Dit was nog altyd so: Gee my ’n bal en ek glinster! Ek kan magic doen daarmee. Wie sou dit kon glo, want ek was sewe jaar oud toe die dokters vir my ma-hulle gesê het ek sal nooit aan sport of fisieke aktiwiteite kan deelneem nie. Ek het klompvoete gehad en bene wat na binne draai. Voor daardie dag het ek vyf, ses operasies gehad - maar ek was vasbeslote om alles te doen wat ander kinders kan doen. Ek wou hierdie lyf van my bewéég. Hoekom moes ek opgee?

Fisieke aktiwiteite bring 'n nuutheid, deur die lyf na die hart en brein

Ek het my eerste WP-kleure vir netbal gekry toe ek nege jaar oud was. Op 37 is ek bekroon as die beste strandvlugbalspeler in Suid-Afrika. Ek moes agt ure per dag vlugbal oefen, dikwels in pyn, maar ek het myself afgevra: Het jy die uithouvermoë om iets te doen met jou lewe? Daardie iets wat ek al klein-klein geproe het, probeer ek vandag oordra aan kinders in die Wes-Kaap. En dit was my doel toe ek ses jaar gelede The Future Factory, ’n sportakademie waar kinders uit voorheen benadeelde gemeenskappe talle sportsoorte geleer word, begin het.
Met sport kan jy ’n kind verower, dit sien ek elke dag. Fisieke aktiwiteite bring ’n nuutheid, daar gebeur iets wat ek nie altyd kan verklaar nie - dis ’n aansteeklike gevoel wat deur die lyf na die hart en die brein syfer. Destyds het ek in twee skole gewerk, vandag werk ek en my afrigters in 50 skole en ons het al meer as 150 000 lede. Ek kombineer die sessies met ’n dosis van al die beste dinge: ’n bietjie liefde, vreugde, terg, motiveer, lag, luister . . .

My lewe gaan daaroor om ander te help, dis hoe ek grootgemaak is. Om vanjaar se wenner te wees in die sport-kategorie in die Shoprite Checkers SABC2 Vrou van die Jaarwedstryd is ’n wonderlike bonus. Ek wil ander help om uit te styg bo hul omstandighede, want ek is eenvoudig mal oor mense. Wanneer ’n sewejarige meisie vir my sê: ‘Tannie, as ek daai tik-pypie rook en ek voel nie meer so honger nie, is my lewe net reg . . .’ dan tref dit my op die krop van die maag. En ek weet: Genoeg is nooit regtig genoeg nie. Dan dink ek: Wat kan ek nóg doen? Daarom gee ons ook 5 000 kinders weekliks kos en ons is onder meer betrokke by dwelmvoorkoming, soos die Kemojaprojek, waar ons met kinders praat oor die gevolge van dwelmmisbruik. (Kemoja beteken in Sotho: Nee, dankie, ek is reg sonder dwelms.)

Met die regte borge wil ek graag ’n inbelsentrum vir gekwelde jeug begin. Soveel meisies kom na my toe met hul probleme, hulle soek iemand om mee te praat, maar ek kan nie by almal daar buite uitkom nie, al wil ek vir elkeen sê: ‘Weet jy, die wêreld staan vir jou oop.’ Vandag se kinders het probleme wat ons nie kleintyd gehad het nie. Hulle is dikwels bedags stokalleen by die huis. Ma en Pa is om verskillende redes nie tuis nie. Dan gaan soek hulle elders aandag en liefde - by tik, drank, seks. Ek was deel van ’n gesin met agt kinders, en ons het soos enige ander gesin ons kwessies gehad. Maar daar was altyd iemand wat na ons omgesien het - Ouma of Ma, of jou ander ouma as die eerste ouma moeg was vir jou! My ouma het my lékker pak gegee as ek stout was. En my ma was streng - ek moes help huis skoonmaak en smiddae eers kos kook as ek netbal wou speel. Maar alles is met liefde gedoen, en dit het ’n beter mens van my gemaak.

Ek het dikwels pyn in my voete en bene gehad, maar die genot van sport was groter

My ouers het my grootgemaak om ’n positiewe ingesteldheid te hê. Die hele gesin het in my geglo. Ek het dikwels geweldige pyn in my voete en bene gehad, maar die genot van sport was groter. Vir my was dit eenvoudig mind over matter. Ek het provinsiale en nasionale kleure verwerf in basketbal, vrouesokker en vlugbal, ek was tot die o.21- WP-pluimbal-kampioen. En as my ma nie gekeer het nie (waarvoor ek vandag dankbaar is), het ek gespesialiseer in skerm ook! Uiteindelik het ek besluit vlugbal sal my hoofsport wees. Dis fantasties, dit bring jou hele menswees bymekaar. Dit laat jou lag, huil en kwaad word in ’n kort tydjie. Ek het die wêreld gesien met vlugbal.

