Liefste Riaan, Ek het jou nooit vertel van toe ek veertien was nie. Hoe ek my groot-oog bril net gedra het by die huis en by die skool. Want ek moes kies, of mooi lyk of mooi kyk. Jy het reg voor my kom staan op die rolskaatsbaan, anders sou ek jou dalk nooit raakgesien het nie.  Ek moes opkyk na jou blou oë, wat daardie aand nie na my gekyk het nie, maar na my vriendin langs my. Julle het gesels en ek het net daar gestaan, skaperig. Toe jy wegskaats het ’n onbeheersde stem skielik hier diep uit my binnekant begin praat. Die stem het iets gesê wat ek nooit self sou sê nie: “Met hom gaan ek eendag trou.” My vriendin het spottend geskater van die lag. Vir jare daarna het ek bly glo in daardie stem, al het jy nie weer naby my kom staan nie. Nou wil ek jou vra, het die stem ook met jou gepraat toe jy drie jaar later weer voor my kom staan het in die kafee? Het jy opgemerk hoe ek eers ongelowig met ’n oopmond na jou gestaar het en toe dadelik my mond toegeknyp het? Dit was uit vrees, om te keer dat die stem nie weer iets sonder my medewete kwytraak nie. Daardie gevoel wat ek gehad het toe jy wegstap met my adres op die papier in jou hand ... prysloos. Die opwinding toe ek my naam, in jou handskrif, op die lugpos-koevert sien. Ek het my hart uitgeskryf oor my klein lewe, skoolfunksies, die treffersarade, my hond. Jy het geskryf oor alles behalwe die bosoorlog waarin jy moes wees. Vir nog ’n jaar het ek gewag op jou blou koeverte en gedroom van jou blou oë.  Toe ek weer een middag die voordeur oopmaak, was jy daar, reg hier voor my. Daardie aand het ek langs jou in die inry gesit, sonder my bril natuurlik. “Grease” het gewys. Ek het jou ook nooit vertel dat ek glad nie die fliek kon sien daardie aand, so sonder my bril nie. Ek moes mooi konsentreer om op die regte oomblikke saam te lag wanneer jy skielik uitbars en jou opmerkings te beaam. Half blind, maar nie doof nie.Daar was baie musiek in die fliek en in my hart, want jy het gekies om daar te wees, saam met my. Dis toe wat ek opgehou droom het van jou en my. Ek het ook my bril verruil vir kontaklense wat duidelik gefokus het, deur die sluier, af met die paadjie, binne-in jou blou oë daar voor die kansel. My vriendin het vir my geknipoog toe ek verby haar stap en ek het geweet sy erken dat die stem toe reg was.  As ek nie die stem geglo het toe ek veertien was nie, sou ons nooit ons huis by die see gekoop het nie. Sou jy my seker nooit met my bril op sien nie. Sou geen ander kombinasie van gene, in hierdie heelal, ons blou- en bruinoog-meisiekinders kon vorm nie. Sou die kosmos beroof gewees het van iets baie magtig, iets baie sterk wat bestem was vir hierdie lewe en die een hierna.  Vyf-en-dertig jaar en die stem praat weer: “Dit was lekker, dit is mooi, dit was en is en sal vir altyd wees, onse liefde.” Ps: Onthou dat ons vir die dogters sê om te luister vir die stem net voor hulle hier wegvlieg volgende maand, want dit praat net een, miskien twee keer in ’n leeftyd.