Woorde in harte geskryf aan my man, Francois ... 1977 was nog jonk in sy dae en ons eerstejaars-wees nog vars soos my ma se hemelhoog-brood uit ons Aga-stoof. Die koppie tee wat jy ná studentekerk voor my neergesit het, het die eerste stukkie legkaart gebou vir ons toekoms saam. Ons liefde loop kronkel-voetpaadjies na mekaar en vyf jaar later trou ons in ons studentekerk. En nou, 27 jaar later, hangmat ons nog saam tussen ons elkeen se eie unieke menswees-pilare. Ek strooi die alfabet voor my en wonder watter woorde ek kan bou om te skryf hoe lief ek vir jou is. Ek sit die letters wat vertel van seer, swaar tye eers weg, want ons was nog jonk en het dalk nie altyd die woordeboek-betekenis van liefdeswoorde verstaan nie. Maar nou het wysheid en vrede ons geleer dat ons liefwees vir mekaar woorde bou wat ons nie telkens na verklarende woordeboeke laat gryp nie. Ek was ’n plaasmeisie met ’n raamwerk wat ’n klein stukkie lewe teen die muur opgehang het: ’n lewe van min kennis buite ’n plaasskool en ’n plattelandse bestaan. Vir my was dit genoeg, want die spykers van my raamwerk was liefde en sekuriteit. En toe kom jy... En soos wat ek graag die groot granate in die laning op ons plaas oopgebreek het om die bloedrooi soet pitte een vir een te eet, het jy vir my nuwe wêrelde kom oopbreek. Kunsflieks en flieks oor wetenskapfiksie. 2001 en 2010 is jou gewildste flieks en ek leer nuwe raamwerke ken en leer dit verstaan omdat ek vir jou lief is. Musiek is skielik meer as Dave Mills en Lance James en ek ontdek nuwe note op nuwe bladmusiek geskryf. Jazz en Mike Oldfield en Rick Wakeman maak vir my ’n stukkie nuut in jou oop. En klassieke langspeelplate draai my op ’n rondomtalie van lekker sodat ek uitasem op my rug lê en ontdek die wêreld kan ook om my draai. En saam kryons ’n seun en dogter wat vandag pragtige jongmense is. Deur hulle kinderjare tolbos ons dikwels en verloor mekaar soms tussen werk en klein voete wat spore deur ons harte hardloop. Maar altyd, altyd is daar iewers ’n heining wat ons tolbos vang en ons stop om weer op mekaar te fokus. En vandag kyk ons na hierdie twee mense wat ons gene dra en weet: “... dit was alles goed”.  En die draad wat deur ons lewe loop is ons geloof in ons Skepper wat ons stewige anker bly in storms en weerligdae. Jy vertel vir my dat wanneer donderslae verwoed slaan in storms, dit kinders is wat met driewiele teen mekaar vasjaag in die hemelruim. Dit maak vrees and skrik sagter. Jou liefde vir fotografie bring ’n nuwe kunskant van my ingenieurman uit. Deur jou lens sien ek ook nuwe prente en stories. My lief, ons is nou by die begingpunt van ’n nuwe voetpad in ons lewe. Ons is verby die vinnige 100m-naellope. Saam met jou begin ek nou langafstande met gemaklike pas.  En as ek nou die alfabetletters skommel en die woorde van ons liefde op die weegskaal sit, laat die woorde wat vertel van teleurstellings, seerkry, bekommernisse en hartseer wel die skaal kantel. Maar die woorde van gelukkige polkadraai-dae, rustige saamwees-dae en suksesse laat die weegskaal tuimel na hoë horisonne. En dan weet ek dit is in liefde altyd die moeite werd om te fokus op die woorde in harte. My hoop en wens is dat ons ná ons aftrede eendag nog baie jare gaan hê om te skrabbel met ons harte-woorde. Om drome van reise na ver plekke te kan waar maak. Maar ek weet ook dat as ons voetpad saam iewers duwweltjies of akasia-pendorings gaan saai, ons hande mekaar sal vashou. En dat ek eendag vir jou in die hemel sal wag of sal weet dat jy vir my wag. Marié