My Liefsteling, Kom lig saam met my die deksel van my ou blikbrein se recycle bin. Ek wil jou graag iets wys. Sien jy die menige opgefrommelde briewe? Dis die vrug op my ure lange pogings om vir jou die perfekte liefdesbrief te skryf. Ek het sover gegaan as om by die kenners te probeer afloer; mense soos die wyse Salomo van die Hooglied-brief sowel as een of twee van ons land se bekendste digters. Tog bly my woorde soos modderkoekies plat val. Hoe verwoord ek dit wat ek weet, sien en voel saam met jou? Is dit enigsins moontlik? Ek wil so bitter graag my hart soos ’n ryp granaat voor jou oopbreek, elke soet pitjie ’nstille getuigskrif van my liefde vir jou. Jy wat my steeds soos ’n “Model van die Jaar” laat voel. Al het (in alle eerlikheid) die meetsnoere van die lewe vir my in breër plekke geval en ek met ’n geplooide gesig en honde-asem elke oggend langs jou wakker word. Jy wat saam langs ’n siek kind se bed sit en my hand vashou deur ons donkerste uur. Wat my keer op keer leer om ná elke storm die reënboog te sien. Male sonder tal stap jy saam met my terug na die bron van alle liefde. Soms stap jy langs my as die pad te swaar en ver voel. Ander kere voor my, as my voete en oë te blind geword het. Jy is die inspirasie en voorbeeld van jou liefde vir my. Ek wil nie langs of saam met enigiemand anders oud word nie. Jy ken dan die kuns om steeds die kind in my te laat huppel en dans. Wie anders sal saam met my na ’n animasie-fliek gaan kyk, drie keer in ’n ry, al is ons die enigste twee volwassenes in die teater. Jy wat op ’n straathoek sal sit en saam draai-roomys eet, al is dit ook in die gietende reën, net omdat my “hormone” dit dikteer. Diep weggebêre in my juweelkissie is ’n seemeeu van skulpies wat ons saam gemaak het een vakansie toe jou woorde ook maar min was, en jy vir my wou vertel van jou liefde wat my altyd vry en hoog laat swewe. Jy wat weet hoe om ’n winter-piekniek vir twee langs ’n verwarmer in die sitkamer te hou. Tot die pienk marshmellows en klapperys word nooit vergeet nie. Weet jy wat dit vir my beteken dat jy steeds my hand vashou as ek tandarts toe moet gaan en my nooit daaroor terg nie? Of dat jy naweke saam blommeplant en net so opgewonde raak oor ons eerste saailinge wat opkom as oor Suid-Afrika se wendoel teen die Aussies. Ek weet jou hart luister na my as ’n langvergete versugting ’n verjaarsdag- of Kersgeskenk word, terwyl ek weet jou eie versugtinge na nuwe golfstokke, motor, of wat ook al, vir nog ’n jaar sal moet terugstaan. Jou oë ken die geheime taal van die liefde. In ’n kamer vol mense maak ’n enkele kyk van jou steeds my knieë lam. Die skewe glimlaggie langs jou mondhoek laat my hartsnare die mooiste melodie maak. As ek in die waai van jou arm sit, in daardie holte wat net vir my geskape is en ons saam sterre tel of na die laatmiddag gedruis van die branders luister, dan wens ek vir nog ’n duisend jaar saam met jou. Jy is die held van my jongmeisie-dagdrome. My menoposale anker. Ek het jou lief. Jou Blinkoog