My liefste een

Ek deel nog ’n Valentynsdag met jóú in my hart, in my siel. Jý ... nog steeds oral om my. Ons sewentiende een, maar steeds so spesiaal soos die eerste. Niks fênsy nie, niks opgesmuk nie, net ek en jy en die klop van ons harte as getuie van ons gevoelens vir mekaar.

Ek dink terug aan die jare wat verby is en ek herleef die lesse wat ons saam geleer het. Hoe ons mekaar beter leer ken het en eers jare later mekaar regtig begin verstaan het.

Geen ver reise sy aan sy nie, geen oorsese herinneringe nie, geen rykdom of luukshede nie - net doodgewoon ’n lewe saam met jou. Daar is liedjies wat my aan jou laat dink. Liedjies wat jy in vervloeë dae vir my oor die telefoon gespeel het en waarna ek in verwondering kon luister.

“Jy’s vir my soos blomme, ’n lelie van die veld ...” (Bles Bridges) – onthou jy nog? Daar’s ’n Engelse een waarvan die woorde lui dat jy my een groot sonde is – en jy ís!

Die kyk in jou oë oor die breedte van ’n vertrek as ons iets spesiaals saam onthou, die wuif van jou hand as jy vertrek en ek moet agterbly, die guitigheid en opwinding van ’n skelm glimlag as ek langs jou in ’n ander motor ry – die vlinders in my maag wat ek vandag nog kry. Ek haal die herinneringe uit en stof dit af – die onthou van gister en die drome oor môre – die drome sáám met jou, óór jou, oor óns.

Jy is van lankal af my redding, my rots, my realiteit ... my waarheid. Jy het gekom saam met die seer van ’n ander leeftyd. Jy het dit kom heelmaak. My daar kom haal en my hart se stukkies aanmekaar gesit. My weer gewys om lief te hê, om te vertrou.

Uit die herinnering-tas kom een uit ons jonger dae, met bottels sjampanje en Engelbert Humperdink se musiek – ons liggame vol passie en harte vol liefde net vir mekaar – ’n wêreld daarbuite wat moes bestaan sonder ons...

Jy, Buks, het my kinders joune gemaak. Hulle vir jou gevat soos wat geen ander “stiefpa” jou sou kon nadoen nie.

Tussen die herinneringe van gister ontdek ek ons swaar tye, die nagte in die gang of die sitkamer oor bekommernisse van môre. Daar waar ek jou altyd gekry het en waar jy skielik alles kon beter maak. Jy kon net jou arms om my sit en my bekommernisse joune maak. Selfs in die tye wat jy nie antwoorde of raad gehad het nie. Ek skuil vandag nog in die gerusstelling van jou hart en jou siel ... en jou arms. Ek voel veilig en geborge by jou.

Jy, amper ’n leeftyd verder, bly jy steeds my held, my beter gedeelte, my droomman ...my groter as ekself. Dis jou lyf wat ek mis as ek alleen moet gaan lê, die lawwe gegiggel laataand as die ligte af is en ons dink die kinders slaap ...

Dis jou reuk hier naby my as ons lepellê, dis jou naam op my telefoonskermpie, en jou verdraagsaamheid oor my sepiekykery, my koffiedrinkery saam met ’n vriendin. Dis die goed wat jy my gun, maar ook jou liefde daarmee saam. Die grootste geskenk van dit alles was nog altyd jou liefde.

Dankie dat jy my die eer aandoen om my man te wees...

Vir altyd