My man

Ek sit vandag alleen onder ons (eens) gunsteling-boom, en ek wonder waar is die tyd heen?Dit is byna 25 jaar wat ons mekaar al ken, en wat het geword van my liefste man, my engel, liefie en al die troetelname wat ons vir mekaar gehad het? Het dit net verspot geword, of is dit ook maar net iets wat met verloop van die jare verdwyn het soos die stiltes al groter geword het?

Onthou jy die windgathouding wat jy ingeneem het met ons eerste kennismaking? En hoe ek jou verras het deur ja te sê op jou uitnodiging vir 'n dans? Deur jou kameralens het ek vir die eerste keer vir myself mooi gelyk, hoe het jy vir my, 'n plaasmeisie, die wêreld se deure oopgemaak met onvergeetlike vakansies en uitstappies. Jy wat selfs nie eens jou familie gevrees het nie, en altyd vir my opgestaan het en my kant gekies het.

Deur die jare was jy 'n getroue eggenoot, regverdige pa vir ons kinders en 'n hardwerkende broodwinner – jy het my altyd in ag geneem met al jou besluite. Soms het ek die lewe vir jou baie moeilik gemaak deur druk op jou te plaas oor laat werkery, vergaderings – iets wat jy nie beheer oor gehad het nie. Of as ek iets wou koop en jy het geweet die finansies laat dit nie toe nie, het jy maar ’n ekstra werkie gedoen om sodoende die wolf van die deur af weg te hou. Maar ten spyte van al hierdie dinge, het jy steeds vir my lief gebly en my op die hande gedra.

Hoe gebeur dit dan dat mense soos skepe in die nag bymekaar verbyvaar? Wat het geword van die lawwe dinge wat ons saam kon doen? Soos om te gaan sonbaai by Sandy-baai, of om saans krabbel te speel vir 'n romantiese aand – die een wat wen, bepaal die verloop van die aand, (en hoe jy my byna altyd aspris laat wen het). Onthou jy my ma het altyd vertel hoe sy haar verwonder aan ons wat alles altyd sáám gedoen het.

My liefste man, soms sukkel ek om die seëls van my lippe te breek, ek wil soveel dinge vir jou sê, maar die woorde kom nie uit nie. Daarom skryf ek eerder, want met pen en papier is dit soveel makliker. Ek bemin jou meer as in ons jong dae. My liefde vir jou het gegroei en ryper geraak. Jy sal altyd my beste vriend bly; die enigste een wat werklik my geheime kan bewaar. Ek sidder as ek dink as jou breë rug nie meer daar is om teen te nestel nie, as jou hande my nie meer skelm kan verras nie.

Daarom wil ek met hierdie brief vir jou sê ek is ontsettend lief vir jou, en met die regte atmosfeer geskep, laat jy nog steeds my tone krul en hou die skoenlappers in my maag nog al die pad danskompetisies.

Laat ons weer laf raak soos in ons jong dae en leer om met mekaar te speel. Kom ons gaan tuin toe en ontdek nuwe dinge; kom ons gaan lê op die gras en staar na die wolke en fantaseer oor die vorms in die lug.

My man, al praat ons al minder, laat ons leer om ten minste oor ons gevoelens te praat, en ek is seker daarmee saam sal die res net soveel makliker raak. Ek hou solank die sjampanje koud en sal sorg vir vars, blinkrooi aarbeie. Ek wil jou bederf en troetel soos toe ons nog pasgetroud was. En al is Vader Tyd besig om ons in te haal, al word ons plooie meer en al eis swaartekrag sy tol, moet ons ons nie daardeur laat onderkry nie.

Liefde en klomp drukkies, ek weet mos jy floreer daarop!

Jou vrou