"Ek merk vanoggend op die bottel parfuum wat ek sowat ’n jaar gelede met ’n brief in SARIE se Junie 2011-uitgawe gewen het, is halfpad. Sedertdien was daar voorwaar nie baie tyd om aan smuk te bestee nie. My wildste drome sou my nie kon voorberei op wat die jaar sou oplewer nie!

Die wenbrief getiteld ‘Surrogaat-engel’ was oor ons besluit om ’n surrogaatmoeder te gebruik weens die chroniese outo-immuunsiekte [veelvuldige sklerose] waaraan ek ly, asook drie mislukte IVF-pogings [in vitro-fertilisasie/bevrugting].

Die hormoonstimulasies het nie goeie eierselle opgelewer nie, en herhaalde hormoontoetse het getoon dat ek in my vroeë menopouse is – dus was swangerskap finaal nie meer moontlik vir my en my man, Wimpie Odendaal, nie. Verbysterend.

Die brief was deel van my besinning oor kinderloosheid.

In die eerste maand ná ons ‘ontslag’ uit die fertiliteitskliniek het ek nie gemenstrueer nie. Ek het ’n bloedmonster vir swangerskap laat neem, maar dit was negatief. Die werklikheid van menopouse op 37 ?en kinderloosheid het my nou soos die spreekwoordelike skoot yswater? in die gesig getref, maar die lewe ?moes voortgaan . . .

Ek het maar besluit om weer voort te gaan met my chroniese medikasie –? inspuitings drie keer per week.

Ek moes die inspuitings eers staak tydens die vrugbaarheidsbehandeling omdat dit potensieel baie skadelik vir embrios of fetusse kan wees.

Ná die tweede maand dat ek nie gemenstrueer het nie, het ek al hoe meer vrede gemaak met ons situasie –?ek is in my menopouse. Sonder kinders. Dit was finaal. Ek het probeer om myself emosioneel af te sluit as ek hoor van nog vriende en kennisse wat swanger is met hul eerste, tweede of selfs derde kind, al was ek tog opgewonde om hul onthalwe.

Ek het probeer om myself te troos dat my gesondheid dalk nie ’n swangerskap of baba kon deurstaan nie, en dat dit dalk maar so bestem is. Maar onder al hierdie verskonings was daar ’n diepe hartseer oor die finaliteit van alles vir my en Wimpie. Ek het my vriendinne met kinders gesmeek om my ook te nooi na hul kinderpartytjies en my nie uit te sluit omdat ek nie ’n kind het nie, net sodat ek dit darem ook kan beleef.

Dan was daar nog die warm gloede snags – wát ’n onwelkome verrassing by dit alles!

Ná ’n terloopse opmerking oor naarheid een Maandagoggend het Wimpie my oorreed om vir ’n tweede swangerskaptoets te gaan. Hy het verskoning gemaak vir die ‘wrede’ voorstel; daar was mos wetenskaplik geen sin om weer getoets te word en so nog ’n keer deur die pyn te gaan van ’n toets wat negatief is nie!

Maar die urien-swangerskaptoets wat ek in teetyd by die werk gedoen het, het twee duidelike strepe gewys! Ek het vervaard na die vervaldatum op die toets gesoek – dié een moes sweerlik lankal reeds verval het en onakkuraat wees. Die klein badkamer se vloer het onder my weggetuimel ?en die plafon het gedraai. Ek het? nie geweet of ek bly of vreesbevange moes wees nie.

Dit was mos nou glad nie moontlik nie . . . en wat van al die gevaarlike medikasie wat ek reeds in die laaste paar weke ingespuit het? As daar dan ’n baba is, is hy seker nie meer lewend nie. Die gevoel was surrealisties en onwerklik ná die emosioneel intense tyd van vrede maak en besin.

My ginekoloog kon my wonder bo wonder gou oor middagete inpas. Twee mense het ongeduldig vir my getoet op pad na die dokter toe weens my gebrekkige bestuursvermoë!

Dit blyk toe dat die eerste bloedtoets wat gedoen is om ’n duistere rede vals negatief was en dat ek meer as agt weke swanger is!

Dit was ’n babaseun met ’n sterk hartklop – ten spyte van die sterk medikasie wat ek gebruik het. Die warm gloede is veroorsaak deur die verhoogde produksie van progesteroon tydens swangerskap en nie weens die menopouse nie.

My hele swangerskap was maar spanningsvol met die vrees dat iets wel dalk verkeerd kan loop.

Die wonderwerkie van God is in Januarie 2012 gebore met die blouste blou hemel-ogies wat jy jou kan voorstel. Tot op hede is my gesondheid ook op wonderbaarlike wyse gespaar.

Christiaan is waarlik ’n volmaakte klein engel in lewende lywe, vanuit die hemel vir ons afgelaai.
Daar sit nie eens ’n merkie waar sy vlerkies afgebreek het nie!"

CHRISTA SE OORSPRONKLIKE WENBRIEF, JUNIE 2011

Surrogaat-engel

Jul artikel oor die surrogaatma (April 2011) was insiggewend en baie positief. Dis ’n ongemaklike onderwerp om in ’n geselskap aan te roer?en aan te kondig dat jy en jou man ’n surrogaat moet gebruik om ’n baba van jul eie te hê.

Die stilte daarna is gewoonlik tasbaar. Is dit kritiek? Openlike afkeur selfs? Vrae wat jy jouself honderd keer afgevra het, hang in die lug: “Doen?jy die regte ding? Sal jy die regte persoon vind?”

Dan besef jy een Maandagoggend in spitsverkeer dis jul enigste kans?op ’n eie kindjie!

Ek en my man moes ’n jaar gelede hierdie besluit neem. Weens ’n chroniese siekte kan ek nie self ’n baba dra nie. Ons surrogaatma is gestuur soos ’n engel uit die hemel. Ons eerste drie pogings was onsuksesvol, en sy was elke keer ewe verpletter. Daar’s baie vrae en vertwyfeling.

Die boodskap is egter duidelik: Al lyk als perfek onder die mikroskoop,?is daar ’n Hoër Hand wat hieroor besluit.

Surrogaatskap is ’n emosionele en komplekse onderneming. Al die partye is onder geweldige emosionele en sielkundige stremming.

Al wat ons nodig het, is empatie en ondersteuning vir die oomblik!

- Christa de Wit, Melkbosstrand

* FOTO'S: Heidi Boonzaaier. Besoek portraiturebyheidi.com of kontak Heidi by portaiturebyheidi@gmail.com