Manlief, hartedief, pappa-lief ... Ek lê op my bed en dink terug aan die dag toe ons ewig trou aan mekaar beloof het. Negentien jaar wat in ’n oogwink verbygevlieg het. En dit voel soos gister. Dit was die begin van ’n wonderlike reis, ’n reis wat ons vir die res van ons lewe gaan saamneem en voltooi. Ons reis saam, eet saam, fliek saam, lag saam, huil saam, beplan saam, shop saam, baklei saam en die belangrikste, ons bid saam. Jy is God se geskenk aan my, die perfekte maat, eggenoot en pa. Jy is die een wat my vrese en behoeftes ken en verstaan, jy gee my moed, jy troos my, jy bederf my en jy liefkoos my. Daar is min huweliksmaats soos jy. Dankie dat jy altyd daar is vir my. Dankie dat jy jý is én die regte maat vir my. Ek wil jou ook bederf, jou hart oppas en vertroetel. As die lewe druk, wil ek daar wees om jou te help terugdruk. Die Bybel sê : “Twee is beter as een. As die een val, kan die ander een hom ophelp ...” Ek wens jy was hier sodat ek jou kon vashou. Hoe langer jy weg is my, hoe meer verlang ek om weer saam met jou te wees, maar dit is alles deel God se plan en ons wonderlike reis saam. Wanneer ek aan jou dink, alles wat ons deel en saam meegemaak het en dit wat nog vir ons voorlê, besef ek hoe baie ek daarna uitsien om die res van my lewe met jou te deel. Jou reismaat, sielsmaat en lewensmaat