Sy is mooi en jonk, en glimlag maklik. Maar net so maklik vloei die trane wanneer sy praat oor die motorongeluk in April verlede jaar wat haar lewe onherroeplik verander het.

Die 37-jarige Michelle, vrou van een van die land se bekendste sangers, was agter die stuur toe haar motor naby Uvongo in KwaZula-Natal onverklaarbaar buite beheer geraak het.

Haar ma, Bettie du Toit (69), het in die ongeluk inwendige beserings opgedoen en is ’n paar uur later oorlede. Michelle het byna haar hand verloor nadat albei die bene in haar voorarm gebreek en haar pols vergruis is.

“Ek kan nie sê wat gebeur het nie,” sê Michelle, wat bitter broos lyk waar sy op die bank op hul wye stoep op Parys in die Vrystaat sit. Netnou het sy met haar linkerhand gegroet, want om haar regterhand en -voorarm is ’n rekverband waaronder die opgehewe letsels van haar armbesering lê.

Jak, Michelle, Jamie en Mija

Wat sy wel kan onthou, is flitse uit ’n nagmerrie. Hoe sy iewers langs die grootpad see toe haar bewussyn op die grond herwin, haar kinders wat ontroosbaar huil, die rooi van haar ma se truitjie toe hulle haar uit die motor tel ... Terwyl sy gesels, vat-vat sy aan die verband. Daar, langs die pad, was die laaste keer dat sy haar ma gesien het, vertel sy. Sy vee die trane op haar wange af met gebare wat, ná baie maande se hartseer, outomaties kom. Chelsey, die miniatuurpoedel wat op Bettie se skoot gesit het, is dood. Maar daar was ook genade. Wonderbaarlik was haar kinders, Mija (nou 16 maande) en Jamie (nou drie), ongedeerd in hul babastoeltjies. Só ook die kinderoppasser, Lydia Ntje, en haar dogtertjie, Dora (4),
agter in die motor.

“Die Here was amazing vir ons,” sê Michelle. “Hy het sy hand oor ons gehou.”

** Lees eksklusief in jou Januarie-uitgawe hoe Michelle self vertel van hierdie traumatiese ervaring, waarmee sy nog worstel en die moeilike aanpassing sonder haar ma.