Vandag is die ergste dag in my lewe. Dit voel asof my hart met ’n baie skerp voorwerp deurboor word. My hart pyn, my bene voel onstabiel, my oë is vol trane en my hart is in ontelbare stukkies.

Dis sy begrafnis ... die liefde van my lewe.

Vandag moet ek tot siens sê aan die enigste man aan wie my hart behoort het, en hy het dit nie geweet nie. Hy was en sal altyd die liefde van my lewe bly. Ek kan byna nie in woorde beskryf hoe lief ek hom gehad het nie. My liefde was dieper as wat ’n mens se gedagtes kan dwaal en verder as wat die oog kan sien. Hy was die enigste man wat al my ingewande laat ritsel het wanneer hy om my was. My asemhaling het versnel sodat my woorde skaars my mond kon verlaat, my speeksel het opgedroog en my tong het teen my verhemelte vasgeslaan. My hart het al vinniger geklop, my oë het gestraal en my maag was vol vlinders.

En tog, met al hierdie senuweeagtige gevoelens, het ek so rustig en veilig by hom gevoel. Die donkerkop man het sy helderblou oë kon diep in my siel kyk. Sy oë kon met my praat. Sy hande het perfek in myne gepas. Sy glimlag was so helder en opgewek dat dit my oë binne sekondes kon ophelder en my bene bewend lam kon maak. My liefde vir hom is steeds so diep en opreg, maar ek het die kans van ’n leeftyd laat verbygaan deur hom nooit te sê hoe ek oor hom gevoel het nie. Ek was bang, nee, angsbevange dat as ons in ’n intieme verhouding betrokke sou raak en iets verkeerd sou gaan, ek hom dalk kon verloor.

Hy het altyd my hand geneem wanneer ons gaan stap het. Sy aanraking het my laat sweef en my hart bolmakiesie laat slaan. Sy besoeke het opwinding gebring en ek het geglimlag dat my wange eintlik gepyn het. Daar was ’n dag, ’n oomblik van swakheid ... nee, dit was een van my diepste begeertes, een van my geheime wense ... Ons het in mekaar se arms beland, ek het in sy oë verdwaal en sonder om hom te keer het ek hom toegelaat om sy lippe op myne te sit. Tyd, mense en plekke, ag sommer als het net nie meer vir my bestaan nie. Ek was op ’n sagte satynwolk. Net ek en hy. Ek het gewens die soen het nie ’n einde nie. Dit was perfek. Hy het dit nie geweet nie, maar ek was die gelukkigste vrou wanneer hy by my was.

As ek nou kon kies om hom lief te hê of om asem te haal, sou ek my laaste asem gebruik het om vir hom te sê ek het hom lief.... Tot ons weer ontmoet, het ek hom nou en vir altyd baie diep in my hart gebêre. My Superman, my Robin Hood.