Vlieërski sonder ophou
Fotograaf Santjie Viljoen (29) was nog altyd mal oor branderplankry, maar nadat sy twee jaar gelede in Australië leer vlieërski (kite surf) het, durf sy gereeld die Kaapse Suidoos met haar vlieërski aan. (Haar suster katie, 24, ook deur dié gogga gebyt, sê tussendeur háár sê.) Santjie & Katie.
Hoekom ek vlieërski
“Die see het my nog altyd gelok. Ons het kleintyd vier jaar saam met ons ouers om die wêreld geseil. Die vryheid van daardie jare kry ek net in die water - niks hou jou vas nie, niemand vra iets van jou nie. Jy is net jouself. Dis eenvoud. Daar’s nie die kompleksiteite van werk en die stadslewe nie.”
Katie: “Dis soos ’n reset-knoppie: Jou kop is skoon as jy uit die water stap. Jy weet skaars jy doen oefening.” Hoe dit voel
“Verfrissend! En daar’s hope adrenalien . . . jy kan seerkry as jy nie weet wat jy doen nie. Jy moet kophou. Sondag was ek vyf ure op see - dis so lekker, ek kon nie ophou nie. Dis ’n thrill, veral as jy moeilike spronge regkry en begin beter raak as van die mans! Ek hou van die onvoorspelbaarheid. Jy kan nie bewegings vooruit beplan nie, jy maak staat op instink.”
Katie: “Ek verkies vooruitbeplanning, maar dit doen my goed om bietjie te laat gaan!” Uitdagings
“Ek het dit eintlik maklik aangeleer. Alles het van die begin af sin gemaak, ek het tuis gevoel. Maar ek het al mense help leer wat bang was daarvoor, dit was nie in hul aard nie. Ek was nog nooit bang nie. Jy moet leer om ’n ding vir jouself uit te werk.”
Katie: “Ek moes eers daaraan gewoond raak om die vlieër te beheer - daar’s groot kragte ter sprake.” Wat dit vir my beteken
“Mense raak soms vasgevang in ’n lewe agter hekke en vergeet waaroor dit eintlik gaan. Vlieërski laat jou oor jou vrese kom. Ons seiljag-ervarings het my geleer dat materiële dinge nie belangrik is nie, eerder ervarings, om aan jouself as mens te bou, sterker te word, op jou goeie eienskappe te fokus en te werk aan die slegtes.”
Katie: “Dis net jy wat jouself uit ’n moeilike situasie kan kry. Jy leer elke dag iets van jouself op die water. En jy maak wonderlike vriende as jy so iets saam doen.” Wat ek nou weet
"Natuurlik wil ek ook settle, trou en kinders hê. My man sal net moet branderplankry en vlieërski, en ons kinders sal gou seilplanke kry! Ek’t ’n werkaanbod op ’n seiljag van die hand gewys en vestig my nou as fotograaf. Balans is belangrik. Kom uit by alle aspekte van jou menswees. My avontuurlus word bevredig, maar ek maak ook tyd vir liefdes soos kuns en fotografie." Katie: "As jy kan vlieërski, kan jy ander dinge ook hanteer. Jy leer deursettingvermoë en om vas te byt in moeilike tye. Dis goed vir die gees - op enige ouderdom (ek het al gesien hoe ’n 70-jarige dit doen) en as jy lus is vir vernuwing. Raak net vooraf fiks."

