Soggens vroeg, wanneer die ander deelnemers aan Survivor SA Santa Carolina nog slaap, staan Gys de Villiers op. Hy stap eenkant toe en gaan was hom in die see. Hy drink water. Dan doen hy 'n paar vreemde oefeninge.

Met een hand druk-druk hy vir 'n ruk op twee plekkies onder sy sleutelbeen en met die ander hand op sy naeltjie. Dan raak hy met sy regterhand aan sy linkerbeen en andersom, en marsjeer só vir omtrent 'n minuut. Nou kruis Gys sy regterenkel oor sy linkerenkel, kruis sy hande voor hom, strengel sy vingers inmekaar en draai sy gekoeksisterde, verstrengelde hande onderstebo terug sodat hulle op sy borsbeen rus. Dan sit hy met sy vingerpunte teen mekaar en sy voete plat op die grond . . .

Wat maak die man?

Met eenvoudige Brain Gym-oefeninge het Gys pas sy hart, kop en liggaam laat saamwerk en sy brein en liggaam gebalanseer. Hy is meer energiek, hy kan beter fokus en logies dink - hy is kalm. Dis eienskappe wat dié akteur nodig het op die Mosambiekse eiland Santa Carolina. Benewens 'n vervalle ou hotel is hier net sand, water, blou lug en son.

Hier is min skuiling teen die hitte en ewe min kos en water. En Survivor is 'n moeilike spel. Dis ontwerp om chaos te skep, om mense te verwar, bang te maak, om gevoelens op hol te jaag.

Maar Gys weet: Hier moet hy koelkop bly . . .

Hy het vooraf geweet dit sal hom niks baat om op Santa Carolina kop te verloor nie, vertel hy, nou terug

 

"Okkert het later gevra of ek agtergekom het dat hy my nie in die oë kon kyk nie. Hy het gesê hy kon nie na my kyk nie, want hy was bang ek neem sy krag weg." - Gys de Villiers, akteur en Survivor-deelnemer

 

by sy huis op Knysna. "Ek is 49 en was die oudste onder die 18 deelnemers. Om rustig en logies te bly het my 'n voordeel bo die ander gegee."

Gys is veral bekend vir sy rolle as dr. Zieg Combrink in Binnelanders en dr. SP de Wet Malan in 7de Laan. Hy het in 2001 die ENB Vita-toekenning gekry as beste manlike kontemporêre danser in die teaterstuk The Double Room. Sy draaiboek Suig het in 2003 die AngloGold Smeltkroes-prys vir beste Afrikaanse teks gekry, asook die Beeld Plus Aartvark-prys vir 'n baanbrekerstuk.

Daar was 'n tyd toe hy nogal kort van draad was, erken Gys.

"Ek is 'n eerlike mens, en dit het my plofbaar gemaak. In Survivor sou dit nie werk nie. Dis juis 'n spel van konflik, chaos en verandering. Dis gestruktureer om jou onkant te betrap en van stryk te bring. Die deelnemers is mense wat mekaar verkeerd kan opvryf. Om dit te hanteer moes ek kalm wees, en toeganklik bly vir verandering. Ek moes in die oomblik kon leef."

Gys se suster, Miemie Bosman, is 'n Brain Gym-konsultant.

"Ek het haar gevra om my te help om tydens Survivor kalm op situasies te reageer, nie emosioneel nie. Ek wou meer van 'n denker wees, iemand wat tot tien kan tel en nie net ontplof nie.

"Brain Gym het my beslis gehelp. Ek het regdeur die spel rustig gevoel en nooit kop verloor nie. Ek kon kalm en gefokus bly. Dit het gehelp dat ek die humor in elke situasie kon raaksien. Ek het myself besig gehou met praktiese dinge en die tyd vir myself so aangenaam moontlik gemaak.

"Omdat die oefeninge ook 'n mens se liggaam balanseer, het dit my lyf losgekry vir die inspannende goed wat ek moes doen. Ek het elke taak met oorgawe aangepak, al is my lyf soveel ouer as die ander mannetjies s'n."

