My liefste Jacques, Gister in die kerk het die preek gegaan oor verhoudings. Onder meer was daar genoem dat niks in God se oë geld as mens dit nie uit liefde doen nie. Geloof kan berge verskuif,maar sonder liefde beteken dit niks nie. Ek wil vandag vir jou sê ... Ná my egskeiding was daar tye wat ek baie swaar gekry het. Ek dink jy kon dit sien en het my bly saamsleep kerk toe. Die Heilige Gees het werklik met my gewerk en ek is oor al my verwyte en seer. Ek het gister besluit om die deur agter my finaal toe te maak. As dit nie vir jou was wat my trane help afvee het nie, sou ek seker vandag nog seer gehad het. Jy het my help genees ... Toe ek en klein Boetieban uit "ons" groot gesinshuis getrek het, het ek gewonder hoe sal ons in ’n meenthuis kan aanpas. En siedaar ... daar trek jy reg langs ons in. Net vrienskap, toe bietjie meer en nou, ’n wonderlike liefde wat ek vir niks in die wêreld sal verruil nie. Oklahoma Rose-kompleks sal ek altyd met liefdevolle herinneringe in my hart dra. Ek koester die liefde tussen ons ... Dankie dat jy Ewan aanvaar soos jou eie,hom nooit stief behandel nie en vir hom al die nodige aandag en liefde gee. Hoewel sy eie "Dadda" nog leef en bitter goed is vir hom,kon ons nie vir beter as jy gevra het nie. Desember saam met jou in die Kaap was wonderlik. Dit was my tweede keer in die Kaap en ná my eerste keer het ek gesê nooit weer nie. Die weer is altyd onsmaaklik en die wind is te wild. Ek sal eendag my kinders gaan wys en dit is dit, het ek destyds gesê.My mening het totaal en al verander. Ek sal môre Kaap toe trek as ek moet. Dit was fantasties. Met jou langs my, is alles prentjiemooi ... Jy het my geleer om te waardeer. Jy het vir my gewys wat is ware liefde. Jy maak my rustig en kalm. Om net langs jou te sit, soms sonder woorde, is uitstekend. Jou teenwoordigheid en liefde rond my af. Jou afwesigheid laat my uitsien na die volgende keer wat jy by my is. Jy vul my volkome aan ... Al die klein dingetjies wat jy vir ons doen, sien ek raak. Al die mooi dinge wat jy sê, hoor ek regtig. As jy verby my loop en so ligweg aan my raak, voel ek dit tot diep binne my.Om kos te maak in die aand, is vir my so lekker. Jy eet altyd jou vingers af en ek voel soos die tweede Jamie Oliver! Ek wil jou net bederf,heeldag en aldag.Soggens as jy my in my nek soengroet terwyl ek slaap,wens ek ek kon nog net tien minute saam met jou deurbring voor ons gaan werk. Jy is so pragtig ... Snags maak ek my oë toe en dank die Liewe Vader vir jou in ons lewens. Ek glo vas Hy het jou na my gestuur. Ek sal jou oppas soos my kosbaarste besitting. Weet dat ek vandag nog meer verlief is op jou as dag een ... Ek het in my dagboek dagstukkies wat lees op 25 April (jou verjaarsdag): "They may forget what you said, but they will never forget how you made them feel." – Carol Buchner. Jy laat my voel soos die mooiste vrou in die hele wêreld. Weet vandag dat ek sonder jou sal kan aangaan, maar ek wil nie. Jacques, ek het jou waarlik lief. Altyd joune