My lyf was nie altyd so sterk soos my gees nie, maar hy het sy kant probeer bring. In 1998, toe ek op die toppunt van my vlugbal-loopbaan was, het my werwelkolom ingegee en
ek was ’n maand in die hospitaal. Ek was deels verlam. Maar met baie positiewe en doelgerigte denke het ek dit tog reggekry om in 1999 deel te neem aan die Afrika-spele voordat ek die jaar daarna op 40 afgetree het. Ongelukkig het dit ook beteken dat my rug my daarna weer van voor af platgetrek het. Ek moes kortisoonbehandeling kry en het 30 kg opgetel. Waar ek altyd ’n nommer 8 gedra het, was ek nou ’n nommer 18.

Ek het begin met jazz-danse en uiteindelik 21 kg verloor. Ek gee steeds vandag jazz-dansklasse. Dit gee my en my leerlinge eindelose genot - 50% van die opbrengs gebruik ek om die sportakademie te finansier. Verlede jaar is maagkanker by my gediagnoseer. Dit het my byna ’n jaar geneem om daarvan te herstel, maar dit kry my nie onder nie. Daar is soveel mense wat kanker kry, ek kan net dankie sê myne was nie ernstiger nie.

Ek is regtig passievol oor wat ek doen. Die saadjie is destyds gesaai toe ons vlugbalspan Nigerië besoek het en ek opnuut oor my lewe en sport begin dink het. Hul liefde vir sport en hoe hulle dit as ’n manier beskou om hul omstandighede te verbeter het my laat besef ek kan so iets hier in die Wes-Kaap in die gemeenskap terugploeg. Party mense was eers skepties daaroor. Daai hele ding dat ek ’n vrou is, en boonop ’n bruin vrou . . . ek moes hulle verkeerd bewys, en ek is so bly ek kon, want ek pluk nou die vrugte op meer as een manier. Net die glimlaggies van die kinders maak dit die moeite werd. Dis wonderlik om te sien watter effek sport op hul lewens het.

Agt studente van die Primêre Skool Zirelda Park in Lavender Hill het provinsiale en nasionale vlugbalspanne gehaal. Van my leerders het al as jong volwassenes teruggekom en aangebied om as vrywilligers betrokke te raak by van ons projekte. Dit doen my hart goed as ek die leerders sien wat ek afgerig het. Hulle is lewenslustige, gebalanseerde mense. Hulle lag, hulle huil, maar hulle kan ook opstaan, want hulle het die vaardighede om struikelblokke te hanteer. Ek probeer altyd die kinders leer dat jy uit enige situasie kan kom. Hou net aan met stap. Doen die regte dinge. Glo in jouself en iets sal verander.

Sommige Suid-Afrikaners voel te na gekom, so asof die lewe hulle iets skuld. Maar die lewe skuld jou niks. Dis die groot boodskap wat ek wil oordra as ek motiveringspraatjies lewer - en glo my, sedert ek die Shoprite Checkers-toekenning en die Old Mutual Community Builder of the Year-toekenning (in die Wes-Kaap) ontvang het, kan ek nie voorbly met al die praatjies nie, en ek is mal daaroor!

Die kern van my boodskap? Moenie net wag dat iets gebeur nie. Jy moet dit láát gebeur. Dis in jou hande. Dit gaan dol, maar ek floreer daarop. Van ’n persoonlike lewe is daar nie veel sprake nie, ek ís basies die Future Factory. Ek betaal myself nie ’n salaris nie, ek maak geld uit my jazzklasse. Maar dis beter om te gee as te ontvang. My huis in Kenilworth is gemeubileer met goed wat mense vir my gegee het, dis ongelooflik hoe God net beskik. Ek woon saam met my drie aanneem-seuns wat almal verslaaf was aan dwelms of drank, maar nou ten volle gerehabiliteer is. Hulle is uitblinkers uit eie reg. Ek is wie ek is, ek het reëls, hulle weet hulle moet dit nakom en dat ek dit doen met baie liefde en omgee. Ek het nie my eie kinders nie. Ek en my kêrel, Dean Martin, is al baie jare saam, maar hy woon nou in die Oos-Kaap. My lewe is absoluut gerig op God, ons sal nog sien wat die toekoms vir ons twee inhou.

Ek glo moeilike tye is God se manier om vir my te sê dat Hy ’n spesifieke rol het vir my - sodat ek weer ander kan inspireer. Ek het nog nooit my siektes as terugslae beskou om oor bedruk te raak nie. My uitgangspunt is eerder: As jy steeds kan asemhaal, kan jy iets betekenisvols met jou dag doen. As die Here my oë die dag finaal toemaak, is dit eers verby. Tot dan doen ek alles in my vermoë om ’n verskil te maak."

* Vir meer inligting oor haar motiveringspraatjies bel Anne by 082 333 2982 of 073 1908 208 of besoek die organisasie se webwerf, www.thefuturefactory.co.za.