My dierbare Bokkie Ek dink ek het jou al die storie vertel van my ouma se rooi handsak. Maar dis so ’n mooi storie, ek vertel dit met graagte weer vir jou. Toe ek ’n kind van so ongeveer 12 jaar oud was, het ek in my ouma se kas afgekom op ’n rooi handsak vol liefdesbriewe. Elkeen van hierdie briewe was deur Oupa geskryf toe hy in die oorlog was. Hy het elke brief begin met: “Liefste skat en kindertjies ...” Hoewel ek nog baie jonk was, het die kosbaarheid van dié kleinood my soos ’n weerligstraal getref.Ek het soos ’n indringer op heilige terrein gevoel. Versigtig het ek die handsak toegemaak en dit teruggesit. Tot vandag toe bly dit een van my mooiste herinneringe aan Oupa. Om die een of ander rede het ek geglo dat ek ook eendag so ’n ryk versameling liefdesbriewe sal besit. Maar ná 23 jaar saam met jou is daar steeds net die een enkele brief wat ek bewaar en ek glo nie eens jy weet dit nie. Dis daardie brief wat jy heel in die begin vir my geskryf het. Daardie vreeslike brief! As ’n mens ’n liefdesbrief in ’n sake-brief kon verander, het jy dit beslis reggekry. So anders as Oupa se liefdesbriewe met die romantiese inleidings, het ’n opskrif in swart letters voor my oë gedans: “Re: OUR LOVE”.Ja-nee, dis nie ’n grap nie, al wou ek dit daardie tyd so graag glo. Toe ek jou later daaroor konfronteer, het jy my mooi laat verstaan dat jy nie die “sapsoetige” soort is nie. Nie dat ek dit nooit agtergekom het nie, want toe ek vir ons ’n kerslig-ete vir Valentynsdag berei het, het jy vir my gevra of ek vergeet het om die krag te betaal! Jare lank het ek deur my sondes gesif om te probeer vasstel watter een regverdig die straf van die wêreld se mees onromantiese eggenoot! Jy was ’n regte ou wildsbokkie. Maar jy was mý wildsbokkie en ek het geweet ek sal jou eendag tem. Dit het my ’n lang tyd geneem om te besef hoe gelukkig ek werklik is om net een liefdesbrief te hê. Vandag is ek meer as dankbaar dat ek net daardie een enkele brief van jou ontvang het. Ek kan my skaars indink hoe eensaam Ouma gedurende die oorlogjare moes gewees het. Ek probeer ’n prentjie van haar in my gedagtes skets – snags alleen in die groot hemelbed, met net ’n rooi handsak vol briewe om die verlange te verdryf. Hóé gelukkig is ons nie, my bok. Ons het nie nodig om een enkele brief aan mekaar te skryf nie! Ek is so gelukkig om jou te hê. My lewe sou maar saai gewees het sonder jou. In elk geval, my hart is groter as Ouma se rooi handsak en daarin bêre ek onskatbare herinneringe van ons twee saam.
Soms wou ek my breek vir al jou sê-goed. Veral die keer toe jy my van jou “godmoeder” vertel het. Maar ek het jou mooi geleer Afrikaans praat, nes ’n ou boerbokkie, mý boerbokkie! Nou “gooi jy die taal lekker”, soos jy altyd sê!
Maar al spreek ons in duisend tale, is dit mos eintlik net die taal van die hart wat werklik saak maak. Om getroud te wees is mos om die woorde te verstaan wat ons nie vir mekaar sê nie, of in hierdie geval die briewe wat ons nie vir mekaar skryf nie. Ek dink nogal ons het dit reggekry. Intussen het my hare van kleur verander terwyl jy skoon verby jou hare gegroei het. Ek is mal daaroor om rooi lipstiffie-soene op jou bles te druk. Dit pas by die kerse wat jy vir ons Valentynstafel gekoop het. My dierbare wildsbokkie, met jou in my lewe is ek altyd besig om aan te lê, al is dit soms net omdat ek lus is om biltong van jou te maak! Jou Dutchie, L.