Onder Gys se teenstanders onder die mans was die paalspringkampioen Okkert Brits, die komediant en akteur Louw Venter, en Darren Maule, akteur en komediant. Van die vrouedeelnemers was die TV-aanbieder Cindy Nell Roberts, die aktrise Hanna Grobler en Sade Giliberti,TV-ster en aktrise. Die reeks is sedert Januarie op M-Net te sien.

Gys het voor elke moeilike uitdaging sy Brain Gym-oefeninge gedoen.

Gys de Villiers - Survivor SA Gys de Villiers - Survivor SA
Gys de Villiers - Survivor SA

"Ek het daarvoor 'n stil plekkie gesoek, verkieslik in die skaduwee. As ek in 'n situasie beland het waarin ek gefrustreerd gevoel het, het ek die oefeninge in my kop gevisualiseer. Dit het my kalm gemaak.'n Mens se brein is 'n sterk ding."

Gys doen al agt jaar lank Brain Gym-oefeninge.

"Dit hou my rustig voor optredes en help my fokus wanneer ek my joga- en ander strekoefeninge doen voordat ek op die verhoog gaan. Dis deel van my lewe."

"Gys is nogal iemand wat 'n ou kan inklim sonder om eers te dink," vertel Miemie. "Met Brain Gym wou hy vir homself 'n paar sekondes koop. Hy wou dink voor hy reageer. Vir Survivor het hy PACE-oefeninge (sien kassie) gedoen. Dit staan vir positive, active, clear, energetic en berei 'n mens voor op enige taak."

Brain Gym is ontwerp deur die Amerikaanse opvoedkundiges Paul en Gail Dennison. Daar is 26 oefeninge wat 'n mens vir baie doelwitte kan gebruik - van die verbetering van verhoudings tot hulp met ophou rook.

1. Só het Brain Gym vir Gys gehelp

Gys de Villiers - Survivor SA

Dit het my koel en kalm gehou sodat ek nie kwaad word nie. "Op die tweede dag van Survivor het Darren (Maule) die musikant Jub Jub aangeval omdat hy water gebruik het om sy lyf en kop nat te maak, pleks daarvan om dit te drink. Dit was voordat ons in groepe ingedeel is en almal was daar.

"Mense het ongemaklik en stil geraak, of begin saamstry. Ek moes besluit of ek gaan inspring of nie. Ek kon maklik deel geword het van die bakleiery - ek was honger, warm, moeg en gefrustreerd en ons het nie geweet wat aangaan nie. Ons stresvlakke was hoog.

"Voorheen sou ek ingeklim het, kant gekies het of albei op hul plek gesit het. Maar ek het rustig gebly. Ek kon vir myself sê dis nie nodig om 'n bohaai op te skop nie, dis te vroeg om op die tweede dag al te begin diknek raak.

"Dat ek nie tóé ontplof het nie, het gehelp dat mense gemaklik geraak het in my geselskap. Ek het 'n vertroueling en bondgenoot geword. Hulle het my nie as 'n dissiplinêre vaderfiguur gesien nie. Dit het baie daartoe bygedra dat hulle my nie sommer uitgestem het nie."

 

2. Ek was nie bang nie

Gys se geheime PACE-wapen

Energetic

Die brein bestaan uit 90% water.

Drink eers water - dit help die

breinfunksie.

Clear

Verbeter bloedtoevoer na die brein,

gee energie, fokus die middel van die

liggaam en sentreer jouself.

>>Maak jou hand oop, sodat daar 'n

wye opening is tussen die duim en

voorvinger. Plaas die twee vingers in

die holtes net onder die sleutelbeen.

Plaas die ander hand op jou naeltjie.

Druk met 'n polsbeweging op dié drie

plekke. Doen dit vir 'n minuut of twee.

Active

Nou raak jy aktief met 'n oorkruisbeweging.

Dit koördineer die linkeren

regterbrein en verbeter die vloei

van inligting tussen die twee kante

van die brein.

>> Raak beurtelings met jou

linkerhand aan jou regterknie en

andersom, asof jy marsjeer. Doen dit

vir 'n minuut of twee.

Positive

Dit beskerm jou liggaamsruimte en

gee energie. Dis kalmerend, verbeter

konsentrasie en laat jou positief voel.

