Sielkundige Louis Awerbuck gesels oor kommunikasie oor homoseksualiteit...

LISE: Hierdie week in ons RSG (Radio Sonder Grense) episode (Dinsdagaand 23:05), bespreek ons die onderwerp homoseksualiteit. Miljoene mense oor die wêreld is homoseksueel, maar daar bestaan nog heelwat onkunde en vooroordele oor die onderwerp.  Ons ontmoet vir Francois Louw, 37, wie vir ons sy verhaal vertel. Louis, hoekom is dit so moeilik vir kinders wat homoseksueel is om dit vir hul ouers te vertel?

LOUIS ANTWOORD:  Oor die algemeen word ons wêreldwyd groot in ‘n heteroseksuele samelewing.  Die media, films, asook die meeste huisgesinne wys grootliks ‘n heteroseksuele leefstyl as die “ideaal”.  Mense wat dus agterkom dat hulle homoseksueel is, voel gewoonlik aanvanklik eers “uit”, of “anders”, en dit is algemeen om dan te voel dat daar “iets met mens fout is”.  Kinders is dikwels geneig om skaam te wees daaroor, omdat hulle kan voel dat hulle hul ouers “teleurstel”.

[box:full:grey:both]

[/box]

LISE: Is dit hoekom dit vir sekere ouers so moeilik is om te aanvaar?

LOUIS: Onder meer, ja.  Ouers wil ook graag hulle kinders beskerm, en voel partykeer dat hulle kinders ‘n moeiliker lewe as homoseksuele persoon sal hê.  Onkunde speel baie keer ‘n rol, en dit is nie onalgemeen vir ouers om “skuldig” te voel, of te voel dat hulle kind se homoseksualiteit “hulle skuld is” nie.  Verder bestaan die mispersepsie dat seksuele voorkeur ‘n keuse is, wat natuurlik baie ver van die feite af is.  Soos met enige vooroordele, is daar ook wanopvattings oor homoseksualteit, bv dat alle homoseksuele mense promisku is, “pedofiliese” geneigdheid” het, of by almal sal “aanlê”.

[box:full:grey:both]

[/box]

LISE VRA:  Wat is die beste manier om die nuus aan ouers te breek, as dit ‘n persoon se besluit is?

LOUIS: Ek sou reken so eerlik as moontlik, maar ‘n goeie plek om te begin is deur introspeksie.  Maak eers seker dat jy verstaan dat homoseksualiteit nie ‘n keuse is nie, dat dit net jou spesifieke seksuele orïentering is en nie jou hele persoonlikheid nie, en dat jy nie daaroor hoef skaam te wees nie. As dit nodig is, stap eers ‘n pad met ‘n sielkundige, berader, of ‘n betroubare vriend of persoon.  Hoe beter ouers se verhoudings met hulle kinders is, hoe makliker sal die gesprek wees.  Weet net dat jy nie kan beheer hoe ander mense gaan voel of dink oor wat jy sê nie, maar dat mense iemand respekteer wat goed ingelig is, en met oortuiging en kalmte praat.

[box:full:grey:both]

[/box]

LISE: Mens hoor gereeld van sommige mense vir wie dit moeilik is om te aanvaar as hulle kind homoseksueel is, al is dit vanuit onkunde.  Hoe kan ouers dit hanteer?

LOUIS: Vir my is dit belangrik vir ‘n ouer om na ‘n kind te luister, en om onvoorwaardelik te aanvaar.  Jy kan nie altyd verstaan of saamstem nie, maar jy kan ten minste probeer.  Die verhouding met ‘n kind behoort vir ‘n ouer baie spesiaal te wees, en daar is nie ruimte vir verwerping in so ‘n verhouding nie.  As jy nie met jou kind gaan gesels nie, gaan hy/sy in elk geval nie verder met jou deel nie.  Onthou tog dat jou kind se seksuele ingesteldheid as volwassene nie regtig iets is wat jy kon “veroorsaak” of beheer nie, en dat jou kind niks meer van jou vra as aanvaarding nie.

Baie mense kry sielkundig swaar as volwassenes vanweë verwerping van hulle ouers vroeër in hulle lewe.  Ouers wat sukkel om hulle kinders onvoorwaardelik te aanvaar sal ‘n rede daarvoor kry sonder dat hulle dit noodwendig bedoel.  Dit gaan myns insiens dus nie daaroor of jou kind homoseksueel is of nie, dit gaan oor die verhouding tussen julle.

Louis en LiseWAAR KAN EK VRAE VRA/MY STORIE VERTEL?