Sy reis die wêreld plat, maar in Londen het sy tyd afgeknyp om vir ons te skryf. Voor dit was Marciel Hopkins saam met haar kêrel in Italië. Hier deel sy foto's en herinneringe met ons.

My kêrel se suster is met ’n Italianer getroud en woon nou saam met hul seuntjie, Christiaan, in Sardinië. Ons beplan al maande om by hulle te gaan kuier en die droom het uiteindelik ’n realiteit geword ... My week in Sardinië was een van die bestes in my lewe!

Die eiland het my wildste verwagtinge oortref en ek kon die eerste keer in maande regtig ontspan. Diep inasem, en alle stres uitasem. Wat ’n voorreg!

marciel italie Handré en Marciel by die Italiaanse gesin: Christiaan, Marelize en Valerio. FOTO Verskaf

Net soos in my bikini-angs-dae wil ek steeds soms in ’n kas gaan wegkruip en weier om my lyf op die strand aan die wêreld bloot te stel, maar ek weet ook dis ’n daaglikse besluit om liggaamspositief te wees. Ek moet elke dag daaraan werk om gemaklik in my eie vel te wees. Sodra ek voel ek raak ongemaklik, weet ek my liggaam verdien eksta waardering en self-liefde.

Ek is mal oor die aanhaling van die Amerikaanse skrywer Glennon Doyle Melton: "If you can't beat fear, do it scared." Dit is dikwels my mantra op dae wanneer ek myself verwyt omdat ek nie "sellulietvry" of "maer genoeg" is nie – hoewel ek weet daar is geen verkeerde manier om ’n liggaam te hê nie.

marciel italie Idilliese dae saam met Handré, so bietjie gephotobomb deur Christiaan, sy suster se mooiste seuntjie. FOTO Verskaf

Ek is bevoorreg om ’n besonderse kêrel te hê wat my ondersteun wanneer dit goed gaan maar ook wanneer ek af voel en onseker is van myself. Al het ek skaars grimering gedra en was ek meestal in plakkies en ’n seewater-bolla, was dit só romanties om saam met hom te kon lag, sing, speel en beleef.

marciel italie Snorkel was ’n daaglikse aktiwiteit. FOTO Verskaf

marciel italie In Portoscuso, die dorpie waar Handré se suster-hulle woon. FOTO Verskaf

My hart verlang alreeds na die idilliese strande, pistachio-roomys en natuurlik na hóm. Ek is tans in Londen waar ek uitgerus, gereed en bruingebrand is om my castings en shoots aan te pak saam met ’n nuwe agentskap.

Liefdegroete uit Londen

XX