My liefste ding, Min het ons tweetjies geweet toe julle daardie dag met ons plaaspaadjie afgery gekom het ... jy in st. 6 en ek in st. 5, jy so deftig in jou double breasted roesbruin baadjie en swart broek, en ek in my pyjamas! En nie lank daarna nie die Kerskaartjie wat my hart bokspronge gegee het en my hele lewe op sy kop gekeer het: “Ek vra jou om my vriendin te word, asseblief!” Nou, ná 30 jaar saam, kan ek vir my lewensmaat, my vriend, my geesgenoot, my vertroueling, my steunpilaar en die pa van my vier pragtige kinders sê: jy’s die spil waarom ons lewe draai, jy is die rede vir my opstaan, al is die kilogramme meer en die plooie baie! Die wonderlike wete en rustigheid wat ons aan mekaar het, laat ons harte één word in gees en gedagtes. Ek kyk na jou met sagte liefdesoë en my hart smelt soos warm vla! Ons gesels met mekaar, los die land se probleme op en ook sommer ons kinders s’n, flirt met mekaar totdat ek later warm nestel in die bekende holte van jou arm, die heel lekkerste plek om te wees ... Jou onvoorwaardelike liefde, entoesiasme, passie en lewensvreugde maak my oneindig lief vir jou! Toe God jou aan my gegee het, het Hy my die heel beste gegee, daarom is elke dag saam met jou ’n vreugde. Jy werk so hard vir ons. Dinsdagoggende stuur jy vir ons almal ’n “ek-dink-aan-jou”-sms! Ek kan nie wag dat jy saans huis toe kom nie, om oor die dag se gebeure te gesels en mekaar se wedervaringe te deel. Ja, my Liefste, jy’s die middelpunt van my lewe en ek salueer jou daarvoor.