Goeienaand my Lief Sonsondergang op 'n Sondagaand en mis ek jou knop-in-die-keel erg. Dis altyd ons spesiale tyd bymekaar, wanneer ek en jy in die laaste lig op die stoep sit en gesels. Soms, in die winter, maak jy dan vuur in die kaggel en dan bid ek dat die tyd moet stilstaan! Dis wanneer ons die vorige week se gebeure dissekteer en mekaar moed inpraat vir die week wat voorlê. Soms lees ons vir mekaar iets uit ons gunsteling-gedigte.Dít is, soos jy weet, altyd vir my die heel lekkerste! Vanmiddag, ná my slapie, toe ek alleen in ons dubbelbed wakker word, hoor ek 'n duif in die boom na sy maatjie roep. Koe-ke-róé-koe-koe, koe-ke-róé-koe-koe. Hoe langer ek luister, hoe meer verstaan ek die duif. Dit beteken ek-ver-láng-na-jou, ek-is-líéf-vir-jou. Naderhand moes ek net uit, buite toe. Ek het koffie gemaak en dit op die voorstoep gaan sit en drink. Daar kry ek toe 'n veer wat die duif vermoedelik daar gelos het. Hoe kon ek anders as om Boerneef se Berggans te onthou, veral met jou daar ver in die vreemde! Ek het só gewens ek kon dit vir jou stuur, maar met e-pos raak dit moeilik en slakpos gaan nooit betyds by jou uitkom nie. Maar omdat ek jou so liefhet en so eina-pyn verlang na jou, het ek toe 'n plan beraam, my Liefste. En voila! Hier is vir jou 'n regte berggansveer met al my liefde! Ek sluit die inleiding van Die Berggans het `n veer laat val ook in, net vir ingeval jy dit nie presies kan onthou nie.

Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê
My liefde vir jou kom 'n lang pad, langer as wat jy sal glo! Ek het jou liefgekry toe ek twaalf was, want van toe af het ek vir my 'n droomman begin uitdink. Dit het by my niggie se troue begin. Ons het almal stukkies troukoek, toegedraai in sellofaan, gekry. My ma vertel toe vir my een van die groot geheime van trou: sy sê ek moet die stukkie koek die aand onder my kussing sit wanneer ek gaan slaap. Dan sal ek daardie nag droom met wie ek eendag gaan trou. O, ek was totaal en al betower deur die idee! Ewe plegtig het ek dit gedoen, maar ongelukkig niks gedroom nie of dalk nie my droom onthou nie. My twaalfjarige hartjie wou breek, want ek het die hele aand gefantaseer oor my droomman. Gelukkig dink ek toe aan 'n beter plan: ek het op my knieë gegaan en ernstig gebid vir 'n goeie, slim man. Hy moes my vir ewig liefhê en baie goed vir my sorg. Hy moes mooi ookwees en asseblief tog lekker kan dans! Hy moes 'n goeie pa wees ensovoorts. Die lys was baie lank, maar my gebed is verhoor. Ek het baie meer gekry as waaraan ek op twaalf kon dink of droom om te vra: ek het jóú gekry! Sou ek vandag vir jou 'n berggansveer-gedig moes skryf, skiet my woorde tekort. Tye het so verander. Niemand praat meer “mits dese”-taal nie. Ons skryf selde vir mekaar regte, egte briewe, want ons het nie tyd nie. Vroue staan deesdae hul skoene vol as deel van die land se arbeidsmag en kan nie altyd hul lewensmaats vergesel op 'n werkverwante, oorsese reis nie. Tewens, ons moet soms self sonder ons maats reis en dan moet julle huishou en ons tradisionele vroueskoene tuis volstaan. Moeiliker tye vir die manne, as ek dit mag sê. Hoewel alles so verander het, my Liefling, het ware liefde gelukkig nie uit die mode geraak nie. Ons twee loop 'n lang pad saam. (Ek dink nou skielik aan jou grappie oor die sakke sout wat ons saam geëet het: knippie vir knippie!) Ons het destyds lang vrybriewe geskryf en gelukkig gespaar gebly om ook elektronies te kan kommunikeer. Ons het saam swaar gekry toe ons pasgetroud en baie arm was, maar gelukkig lank genoeg geleef dat ons op 'n koue aand op ons eie kaas, wyn en poësie voor die kaggel kan geniet. Ons het ons kinders uit ons nes sien vlieg en hulle sien bou aan hul eie nessies. Geluk is “ons liefde wat uithou en alles vergoed.” Genade is ons Hemelse Vader wat ons vir mekaar gespaar het. Mits dese wil ek dus vir jou sê dat ek jou steeds bemin, meer as wat ek ooit kon droom. Ek mis jou en hoop dat ons frats koue weer sal ervaar wanneer jy volgende naweek huis toe kom. Dan maak ons vuur. Al my liefde Jou Lief