My liewe vrou,

Toe ons mekaar 23 jaar gelede ontmoet het, het ek nooit kon dink dat my hart vandag selfs voller sal wees nie, gevul met jou.

Baie slim en kastig vol met die wêreld se wysheid in pag, het ek vas geglo dat ek vir jou lief was. Ware liefde is egter iets wat groei, iets wat ná jare se samesyn groter word as enige gevoel wat mens ooit kan hê.

Daardie tyd was my haredos mooi bruin en vol, my borskas ferm en gespierd en plooie aaklige goete wat ou mense kry.

Jou vel was sag en glad. Jou lyf slank en vol belofte van daardie vroulikheid wat slegs ná jare kom.

Ons liefde is versterk en met bloed gebind met die geboorte van ons twee dogters. Hoe seer was die dankbaarheid en liefde toe ek moes aanskou met hoeveel pyn jy ons kinders in die wêreld gebring het. Met seer trane het ek die vreugde van hul geboorte gevier.

’n Beter moeder as jy kon daar nie wees nie. Met soveel dank aanskou ek ons dogters elke dag en dink as hulle net ’n klein deeltjie van die vrou word wat hul mamma is, sal hulle ook uitstaan.

Ons het in daardie vroeë dae baie lugkastele gebou. Baie van ons drome het nie waar geword nie, maar saam kon ons baie teleurstellings trotseer. Vir die tye wat my hart swart was, het jy dit met jou sonstraal-liefde gevul wat my weer hoop gegee het om voort te gaan. Jou stille nabyheid in die donker dae het my sterk gemaak en daarvoor skuld ek jou my lewe.

As daar een ding is waarvoor ek myself blameer, is dit materieel. Ek is so jammer dat ek nie vir jou altyd kon gee wat jy verdien het nie. Ná werk het jy tot smiddags laat musiek aangebied sodat ons beter kon leef. Tot laat het jy soms gesit en klere maak vir jouself en ons dogters.

Waar bevind ons, ons nou? Ná ons huwelik van negentien jaar is daar sekerlik baie om te sê. My geheue ná al hierdie jare is soos foto’s in ’n album. Sommige is vergeel en verbleik soos knipsel uit ou tydskrifte. Maar met jou aan my sy kry dit weer nuwe, helder kleur.

Ons ken mekaar so goed dat ons "stille kommunikasie" tot ’n kuns vervolmaak het. As ons saam uitbars van die lag oor iets snaaks wat gebeur het of nie eers nodig het om verder iets te verduidelik nie, besef ek dat jy waarlik die ander, beter helfte van my is.

Die jare het wel sy tol geëis en swaartekrag het wel op my ferm borskas laat verdwyn. My donker haredos, nou byna silwer, het yl geword, maar jou ligte gespottery daarmee is soos ’n borrelende stroom lewenswater.

As ek liggies met my hande oor jou maag streel en ek voel die rekmerke waarmee moederskap jou jeug weggesteel het, word my hart vol van dankbaarheid.

Jou borste en lyf is nou vol van die begeerlike belofte wat dit lank terug getoon het.

Jou vel is nog net so glad, maar om jou oë is daar wel die bewyse van baie smiles, al was die dae soms donker en swaar.

Met julle drie vroumensies in my lewe het ek ná al die jare besef hoe lief God my het. Die liefde wat ek daagliks van julle ontvang, is vir my so groot en ek dank Hom daarvoor. Daarsonder sou ek maar net niks gewees het. Dit is asof ons kinders in my donker dae geweet het dat hul stille drukkies en liefies my las ligter gemaak en my gemoed gevul het met hul onbeskryflike, grootse liefde.

Soos die vuur van ons liefde in die fleur van ons jeug, is daar een ding waaroor ek my altyd sal verheug. Ek hoef nie te vrees dat dit my sal verteer nie. Jy’s immers aan my gegee as ’n geskenk van die Heer.

Vir ewig sal ek vir jou lief wees.