Ek was 18 jaar, jy was 26 jaar. Ek het gewerk as verpleegster (my eerste werk), terwyl jy al ’n hele paar jaar gewerk het en meer lewenservaring gehad het. Verpletterde jý het jouself by die hospitaal kom aanmeld, op aanbeveling van jou dokter, vir behandeling van ’n peptiese ulkus. Met woede, wroeging, pyn in jou hart, het jy al wat vroumens is, verwens: die meisies in jou lewe, jou ma, vriendinne en sommer vreemdes ook. Jy wou net wegkom van dit alles, van hulle almal. Jy was stukkend en rou, emosioneel en liggaamlik. Jou innige gebed op daardie oggend voor die hospitaal was: “Here stúúr vir my ’n vrou met wie ek my lewe kan deel.” Jy was van die eerste oomblik af seker. Ek weer, het met tyd in die liefde ingegroei. Jou hande egter, het my bekoor. Daar in die hospitaal tydens jou opname waar jy my twee hande met jou een groot pragtige hand vasgehou het en daarop aangedring het om te weet wat my naam is. Dit is die mooiste hande wat ek nog aan ’n man gesien het. Iewers oor ’n radio het “Some Enchanted Evening” gespeel. Die blydskap in jou oë elke keer wanneer ek aan diens gekom het, kon ek nie miskyk nie, maar ek het dit nie dadelik ontleed nie, net diep in my hart gebêre. Jy het my verras met sjokolade en die aand toe ek dit oopmaak en daarvan eet, het ek ernstig begin dink oor hierdie aantreklike man, hierdie Casanova, hierdie ware heer. Wat was sy bedoelings met my, het ek gewonder. Ek het besef dat ek van jou begin hou. Die gedagte was so spesiaal dat ek dit net in my hart wou vertroetel en nog nie daaroor wou praat nie. Van toe af is ons altyd saam. Ons het ook alles saam gedoen. Toe het ek geweet dat ek my lewe saam met jou wil deel. Vir 20 jaar nou al stort ons ons harte uit op twee baie spesiale Valentynskaartjies. Die opgewondenheid, die misterie, die boodskappies, die wegsteek van die kaartjies vir mekaar tot Valentynsdag is kosbaar. Die wonderlike ontdekking dat ons steeds verlief is op mekaar as ons elkeen ’n stil hoekie opsoek en ons kaartjies van voor tot agter deurlees, twintig jaar se mini-minnebriewe. Wat ’n spesiale lekkerte! Ons 40ste huweliksherdenking het ons op die MSC Melody gevier op die Valentynsvaart na die Portugese eilande. En natuurlik het ons elkeen die ander een se Valentynskaartjie saamgesmokkel! Hoe dan nou anders? Op die skip het ons ’n bietjie Italiaans geleer, en so onder jou neus en met die hulp van die instruktrise het ek vir jou ’n Valentynboodskap in Italiaans geskryf! Die verrassing in jou oë het dit die moeite werd gemaak. Jou boodskap aan my was net so sielvol en innig. Ná al die jare van werk, studies, kinders grootmaak, kleinkinders geniet, is dit net jy en ek wat oorbly. En ek is baie dankbaar dat ons deur die jare nader aan mekaar gegroei het. Ek is so dankbaar dat ons kan terugkyk op ons lewens en weet dat alles wat gebeur het, presies so moes wees, al het ons dit nie altyd verstaan nie. Die aanslae van die lewe het ons gebrei en sterk gemaak en ek sou dit nie anders wou hê nie. Een-en-veertig jaar het ons huwelik al verjaar. Ná vele sakke sout, letterlik en figuurlik, wil ek my steeds net by jou skaar. Ons het gelewe, ons toetse geslaag, en heel anderkant uitgekom. Ons het die kaf van die koring geskei. Ons het ook gemor omdat die lewe jou eers die toets gee, en dan die les, en dit dan herhaal totdat jy die les geleer het. Elkeen van ons wou die ander een verander, soos ons wou hê hy of sy moet wees. Ons het koppe gestamp, skeefgetrek, ruwe rande met pyn en lyding gladgeskuur en uiteindelik ineengevloei en mekaar aanvaar nes ons is. Jy slaap netjies, ek slaap deurmekaar. Jy kry warm, ek kry koud, maar ná vele jare kry ék warm en kry jy koud. Ons het mekaar bygestaan deur dik en dun, siekte en welstand, voorspoed en teenspoed, suksesse en “flops”. En weet jy, daar is altyd balans in die lewe. Wat sou gebeur het as ons albei gelyk siek was? Die gedagte daaraan laat my bewe. Wanneer ek siek was, het jy my versorg met teerheid en liefde. Dan, op ’n volgende keer was dit weer my beurt om dieselfde aan jou te doen. As ek knorrig was, het jy my ruimte gegee. En as jy seergekry het, het ek jou getroos. Ek sien baie uit na ons goue jare saam! Jou enigste liefling vir altyd.