Ek kon nie uitwerk of sy van haar vakansie gehou het of sy dit gehaat het nie? Toe vra ek haar liewer hoekom hulle besluit om te gaan? Sy sê toe want haar vriendin het dit gedoen en húlle het dit so geniet.

Nee jong, jy moet weet waarvan jy hou en waarvan jy nie hou nie. Jy kan nie jou ore uitleen aan ‘n ander een se verhaal nie? Party mense wil swaar kry, ander hou van avonture, ander soek stilte en wegkom uit die stad en ander is weer obsessief oor hulle sporte, wil reis of iets nuuts leer.

En ander, soos ek, wil net lê.

Ek lees nou die dag dat depressie en selfmoord ‘n piek bereik tydens vakansies as families bymekaar is en aanhoudend in mekaar se geselskap is. Ek kan dít glo. Dis mos juis jou broer of suster se kindertjies wat so kan gil as jy wil slaap in die middag na ‘n feesmaal. En myne weer, is varke en tel nooit ‘n handdoek op nie.

Met sulke vakansies voel ek altyd dat ek ‘n vakansie nodig het na die tyd? Toe die seuns kleiner was het ek die hele vakansie in die kombuis deurgebring, en tussendeur probeer keer dat my kinders nie goed breek of ‘n nefie met ‘n ding slaan of van ‘n muur afstamp nie. My vakansie was omtrent een uur per dag, in die aande as almal slaap, net na ek die lou bad getap het, afgedroog het met my papnat handdoek en uiteindelik onder die polycotton Spiderman-duvet ingekruip het en gelees het vir ‘n rukkie.

Gelukkig leer ons. Ek het by my ma geleer. Sy was ‘n onderwyseres en het saam met ons skoolvakansie gehou. Sy sê krismis is vir familie maar wintervakansie moet die mans die pad vat en doen net wat hulle wil, sy gaan nie saam nie. Klaar!

Ek dink my ma het ‘n swart boekie waarin sy al die jag en rugbydae van my pa optel en dit dan vereffen met ‘n Kulula.com-kaartjie om vir die kleinkinders te gaan kuier in die Julie-vakansie. Dis haar vakansie, fair en square.

So, waar was ek met vakansie die jaar? By die huis. Op my bank, in my bed, in my bad en in my kombuis. Lekker! En vir geselskap het ek die buurt se bekendes gehad wat baie geduld het en altyd regstaan om vir jou ‘n lang storie te vertel. Tussen die apteek, die bottelstoor, die supermark en Bella die blomme verkoper, het ons, ons eie 7de Laan.

‘n Paar jaar gelede het ek een van die bergies oorkant die straat van my huis onder ‘n afdak en onder ‘n kombers op ‘n reënerige oggend, in die middel van die winter sien slaap. Dit breek my hart as ek die bekende gesigte so sien swaarkry, maar die oggend vra ek weer: “Wat maak jy hierso?”.
"Nee," antwoord sy, "die tyd van die jaar vat ek ‘n bietjie af en dan lê ek maar so ‘n bietjie in."

Janie du Plessis se splinternuwe TV-program, Wat mense sê, word vanaf 17 Julie op kykNET uitgesaai.

JY KAN SAAMGESELS
Wanneer? Van 17 Julie om 21:00 op kykNET.
Wat sê jy? Jy kan direk ná elke program op sarie.com, Facebook en Twitter saampraat oor die onderwerp wat Janie bespreek het.
Het jy 'n storie? Deel jou verhaal op die gespreksforum "Wat mense sê" op sarie.com