Hi, ek's alweer hier. Vreemd hoe die jaar vanaf so middel-Augustus altyd nuwe momentum kry... Vier en 'n half maande en dis Kersfees! So, als wat deur die afgelope agt maande gedrentel en gesleep het moet nóú gedoen word. Verloor gewig nóú. Maagspiere moet nóú ge-tone word. Al daai opgegaarde papiere moet nóú uitgesorteer word.

Somertuin, ai, ek kan nie eers nóú sê nie. Met Mobe en Savvi, die een 'n gatgrawer van formaat en die ander 'n genie met begrawe! Nie alleen het ek al my Bessie-foonjie (Blackberry) onder die kluite uitgegarwe nie, maar my bril, die helfte van 'n kombers en die tuinvurk. Als word weggebêre vir 'n ander dag. Vir 'n nuwe geskenk wat jy kry as jy onner die turksvye grawe. Daar is net dongas en leë potte en halfgevrete plante. En twee paar onskuldige oë en regop oortjies wat nie verstaan wat pla haar tog nóú weer nie. Ons het nie eers haar pietersiele vir haar gesnoei nie!

Ek hou van die tyd van die jaar, die onderliggende histerie. Ek is gek daaroor! Dit voel sommer of jy op al ses silinders fire!

Ek't nou al só baie gepraat oor die birthday partiekie, maar die laaste mooi staaltjie! So het goeie vriend, Christo, die jongmans se vis so baie geniet dat hy toe sommer die woord versprei. Ons kry 'n oproep, ons moet kom visbraai op Stellenbosch. Daar gaan ons.toe. 'n Trollie met skewe kleinbordjies, gespotte servette en ou silwer vurke. Flapjacks, pampoenkoekies, mossels, oesters, deeg vir vetkoeke, korrelkonfyt en vissies agterin gepak.

Dit is Johan se verjaarsdag en 40 van sy pelle kom kuier.

Ek en wonnerlike vriendin Linda Alberts van Melkbos, my partner in crime, ry met die volgepakte trollie wat oor elke hobbeltjie skud en sidder Stellenbosch toe. Hmm, net daar waar die Hopefield- en Malmesbury-paaie kruis is padwerke, en die dame wat die verkeer moet reguleer los haar 'radio' en hardloop eers oor die pad om 'n lekker sak vrugte te gaan kry. En ons wag en wag en wag! En Stellenbosch is nog 'n entjie!

Uiteindelik is ons daar en die twee braaiers, elk met 'n sak hout en niks anders is so slightly ongeduldig. Nou hóé lank ry 'n mens van Langebaan af?! Ek jaag eers gou Lourensford toe om die ongelooflikste gerookte forel by Gerhard Campion te kry en Linda begin solank smeer en inryg. Ag, dit was lekker. Een bord na die ander dra ons uit. Daar is hope rooi tamaties en enorme aarbeie en bosse pietersielie (uit my eie tuin). Daar's oesters en Bloody Mary's, mossels gestoom in vonkelwyn en gemmer, aartappels met crème fraiche en gekarameliseerde rooi uie. En nog en nog!

Die braaiers maak weer foelie huisies vir hulle vissies. Die keer met tamatie en uie en groenpepers. Ag, hulle so cute! Hulle speel sommer waiter ook. En, wow, vir eenkeer vra niemand hulle uit oor hulle haredosse nie...

Dit was 'n wonnerlike middag daar in die Eikestad.

En 'n wonnerlike voorreg om al die mallighede en lekkertes saam Taro te doen. Net so ongeduldig soos ons met mekaar raak net so baie lag ons en werk ons tog sooo lekker saam.... Skielik is dit daai tyd van die jaar wat blou-oogkind sy bakkie pak en die lang pad Luderitz toe vat. Vir 'n maand lank probeer hy en 'n handjie vol mans en 'n vroue van regoor die wêreld die spoedrekord vir die vinnigste man/vrou op water verbeter. Kyk, waar die res van ons bid dat die wind tog net bietjie moet gaan lê...No ways, vir hulle moet die wind tog net stormsterk pomp. Dis dan wanneer die kites opgepomp word en as die harnas eers om die lyf vasgegespe is kom daar 'n hele nuwe energie in daai lywe. 'n Vryheid, want die oseaan is hulle oester!!!

Jy kan vir ure na die skouspel  kyk. Hulle dans oor die water. Dis twirley wirleys in die lug, gat oor kop bollemakisies, vorentoe, agtertoe. En as hy uit die water kom is daai blou oë soos yskristalle. Die lyf is moeg, maar die siel is gevoed.

Tot einde Oktober is dit elke aand Skype Lüderitz toe en twee keer 'n dag die webblaaie dophou vir resultate en stories. Dis so 'n wonnerlike ongekompliseerde jongmens-lewe waar jy skouers skuur met wêreldlinge. Ek hou duimvas vir Luderitz 2010!!

Nou ja, somer is amptelik hier, maar nie-amptelik is dit nog vrek koud! Ek is moeg vir kouse, boots en truie. Dis visplakkie-tyd, met dun goedjies en bleddie koud kry. Maar rokkies wil sy dra!