Ná 22 maande het sy in Junie verlede jaar haar doelgewig bereik. Sy het 73,3 kg verloor en slegs 63,5 kg geweeg. Sy is aangewys as Weigh-Less se Vroueverslanker van die Jaar en het sedertdien ’n pos as distriksbestuurder by dié organisasie aanvaar. Sy het intussen nog 3 kg verloor.

Vandag lei sy ’n vol lewe saam met haar man, Bill, ’n elektroniese ingenieur, en haar kinders, Caylee (25) en John-Ross (23).

Barbara Hynds 73,3 kg swaarder

(Foto: Barbara vóór sy 73,3 kg verloor het)

AAKLIGE GEHEIM

“My ma, Amber, ’n verpleegsuster, het altyd gesorg dat sy gesonde kos vir my en my ouboet, Chris, en my pa, Douglas, maak. Maar as tiener het ek vet geword omdat ek saam met my vriendinne begin peusel het aan gemorskos. Ek het kitsdiëte ontdek en my gewig was soos ’n klimtol.

Ek was nie oorgewig in matriek nie, maar tussen 17 en 22, toe ek getroud is, het ek die dieetsiekte bulimie ontwikkel. Dit was ’n aaklige geheim waarmee ek geworstel het.”

BOSE KRINGLOOP

“Ná my kinders se geboorte was bulimie steeds my manier om my gewig te beheer. Teen 29 het ek myself uiteindelik toegelaat om te eet wat ek wil. Geleidelik het ek tot 136 kg gestoel. ’n Mens maak grappies, maar binne-in huil jy. My verhouding met my man het verswak. Ek wou nie meer sosiaal wees nie, want ek was skaam. Ek kon nie meer mooi klere kry vir my logge lyf nie. Ek was gedurig moeg . . .”

OOMBLIK VAN WAARHEID

“Drie jaar gelede het ek besef my kinders gaan trou, ek gaan eendag ouma word. En ek wou gesond wees en daar wees vir hulle. Ek moes iets anders doen as tevore. Toe stap ek by Weigh-Less in en volg letterlik week ná week hul program.

“Ek kon nie bekostig om op lang termyn te dink aan al die gewig wat ek moes verloor nie. Dít sou te oorweldigend wees. Dit was soms baie moeilik, want in dieselfde tyd moes ons nog my man se afdanking hanteer. Die geldelike stres was groot!

“Maar danksy my gewigsverlies het ek bemagtig gevoel en ons verhouding het verbeter. Ek het weer begin glo in myself en begin stap. Eers net ’n paar honderd meter. Later 5 km op ’n slag.”

OM VREDE TE MAAK

“Soos ek sterker geword het, het ek my kos-kwessies leer beheer. Ek moes vir goed afskeid neem van die ‘ou’ mens wat weggekruip het agter die groot lyf. Ek moes vrede maak met skuldgevoelens. Dit was moeilik, maar ek het algaande meer selfvertroue gekry. Wanneer mense aanvanklik na my gekyk het, het ek gedink hulle kyk omdat ek vet is.

Nou besef ek hulle kyk dalk omdat ek ’n mooi trui dra. Dis wonderlik om die lewe weer te geniet.

“Ek kan nie bekostig om aan verkwiste tyd te dink nie. Ek sit die verlede agter my en sien uit na die toekoms. Ek geniet dit so om my ou self terug te hê. Nou weet ek ek is ’n gedissiplineerde mens. Ek het opnuut my energie herwin.”

WAT EK GELEER HET

  • As jy iets regtig wil doen, kan jy.
  • Niks is onmoontlik nie.
  • Die lewe is ’n geskenk.
  • Jy kan nie jou omgewing beheer nie, maar wel jou kos-inname.
  • Klim ’n groot berg tree vir tree uit.
  • Moet jouself nooit bejammer nie, begin net.