Model en SARIE-blogger Marciel Hopkins was drie weke lank hier by ons op kantoor as intern. In haar nuwe blog vertel sy wat sy geleer het – én verklap waarheen sy volgende reis!

So die laaste paar dae van my internskap by SARIE het gekom en gegaan en dit voel skoon vreemd om nie meer soggens deur my boetie werk toe ge-uber te word nie. Vir almal wat gevra het, kon ek met eerlikheid antwoord: Ek voel deel van die SARIE-familie en dit ná net drie kort wekies. Die span se deure en harte het vir my oopgestaan en ek het ongelooflik baie geleer uit die ervaring.

Dit is fassinerend om te sien hoeveel werk agter die skerms gebeur om ’n onverbeterlike produk vir lesers te bied. Ek het opnuut waardering vir elke SARIE-web- en -tydskrifartikel wat ek lees. Dit is ure, dae – selfs maande – se beplanning wat daarin gaan om lesers te bekoor. Hoe bevoorreg is ons nie om soveel inspirasie by SARIE te ontvang nie.

marciel Ek en redakteur Michélle. FOTO Verskaf

Ek sou graag alles wou vertel wat ek geleer het, maar wil begin by die klein stories. In ’n wêreld van Kardashian overload, geweld en skandale vergeet ons soms van die krag wat ’n hartstorie het om ons te raak en te inspireer. Ons kyk die alledaagse stories mis, dikwels ook ons eie, want ons dink dit is onbelangrik.

Maar hier by SARIE maak hierdie elke-dag-stories saak. Nie om sensasie te skep nie, daarvan het ons genoeg. Eerder om mense bymekaar te bring, om knus te wees en ervarings te deel. Dit was vir my só lekker om elke oggend in die webvergadering te sit en luister na al die stories wat gedeel en voorgestel word. Ek gaan dit mis om op die hoogte te wees van alles wat nuut en opwindend is.

Nou ’n klein storie van my eie: Ek is die week Albertinia toe vir ’n motiveringspraatjie, so ek het sommer ’n mini-road trip daarvan gemaak. Wow, ons land is mooi, interessant en groot! Ek moes myself keer om nie op elke dorpie te stop nie, deels ook as gevolg van my ligte cappuccino-verslawing. Ek het nou al na ’n paar plekke gereis vir geleenthede, maar hierdie een was anders.

marciel Marciel saam met Alrie Velleman, die eerste SARIE Voorbladgesigwenner. FOTO Verskaf

Ek is besonders warm en welkom ontvang. Ek het ’n drukkie van elkeen ontvang wat die aand daar was en die volgende oggend saam met die hele familie ontbyt geëet op die plaas waar die geleentheid gehou is. Met twee heeltemal verskillende verwysingsraamwerke, die meisies uit die stad wat vir ’n aand op die platteland kom kuier, kon ons oor so baie dinge gesels.

Dit het my weer eens laat besef dat dit ons stories is wat ons aan mekaar bind. Die mens is gewire om ’n konneksie te vind met ander, maar ons laat dikwels toe dat ons vooropgestelde idees in die pad daarvan staan. Want die tannie met die pienk hare en die oom met die tatoes is vreemd en daar moes seker iets hartseers in hulle verlede gebeur het. Ons fokus soveel op dit wat ons anders maak as ander, in plaas daarvan om te sien hoeveel ons gemeen het.

marciel Saam met die model by een van SARIE se mode-fotosessies. FOTO Verskaf

Ons almal wil iewers behoort, gehoor word en ons het elkeen ’n unieke storie om te vertel. Party se stories is tydloos en sal vir altyd in die geskiedenisboeke van tyd opgeskryf staan. Ander s'n is elke-dag-stories, maar dit beteken nie dit is sonder impak nie. Dit is dikwels die klein stories wat ons deur ’n moeilike dag dra en ons weer in die goedheid van die mensdom laat glo.

Dit voel soms of my storie al soveel kere vertel is en of dit teen hierdie tyd al uitgeskryf moet wees, maar gereeld word ek met ’n boodskap of e-pos herinner hoeveel dit vir mense beteken. Ek wil jou aanmoedig om jou stories te deel, al is dit soms seer en laat dit jou weerloos voel. Jy het geen idee wie dalk vandag vir jou “Ek ook" sê nie. Of "Ek is ook daardeur, ek verstaan jou pyn." Wat ’n verligting is dit nie om te weet dat ons nie alleen is nie.

marciel FOTO Verskaf

My hart trek klaar swaar na my lessenaar en die wonderlike mense saam met wie ek so bevoorreg was om te werk by SARIE. Ek is só dankbaar vir die verrykende ervaring wat ek in my reistassie van die lewe kan pak. Die volgende keer as ek met julle gesels, deel ek met julle my opwindende ervaringe uit Londen en Italië. Ter afsluiting wil ek jou herinner dat jy spesiaal, talentvol en powerful is. Moet asseblief nooit vergeet van jou onuitputbare bron van potensiaal nie. Tot volgende keer.

Liefdegroete,

Marciel

Lees nou

Ons is opgewonde oor Marciel Hopkins

Hierdie week met Ilzé: “Vang jou son”

Elma Smit gesels oor haar hare-hupstoot