Ek hoor sagte bekende geluide uit die kombuis. Die horlosie sê dis drie-uur. Ek trek my pantoffels en kamerjas aan. In die kombuisdeur vra ek saggies: “Maak nog ’n koppie, asseblief.” Ons sit op die stoep, elkeen met ’n kombers teen die nagkoue. In die maanlose hemel knipoog die sterre skitterblink. Ná ’n leeftyd saam is woorde oorbodig. Soos in antwoord op my woordelose gebed vir my kinders, kleinkinders en geliefdes verskiet ’n ster. Ek kyk op, diep in die oneindigheid in en weet dat wat ook al gebeur, daar is ’n Hoërhand wat alles beheer. Ons hoef nie te vrees nie. Hy is daar.
My maat vat aan my hand. “Kom, dit word koud.” Diep in my lê die wete: Dis koestertyd, kosbaartyd wat aan ons gegee is. Marietta de Beer, Stilbaai