Aan my liefste Stelletjie op Valentynsdag

Adam se verlange was gestil toe hy wakker word en sien dat God Eva vir hom gemaak het. Met my was dit anders. Jy het in opgevoude vlerke, soos ’n groot geskenk voor my kom verskyn, en toe jy daardie vlerke oopsprei,sien ek ’n onbeskryflike juweel uit die fynste goud gevorm. Onbeskryflik mooi. Jou oë het soos diamante geglinster, en jou glimlag het vure in my binneste wakker gemaak. Meer nog, my asem was weggeslaan en hartkloppings was my voorland. Hemel het ’n nuwe betekenis gekry en ek is teruggevoer na die begin toe, na die diepste dele van Adam se tuin.

Dit was ons troudag. Ek onthou dit goed. Daar was nog nooit, en daar sal nooit weer ’n bruid wees wat so perfek was nie. Jy was en bly uniek. Jy is my eie engel, my Stelletjie ... iemand met wie ek die wêreld met vertroue kan binnevaar. Hulle het my vertel dat daar sowat tweehonderd gaste by daardie geleentheid was, ook ’n sangeres wat “Debbie” gesing het. Ek wonder tot nou toe hoekom ek net hemelse kore gehoor het, en onder die indruk was dat net ek en jy daar was.

Dit het skielik nag geword, passie het die plek van bewondering en drome ingeneem ... voel die plek van sien, die vlees het ’n ander dimensie aangeneem ... Ontploffings, vuurweeke, engele, hemele. Ware geluk aangebring deur ’n kombinasie van siel, gees en liggaam, wat so pas my vrou geword het.My vrou, my lewe, my toekoms!

Nie lank daarna nie het jy geboorte gegee aan Zelda, en ons was drie. Die liefde het gehou, en ná haar geboorte het jy mooier geword.Jou rondings het ronder en sagter geword, die diamante in jou oë het aanhou vonkel, en ons wonderlike Eden was nooit te ver weg nie.

Michelle is gebore en ons was voltallig. Ek dink soms dis snaaks dat God, wie hemel en aarde geskape het, ook twee van elke lewende wese ark toe gestuur het, maar tog net een Stelletjie gemaak het. Ek is so bevoorreg en het jou so baie lief!

En wat is liefde sonder rose, jou geliefkoosde blom? Orals waar ek alleen in hierdie wêreld rondgereis het, was ek gedurig op soek na rose omdat hulle jou op ’n manier nader aan my gebring het. Die geure, sagtheid en mooiheid het jou altyd in my gedagtes laat leef. Jy was daar naby met die rose deurmekaar, naby met jou eie unieke onverklaarbare eie mooiheid ... roosmooi!Die myle het minder geword en ek was versterk.

Dis Valentynsdag en jy het vanjaar 62 jaar oud geword. Die tuin is nog daar, maar die slang besoek nie meer so gereeld soos voorheen nie. Hy het seker die boodskap begin snap. Met alles wat hy aangevang het, kon hy ons liefde vir mekaar nooit knak nie. Ek sien ook jou vlerke het ’n paar vere verloor. Ek sien jou rondings is nie meer so rond nie, maar die vonkel in jou oë bekoor nog steeds.

Weet jy Stelletjie, hulle sê daar is baie soorte liefdes, en ons het sekerlik almal beleef, maar ek wil jou op hierdie spesiale dag vertel dat ek in jou ’n ander soort liefde ontdek het wat meer betekenisvol is as al die ander saam, meer as al die rooi rose in die hele wye wereld!Dis asof begrip ontbreek, en dit is moeilik om te verduidelik ... hoe om ’n onverstaanbare gevoel in woorde te omskep. Die wete dat twee liefdes een geword het, is verseker, maar jou helfte bly altyd vir my ’n klein misterie. Ek weet egter bo alle twyfel dat die misterie goed is, dat dit deel van ons toekoms is, en dat dit ook die sement is wat ons vas aan mekaar bind totdat ons eendag finaal ons eie tuin sal betree!

Dankie Stelletjie, dat jy my van die begin af liefgehad het.

Lief jou altyd

Kermies