>> Kruis regterenkel oor linkerenkel

en koeksister-kruis hande voor

jou. Strek hande voor jou uit, met

elmboë reguit. Kruis regtergewrig

oor linkergewrig, draai handpalms

na mekaar toe, strengel vingers

inmekaar, sodat die regtergewrig

bo is, buig elmboë, draai ineengestrengelde

hande na lyf toe en laat

rus hulle, met die pinkies na onder,

op die middel van die borsbeen.

Tong rus teen jou verhemelte.

Staan vir 'n rukkie so. Sit dan jou

vingerpunte teen mekaar en voete

plat op die grond. Dit fokus die oë. Jy

voel gereed vir enigiets!

"Ek is die eerste een wat na Exile Island gestuur is. Normaalweg sou my moed in my skoene gesak het om alleen na so 'n verlate eiland te gaan. Ek is per boot soontoe, en kon sien hoe ons in 'n erge donderstorm met kwaai weerlig invaar.

"Gewoonlik sou ek nogal bang gewees het, maar omdat ek logies en kalm kon dink, was ek glad nie bang nie. Ek was eerder bly en opgewonde oor die avontuur. Hoe dikwels kry 'n mens die geleentheid om op jou eie op 'n verlate eiland te oorleef?

"Dit was 'n lang nag. Dit het onophoudelik gereën en ek het die hele nag in stikdonkerte regop in my baaibroek gesit. Ek kon nie 'n vuur maak of die bone en rys kook wat ek gehad het nie. Al wat ek gehad het om te eet was 'n kokosneut. Ek kon nie slaap nie. Dit was soos om in 'n tronk in afsondering te wees.

"Ek het Brain Gym gedoen om kalm en positief te bly. Ek het vir myself gesê: Dis 'n eiland, hier is nie wilde diere nie, ek is veilig. Om die tyd om te kry het ek Halleluja-liedjies gesing en my eenmanvertoning voorgedra. Ek het baie gedink, oor wie ek is, wat my gelukkig maak. Dit het my gehelp om myself weer te ontdek.

"Ná die tyd was ek trots daarop dat ek so rustig en logies kon wees. Ek het met nuutgevonde fokus, vol energie en positiwiteit, na my span teruggekeer. Dit het almal in die groep geïnspireer."

3. Ek het nie gegril vir die hoender se bloed nie

"Ons span het twee hoenders gewen. Sade het gesê sy het by haar ouma geleer hoe om 'n hoender se kop af te kap - en sy het dit gedoen. As die oefeninge my nie gehelp het om kalm en logies te bly nie, sou ek ook seker, soos van die ander, gegril het.

"Ek het egter die hoender oopgesny, skoongemaak en die vere gepluk. Ek het besef ek moet - dis ons kos, ons moes eet.

"Daarna kon 'n lid van die ander span iets by ons kom vat, soos ons pot of ons mes, wat ons weggesteek het. Ook die hoenders moes weggesteek word. Ek het die een hoender bedank dat hy sy lewe vir ons gee, sy nek omgedraai en hom in 'n boom opgehang. Ek kon dit net doen omdat Brain Gym my logies daaroor laat dink het, nie emosioneel nie.

"Daarna het ek die hoender vir die man aangebied, en saam met hom na sy span toe gegaan waar ek hulle gehelp het om dit op te eet. Dit het ons span sterker gemaak dat ons die pot en mes kon behou."

4. Dit het my sterk gemaak

"Een keer moes ons watersokker speel met yslike houtballe in kniediep-water. Dit was moeilik - fisiek en emosioneel. Ons moes teen ons voormalige spanlede speel, met wie ons teen daardie tyd al sterk bande gevorm het.

"My teenstander was Okkert, wat soos 'n reus lyk teen my. Hy is nie net ongelooflik lank nie, maar ook 13 jaar jonger as ek, en seker 180 000% sterker! Dit het baie van my geverg om teen hom te speel.

"Pleks van moed opgee en dink ek kan dit nie doen nie, kon ek kalm bly. Ek het diep gegrawe in my psige, logies gedink - en Okkert opdraande gegee. My balans het my gehelp om gefokus te bly.

"Okkert het later gevra of ek agtergekom het dat hy my nie in die oë kon kyk nie. Hy het gesê hy kon nie na my kyk nie, want hy was bang ek neem sy krag weg."