"Net toe ek uit die parkeerterrein wou wegtrek, sien ek haar langs my motor staan. Middeljarig, netjies en brandmaer. Effens huiwerig vra sy in haar taal vir ’n bietjie geld om kos te koop. Soveel keer is ek al gewaarsku om nie sommer geld aan bedelaars te gee nie.

Ek sê vir haar ek koop met ’n kaart en het nie kontant by my nie. Ek ry weg, maar ’n blok verder luister ek na my intuïsie. Ek draai terug, want die verslaentheid op haar gesig bly my by.

Ek neem haar in die supermark en koop kruideniersware van haar keuse. Sy wil nie veel hê nie. Op pad na die kassier vra sy of sy iets kan koop om nóú te eet. Sy kom terug met ’n bakkie rys met ’n sousie bo-oor, en haar oë blink van soveel vreugde.

Vriendin, ek en jy weet nie wat dit is om régtig honger te wees nie. Ons moet meer op ons intuïsie staatmaak. Dis ’n wonderlike gawe wat ons heeltemal te min gebruik."

- Brenda Fourie van Barberton

* Deel jou inspirasie-storie in die kommentaarboks.