Ek sit nog half verslae voor my rekenaar en flitse van vanoggend se gebeure skiet deur my gedagtes – ’n weerlose dogtertjie van bietjie ouer as twee, met arms vasgeklem om haar pa se nek waar sy veilig voel en niemand haar kan seermaak nie. Maar ’n onbekende plek met onbekende mense wag. Ja, dis die eerste dag by haar kleuterskool. Sou dit nie beter wees om haar maar weer huis toe te vat nie – na haar veilige hawe nie? Maar ek weet dis vir haar eie beswil. Wat sou gebeur het as my ouers my by die huis gehou het? Maar meer nog: wat sou gebeur as God ons heeltyd in ’n veilige plek moes toesluit weg van die gevare wat die wêreld inhou? Maar natuurlik weet Hy ons moet die wêreld ingaan en sy Lig skyn waar daar duisternis is. Ek klim vandag uit my bootjie en gaan die wêreld tegemoet, want God voorsien die veiligheid en gemoedsrus vir my, my kind én vir my ouers. Ludi Hattingh, Pretoria