie. Stof solank dit skoon is, mag maar bly!! En my opreggeteelde Dalmation genaamd Sav-vi met ‘n klem op die Sa is nou sommer Sewwie die GESPOTTE hond! Maar haar hart is groot en mooi en sy’s ‘n character en sy’s lief vir my kind en vir die honne en vir mooi blomme....en ook vir my!

In kontras met die kleine Rhona is Jennifer volrond en ‘n kombuis-goddess soos min. Sy maak ‘n viskoekie wat jou na jou asem laat snak. Haar phylo pastry- spinnekopitas en Marokkaanse hoender-parceltjies is legendaries. Sy’t duisend persent geduld en bak die smelt-innie-mond anyskoekies wat versigtig in versiersuiker gerol word. Niks word in ‘n tupperbak weggebêre nie...nee op ‘n skinkbord met waspapier dat mens eers die meesterstukkies kan bewonder.

En wanneer ek begin hiperventileer omdat ek altyd op die laaste nippertjie (last minute.com) nog goed wil verander en nie weet waar om te los en waar om rêrig vas te vat nie sal Jennifer so oor haar brilletjies na my loer en sê “Bella ... doen een ding oppe slag!” En liewe Rhonatjie sal net lag en op en af met die trappe skarrel...want vandag raas die vrou se kop weer!!!

En dan’s daar Dowie. Doof en stom! Dié het onder Jennifer se vlerk hier aangekom as die nuwe tuinman. Eintlik is Dowie ‘n upholsterer wat ‘n erg presiese tuinman geword het en geleer het om ‘n tafel te help dek met wit linne, glas en silwerware in perfekte styl nes ‘n Engelse butler dit sou doen!

Net waar ek gaan, piekel ek die drie saam ... ons bak, dek, hang harte en mobiles, sit in, haal uit, dra rond, staail die scenery, maak nuwe tuin en haal dit more weer uit ... bou sommer ‘n kerk op die strand en maak alles wat ons vier harte begeer mooi vir almal!

Saterdag het my tuin nogal hulp nodig gehad. Maar hier word daar toe gereën. So Dowie moes my mooi Afrikabeeld turkoois verf en met die hulp van nat lap en skuurpapier die houtpop ’n interessante arty look gee. Toe’s dit eers 10 uur en dit reën steeds vir ‘n vale ... skuur die voordeur af. Klaar. Nou die ysterrelings. Als met liefdesorg en konsentrasie. So teen eenuur hou dit op reën en nou takel hy my tuin.

Net gou die tuin verduidelik: gebreekte skulp, 6 olyfbome en drie erg gelukkige turksvybosse wat sommer heeljaar deur dra en ons amper uit die voorste kampie uit groei, ‘n stuk of tien aalwyne wat Erik de Milander van Clanwilliam nog vir my aangery het, en ‘n bak besondere diep groen pietersielie ... en ‘n beautiful bak onder een van die olyfbome wat leeg MOET bly, want SEWWIE lê altyd daarin!

En asof hy met kosbare saffraan werk, so versigtig sny Dowie deur die turksvybos. Die blare groei oor als. So uitdun! En dan word al die dorings versigtig afgevryf en met ‘n glinster in daai oë oorhandig hy ‘n skottelvol plomp turksvye! Oranjes en groenes!

Op sy eie, in sy stil wêreldjie, is Dowie rêrig een met die ‘scenery’ om hom nes asof dit alles syne is ...

Net gou oor die wonderlikste vondse wat ek vir die kosmark gevind het! Van die stad met die N7 tot in Malmesbury en dan Hopefield/Langebaan is ‘n laaaaaang ompad. Maar soooo die moeite werd. By Moorreesburg se afdraai wag tannie Lucy Carstens my in met haar befaamde hoenderpasteie. Dis vir die Saterdag-kosmark. Well, well, well, wat kan ‘n city girl say? Die pasteie verkoop uit soos soetkoek en bestellings stroom in! Egte, regte skilferkors wat tannie Lucy 200 keer die lug in gooi!! 50 keer gooi...rus, weer 50 gooie...weer rus om die perfekte tekstuur vir die delikate kors te kry. En die vulsel NET hoender!!!

Dis lekker hier. En dis mooi. Na elke reënbui is daar nog nuwe skakerings van groen. En elke blom steek dankbaar haar koppie uit met haar mooiste gesig op! Alles is skoon en vars en eerlik in die veld. Hierdie tyd van die jaar laat ‘n mens wens jy kan die mooiheid sommer bottel!

In die kop wat raas, bly daar maar die stemmetjie wat praat en vra of dit nie tyd is om weer terug te trek stad toe nie....daar's meer geleenthede om dinge te doen......Vir eers dink ek moet ek aan die bottelering van die veld se mooiheid werk!!!!

Tot ‘n ander keer

Bella Isabella.