LOUIS ANTWOORD: Infertiliteit word so genoem as ‘n vrou binne die bestek van een jaar verskeie onsuksesvolle pogings aanwend om swanger te raak. As sy herhaaldelik miskrame het, word dit ook infertiliteit genoem. ‘n Miskraam beteken nie noodwendig dat sy infertiel is nie, maar daar kan ‘n verband wees.

LISE: Wat is die oorsake hiervan?

LOUIS: Basies is daar vyf mediese oorsake: manlike faktore (bv. impotensie, hormoon-tekort), verstopte Fallopius-buise by die vrou, probleme met ovulasie, en fibroïde.  Dit word verder algemeen aanvaar dat emosionele faktore, soos angs en depressie, ‘n groot rol speel, veral in die onvermoë om swanger te raak.

LISE VRA: Kan dit ‘n negatiewe sielkundige invloed op vroue of egpare hê?

LOUIS ANTWOORD: Beslis! Navorsing wys dat persone wat infertiliteit ervaar baie meer geneig is om aan simptome van depressie en/of angs te ly as ander mense.  Verskeie mense beskryf infertiliteit as die ergste en mees traumatiese ervaring van hulle lewe.

LISE: Ek kan my indink hoe traumaties ‘n miskraam vir ‘n vrou moet wees.  Wat is die sielkundige gevolg?

LOUIS: Daar is waarskynlik nie een vrou vir wie dit nie traumaties is nie.  ‘n Miskraam is nie net die einde van ‘n swangerskap nie, dit is ook die einde van ‘n droom.  Selfs al was iemand net ‘n paar dae lank swanger, het sy reeds oor die geboortedatum, name vir die baba en haar lewe as ‘n ma gedink.  Ek het ook die indruk dat die samelewing nie altyd die intense verlies van ‘n miskraam verstaan nie en soms selfs verwag dat die vrou na ‘n paar dae “daaroor moet kom.”  Dit is baie onregverdig.

LISE: Watter emosies kan ‘n vrou verwag om te ervaar na ‘n miskraam?

LOUIS: Dit is algemeen dat vroue ‘n hele reeks emosies na ‘n miskraam ervaar.  Gevoelens wat algemeen voorkom, is ongeloof of ontkenning, emosionele “dofheid” of afgestomptheid, skuldgevoelens, hartseer, terneergedruktheid en gebrek aan konsentrasieHormonale veranderinge na ‘n miskraam kan hierdie emosies natuurlik vererger.

Die belangrikste ding wat ons moet onthou, is dat ‘n miskraam ‘n geweldige persoonlike verlies is, en verlies op so ‘n diep vlak is altyd traumaties.  Enigiemand wat al ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, kan empatie hiermee hê.

LISE VRA: Wat van mans wat sukkel met infertiliteit, of ‘n man wie se vrou ‘n miskraam gehad het?

LOUIS ANTWOORD: Oor die algemeen praat mans minder oor die verliese wat hulle ervaar en is minder geneig om hulp of ondersteuning te soek.  Mans is meer geneig om op te tree, bv. deur feite oor infertiliteit te versamel. Dit beteken nie dat hulle nie ook swaarkry nie.  Al “begrawe” die man hom dalk in sy werk, ervaar hy ook trauma, verlies en veral skuldgevoelens.

LISE: Wat kan ‘n man doen om sy vrou, familielid of vriendin by te staan?

LOUIS: Die belangrikste vorm van ondersteuning is om na die vrou te luister.  Ons as mans wil graag help en is geneig om oplossings uit te dink, maar in hierdie geval gaan dit nie help nie.  ‘n Man kan as buffer dien, deur bv. hul naasbestaandes en vriende namens die vrou  te skakel en hulle oor die situasie in te lig.  Hy kan homself en sy vrou ook “toestemming” gee om hulle ‘n ruk lank aan sosiale aktiwiteite te onttrek, indien sy dit so sou verkies.

LISE: Is daar praktiese raad wat vroue en mans kan volg ten tye van infertiliteit, of nadat ‘n miskraam plaasgevind het?

LOUIS: Ek weet dit is maklik om te praat, maar dit is belangrik om uit te reik na die mense na aan jou.  Vra vir begrip, omgee en ondersteuning.  As dit moontlik is, gaan vir berading, vir jouself en jou man/vrou.  Dit is belangrik om te onthou dat elke persoon sy of haar eie tyd het en dat die verwerking van ‘n verlies soms baie lank kan duur.  Paradoksaal soos dit mag klink, kan oorhaastigheid die herstelproses eerder vertraag as aanhelp.

WAAR KAN EK VRAE VRA/MY STORIE VERTEL?