Rotsklim - hoe hoër, hoe beter

Avonturier Rachel Kelsey Colenso (39) se passie is rotsklim. Ná 14 jaar se ekspedisies en uitdagings regoor die wêreld is sy permanent terug in SA, met ’n eerste boek: In a High and Desperate Place (Aardvark Press, R125). Tot einde Desember (2008) stap sy twee keer per week met haar baba, Rosemarie Acasia (15 maande), op die rug oor ál die pieke tussen Kaappunt en Tafelberg - ten bate van die Door of Hope-projek vir weggooi-babas in Gauteng. ’n Vriendin en haar baba stap saam.   Rachel.
  Hoekom ek klim
“Ek was gek na rotsklim van die eerste oomblik toe ek op 20 die Spitzkoppe in Namibië uit is. Dit was afgeleë en opwindend. Ek geniet dit om te sien ek kan oorleef in moeilike situasies, maar dit gaan nie oor die adrenalien nie. Ek is mal oor die natuur, ek is so te sê in die buitelug grootgemaak. Ons het kleintyd op safari gegaan na ongelooflike plekke en elke park in ons land besoek.”
  Hoe dit voel
“Jy voel lewendig, met die vryheid van die natuur om jou. Jy kan soms nie glo wat jy beleef nie - van gevriesde watervalle tot fabelagtige sonsondergange. Terselfdertyd verg dit baie vaardigheid en ervaring. Dis ’n mengsel van dae lank uitgeput wees en van fantasties voel, veral as jy jou doelwit bereik. Dis bevredigend, want jy kan op ’n kaart op jou spore teruggaan. Saam klim is ook ’n wonderlike manier om ware vriendskappe te smee.”
  Uitdagings
“My boek gaan oor die heel grote - toe ’n angswekkende storm in 2004 op ’n klim-ekspedisie saam met Jeremy Colenso (nou my man) op die berg Piz Badile in die Italiaanse Alpe byna ons lewens gekos het. En dan om my broer, Julian, se dood te verwerk. Ons was baie geheg aan mekaar. Hy is vyftien jaar gelede in ’n motorongeluk oorlede. Ek was terselfdertyd in ’n ligte klimongeluk. Ek was ’n week buite aksie en kon regtig nadink oor my lewe. Ek het besef ek moet hierdie verskriklike ding omswaai en fokus op iets goeds. Ek het toe deelgeneem aan die SA rotsklim-kampioenskapsbyeenkoms - en gewen. Op ’n positiewe manier kon ek sy nagedagtenis lewend hou. Ek het besef ek kan sulke doelwitte bereik. As jy eers begin wen, kom soek nuwe uitdagings jou op.”   Wat dit vir my beteken "Jy kan geestelik en fisiek baie langer aanhou as wat jy ooit gedink het moontlik is. Ons het almal baie meer in onsself as wat ons glo. Die wete dat jy enigiets kan aanpak - jy het die vermoë, jy moet net jou kop fokus, reg voorberei en glo jy kan - dit het my as ’n mens verander. Spanwerk is van kardinale belang. En om ’n spanleier te wees. Dis nogal ’n diepgaande ondervinding as iets skeef loop in die middel van ’n woud en jy moet alleen besluit: Hoe nou? As jy te staan kom teen iets wat groter as jy is, tree terug en doen vir ’n oomblik absoluut niks. Doen dan die volgende taak op hande. Benader dit stap vir stap - klein happies. Dit werk, of jy nou aan ’n rotswand hang, op ’n uithou-ekspedisie is of tuis ’n probleem het.”   Wat ek nou weet
"Kinders is geskenke wat jy moet koester. Die natuur is selfs meer asembenemend van naderby as op groot skaal. Die getroude lewe is nie gevestig en saai soos ek gedink het nie! Julle kan saam drome werklikheid laat word. Ek en Jeremy klim steeds, maar binne realistiese grense. Ons wil uitdagings met Rosemarie, ons dogtertjie, deel. Met rotsklim kan jy nie aannames maak nie - dit kan jou ’n ledemaat of jou lewe kos. Aannames lei tot foute. Kommunikasie is noodsaaklik - op elke vlak van die lewe. Jy hoef nie fisiek uitdagende dinge aan te pak om jou gemaksone te toets nie. Mense blink op verskillende gebiede uit. As jy jouself net effens in jóú veld druk, kan jy die “uitsig” aan die ander kant sien. Nuwe voetpaaie is opwindend.   Vir meer: www.mountainsofhope.org.za.

Van bootcamp tot fietsry
Nadene Booth van Gauteng is altyd op soek na nuwe avonture. Dié 31-jarige produksiebestuurder van M-Net noem nonchalant ’n paar goed wat sy al kafgedraf het: ’n 24 uur lange bergfietswedren (sy en haar maat het gewen), bootcamp (die gevorderde weergawe), kloofing, duik, river rafting, paintball . . . en nou soek sy wéér na iets opwindends . . .
Van bootcamp tot bergfietse.
Hoekom ek dit doen
“Ek is ’n Ram: Ek hou van avontuurlike, mal dinge. Die bergfietswedren was omdat ek my beperkinge wou toets. Soms moet jy ongewone goed doen om uit die boks te kom. Ons bevind ons mos maar almal gou in boksies. Bootcamp was weer my lus vir die ekstreme - om te kyk waartoe my liggaam in staat is.” Meer oor bootcamp
“Jy kry kampe vir beginners. Ek het die gevorderde weergawe gedoen. Elke vrou is daar met ’n doel: om iets te bereik met haar liggaam, vir motivering of om haar kop skoon te kry. Dis soos ’n weermagkamp - soggens word jy sesuur wakker gemaak en dan begin jou dag: draf, groepoefeninge, werk met gewigte, sport en hindernisse waar die drilsersant jou gal werk. Die tweede dag is moeiliker. Dag drie oefen jy totdat jy byna omval. (Jy kry ook min slaap daardie dag.) Dag vier is weer rustiger. En dan hou julle ’n groot partytjie! Jy eet deurentyd gesonde kos, dit gaan daaroor om jou liggaam die regte brandstof te gee. Dis baie mededingend.” Wat dit aan jou kop doen
“Dit maak jou psige sterk. Dit druk jou om te wys waartoe jy in staat is. Op die bootcamp was die drilsersant die katalisator. Maar dis baie positief, dis nie afbrekend nie. Jy wil hom amper soen as jy sien wat jy bereik het. Jy voel ongelooflik goed ná so iets, ek het gevoel ek kan die wêreld oorwin. Jy is lus vir die lewe. En dit gee jou moed, want ’n mens raak mos maar moeg by tye. Dit laat jou gees, jou hart en siel weer lewendig voel.” Wat ek van myself geleer het
“Ek is nie iemand vir verveling nie, ek hou van stimulasie. Ek kan my nie net op een ding toespits nie. Jy leer baie van jouself: waartoe jy in staat is, en ook waartoe nié. Daar is beperkinge. Ek sal nie weer van ’n 20 meter hoë krans afspring nie. Soms as ek mal is oor ’n sport, soos bergfietsry, gaan ek oorboord en brand myself byna uit. Ek werk nou aan balans - ek doen ook Bikram-joga.”
Wat ek nou weet
"Sport praat met my hart. Kies iets wat met jóú hart praat en jou lewendig laat voel. As dit is om ’n boek te lees, doen dit! Maar probeer soms die ongewone, dis goed vir die gees. Ek is nie vreesloos nie. Ek raak kalmer. Hoe ouer jy word, hoe wyser raak jy. Ek is baie mededingend, selfs met Monopoly! Dis lekker om myself teen ander te toets. Wat jy ook al aanpak: Dit is belangrik dat dit pret moet wees."