Marciel Hopkins is een van ons gunsteling-modelle. Sy verklaar liggaamsliefde wyd en syd en is met daardie boodskap al die pad Londen toe! Vir ses weke het sy geskryf oor haar ervarings in die wêreldstad, haar verwagtings en die werklikheid van jou modeldrome najaag oorsee. Nou is sy is terug in Suid-Afrika en ons trek by haar laaste inskrywing ...

Ek weet nie van jou nie, maar ons is vreeslik nuuskierig oor die lewe van ’n model. Sy het ons en duisende lesers geïnspireer met haar reis en koddige stories oor begrotings, Starbucks-koffie, katte en die werke wat sy gekry het. Lees verder vir haar laaste bloginskrywing.

Terug in my hartsland Soos ek hier op die vliegtuig sit en tik op pad huis toe, is dit vir eers my laaste blog oor my ses lewensverrykende weke in Londen. Die modelwerk het nie noodwendig so goed gegaan soos ek gehoop het nie, maar in dié bedryf moet jy jou oë kan toeknyp en kanse waag. Ek het een aand met groot teleurstelling onder die stort gaan staan en myself toegelaat om te huil. I believe in allowing things to affect me. Dit bring my weer in voeling met die rou dele van my siel wat nog ongeslyp is deur die samelewing. Ons word gebore met die rou dele, weet jy, voor dit jaar na jaar gladder geskuur word om mooi netjies en blink in vierkantige boksies te pas. En daar sit jy dan jare later in jou noupassende boksie, al ewe met ’n rooi strik om gebind, soos ’n geskenk aan die wêreld made in The Society (pleks van China). Ek het grootgeword in ’n verbeeldingswêreld waar ek my middae in akkerbome en in die geselskap van dwergbokkies omgespeel het. Ek was mal daaroor om aktrise te speel in my ma se hoëhakskoene en om boss moves met my moderne oopklapfoon uit te voer (die foon het lekkers agterin gehad). Connie, Dezi en Wilmien was die groot 7de Laan-sepiesterre van my tyd, daarom het my lyne dikwels as volg gelees:

“Bart, dis verby. Jy het jou kans gehad, ek wil jou nooit ooit weer sien nie!”

Die passie waarmee ek al my rolle vertolk het is opgevoer met die droom van ’n groot lewe vir myself. Ek wou hê mense moet van my weet.

marciel By die Royal Crescent in Bath, wat te sien is in een van my gunsteling-flieks, The Duchess. FOTO Verskaf

My pa het van werk verander en die dromer in my moes met lang trane haar paradys verlaat. Vinnig is die karakters in my storie met regte mense vervang. Ek het aanvanklik gedink dat hulle dalk net die lyne verkeerd gekry het, maar ek het ná ’n tyd besef dat ons wêreld nie uit cheerleaders bestaan nie. Dan word jy skaam om jou hand in die klas op te steek en om in ’n swembroek by die swemgala op te daag. Met naïewe onskuld vou jy dan jou éie boksie kleiner en jy vergeet van die Connie wat nog binne jou woed, want dit is belangriker om sosiaal aanvaarbaar te wees.

Aikôna, Connie is nie dood nie! Ek praat vandag nog net soveel met myself as wat ek met jou praat: Hou op om soveel mag te gee aan “wat die mense gaan dink”, want mense vergeet en dink aan wat hulle vir aandete wil hê pleks van die selluliet wat jy by die swemgala in graad 10 op jou linkerboud gehad het. Ek laat dit nou eenvoudiger klink as wat dit is, maar jy kan dit oefen. Klim met daardie teleurstelling onder die stort in en huil daaroor, maar moenie dat dit jou spoed breek nie. Jy is geregtig daarop om vir jouself ’n groot lewe te bou.

marciel Voor die Roman Baths in Bath. Dit was flippen koud! FOTO Verskaf

Om terug te kom na my laaste week in Engeland: Ek het by vriende in die platteland gekuier en was my laaste aand in Londen by my nefie se troue. Ek het Bath, Oxford en Stratford besoek, elkeen ’n plek met sy eie bekoring en unieke persoonlikheid. Stratford se Shakespeare-geskiedenis was boeiend en dit was opwindend om die Royal Crescent te sien. Dit was in een van my gunsteling-flims, The Duchess. In teenstelling met Londen se 25-uur-werksdae was dié dorpies gelyk aan statige dames wat hul namiddag tee met skerpsinnigheid en komkommertoebroodjies geniet.

marciel By William Shakespeare se graf in Stratford. FOTO Verskaf

My nefie se troue was ’n familiefees in die hartjie van Londen, net ’n klipgooi weg van Buckingham-paleis. Daar is gelag, gedans en gelewe. Ek en klein Harold het oorgenoeg selfies geneem en ek het met my niggie op my heup gedans tot albei my arms lam was, want ek het geweet ek sien hulle dalk eers oor 2 of 3 jaar weer. Ek is bevoorreg om met ’n ekstra tas kosbare herinneringe huis toe te vlieg.

marciel Saam met my oulikste klein nefie, Harold, by die troue. FOTO Verskaf

marciel The 'newlyweds'! Patrick en Nicky Hopkins. FOTO Verskaf

Oor ’n paar minute gaan ons in Doha land waar my Londen-hoofstuk stadig maar seker tot ’n einde kom. Elke einde hou die opwinding en onsekerheid van ’n nuwe hoofstuk in en wie weet, dalk kom Connie en Bart weer bymekaar. Hou die pen in eie hand en skryf self die draaiboek van jou lewe, want ’n groot lewe laat homself nie skryf deur wat-die-mense-dink nie.

marciel Terug in sonnige Suid-Afrika! My wens is gelukkige strand-dae aan alle vroue. As jy 'n lyf het, het jy 'n bikini-lyf. FOTO Verskaf

Tot siens, tot weersiens.

Liefde Marciel

As jy van Marciel se blogs gemis het, lees hier

Marciel skryf vir ons uit Londen!

Marciel op die trein na haar eerste job!

Marciel: “Daar is ’n wêreld [...] wat gesien, geproe en geruik moet word.”

Marciel steek tong uit vir maermaak-advertensies

Marciel leer van begrotings en babysit