Met die afskop van Wat Mense sê het dit gevoel asof al my balle weereens gelyk in die lug was. Die TV-program, die skool en die universiteit het begin en met vroeg opstaan en laat gaan slaap is ek opnuut gedwing om myself te herinner aan die belofte wat ek aan myself gemaak het ‘n ruk gelede. Ek sal nooit weer die woorde ‘Ek’s te besig’ oor my lippe uiter nie!

In die afgelope 2 weke het ek van 2 mense gehoor wat ‘n senuwee-ineenstorting gekry het. Albei jong mense. Ek verstaan dit. Vir baie jare, veral toe my kinders in die laerskool was, het die lewe vir my heeltemal oorweldigend gevoel. Dit het net nooit gevoel asof ek voor kom nie. As enkelma het dit gevoel asof my verantwoordelikhede my verswelg het en my emosionele  uitputting het my uiteindelik in ‘n poel van skuldgevoel laat veg vir asem.

Niks was meer lekker nie. Ek kon nie verstaan hoekom ek nooit die moed gehad het om vir my kliente te sê dat ek té besig was nie maar die mense vir wie ek die heel liefste is, het dit elke dag gehoor. Die keerpunt was toe ek eendag met ‘n skok gehoor het dat my kind een van my vriendinne gebel het om te vra wanneer ek sou huistoe kom? En toe sy vra “Hoekom bel jy nie jou ma nie”, was die antwoord: “Want sy’t altyd te besig”.

Hoe dom was ek nie!

Té besig wees het my so verarm. Ek het aandetes begin kook onder 30 min, altyd dieselfde resepte oor en oor. Ek het klere begin dra wat van dieselfde 3 hangers af gekom het en die res van die goed wat ek gedra het bo gelê in die rak van my kas, maklik om raak te vat as ek aan die hol was. Ek het maande na dieselfde CD in my kar begin luister, 3 minute lank gebad, minder gelees, minder gekuier, nooit meer fliek toe gegaan nie...

Een oggend het ek wakker geword en besef dat ek só besig was dat ek al hoe minder en minder begin doen het.

Daar’s ‘n groot verskil tussen besige mense en té besige mense. Besige mense is baie interessanter as té besige mense. Té besige mense skarrel, is obsessief oor die belangrikheid van waarmee hulle besig is, luister sleg, kuier sleg en is te besig vir enigiets anders as tensy dit hulle dinge insluit.

Té besig wees is die heel beste manier om mense van jou af weg te jaag sodat jy meer tyd kan maak vir onbenullige ander nuwe ‘besighede’.

Die dinge wat my lewe werklik verryk het, kon definitief nie in my té besige lewe inpas nie. ‘n Daaglikse gesprek met my kind, tuisgemaakte lasagne, boekwinkel toe gaan, stoombad by die gym of kuier by my ouers en my vriende.

Toe ek begin fokus het om onbesiger te raak het ek een van die belangrikste lesse van my lewe geleer en dit is dat dit baie nodig is om partykeer niks te doen sodat jy iets te kan doen.

Spasie en stilte maak gesond.

Ek fokus daarop om onbesig te raak.

Onthou dat alles wat jy in jou kruiwa het, het jy self in hom gesit.

- Janie

* Deel jóú storie met Janie hier

* Lees nóg Janie-blogs