Mense klim in jou kop in.

My onderhoud met Vanessa Goossen was so een. Dit is nou al byna ‘n week en haar verhaal spook steeds by my. Ek het selfs een aand oor tronke gedroom. Ek probeer heeltyd dink hoe dit moes wees om vir 16 jaar in ‘n tronk opgesluit te wees, onskuldig. Of om in ‘n tronk lewe te skenk aan ‘n kind en dan daai klein mensie in ‘n sel te moet grootmaak? En as die kind begin praat, afskeid te moet neem en nie te weet of jy haar ooit weer sal sien nie?

Die ding wat my eintlik ‘gevangene’ gehou het met die tema, is al die hartroerende briewe wat ek die afgelope tyd ontvang het en wat so by Vanessa se verhaal aansluit.

‘n Tronk is nie noodwendig ‘n plek met ‘n hek en ‘n slot nie. Baie van ons bly sommer in ons eie emosionele tronk waar ons eie geheime eintlik ons vonnis is. Die tronke waarin ons onsself toesluit, is dié dinge waaraan ons vashou, dinge waaroor ons skaam is, en dinge wat ons vrees.

Een van die merkwaardigste briewe wat ek ontvang het, was van ‘n vrou wat uiteindelik besluit het om haar ‘geheim’ van 41 jaar met iemand te deel. Dis ‘n verstommende verhaal van hoe een insident wat gebeur het toe sy klein was, haar so skuldig laat voel het dat sy haarself oor al hierdie jare steeds straf. Sonder tralies en sonder kettings bly sy al byna haar hele lewe in eensame afsondering. En vir my as leser is die tragedie juis dat die insident nie so erg was nie, maar dat dit eerder erg geword het as gevolg van die stilte. Haar vrees het haar oor die jare laat begin glo dat haar gevoel ‘n permanente toestand is.

‘n Ander brief was van ouers wat my vertel van die hel waardeur hul kinders hulle sit. Dis ‘n storie van hoe die twee bejaardes deur hul eie kinders beheer, gemanipuleer en misbruik word in hul eie huis. Die twee ou mense bly in vrees onder hul eie dak, waar hulle kinders by hulle ‘plak’. Die tannie skryf van haar vrees om uit haar huis uit te gaan ingeval sy ‘gestraf’ word en hoe sy en die ou oom net bid dat hulle nie siek word en versorging sou nodig hê nie.

Een brief het my laat glimlag oor ‘n ouer broer wat met sy gespot die jonger sussie laat glo het sy het regtig knopknieë en skeel oë én ‘n plat kop. Die twee is boesemvriende, maar sy moes al by ’n hipnoterapeut ‘n draai maak om die kompleks in haar kop te probeer uitvee. Sy is ‘n gyselaar van haar boetie se onskuldige gespot.

Hoeveel van ons glo nie dat ons vet, lelik, dom en vervelig is nie?

Die sonnetjie wat die naweek hier in die Kaap begin skyn het, het my die eerste keer in ‘n baie lang tyd die deure en vensters van my huis laat oopgooi. En ek kon weer die stille vreugde van my vryheid in die sonnetjie langs my swembad waardeer. Ek het my ouers gebel en vir hulle vertel hoe ek na hulle verlang. Ek het op my tong gebyt en niks gesê toe ek by Misha, my seun, se varkhok-kamer verbystap nie. Ek het mooi musiek opgesit, diep asemgehaal, en soos ‘n voël vry oor ander se tronke gevlieg.

Ek gaan my broer sommer nou bel en sê dat ek weet dit was hy wat die Jelly Tots uit die spens gesteel het toe ek 6 was, en dat ek nou weet dat hy eintlik die oneerlike een is.