Aan my Liefie, Hannes Elke oggend as ek my oë oopmaak, dank ek die Here vir die geskenk wat langs my lê. As ek wakker word, is jou sterk arms reeds om my om my te wys hoe lief jy my het.Aan die begin van die dag is dit waar ek veilig wil voel, in jou beskermende hande. Jou hande hou denkbeeldig oor my hart vas wat vir my ’n teken is van “Ek het jou hart in my hande en sal dit soos goud oppas.” Jou hande is dié van ’n man wat, ongeag omstandighede, ’n vrou daarop sal dra. As jy jou oë oopmaak, weet ek dis die oë waarin ek vir die res van my lewe wil kyk, sagte blou oë wat my laat voel ek is die enigste vrou wat jy ooit wil sien. Dis oë wat ek vertrou, wat tot diep in my siel kan sien. Wat my diepste behoeftes kan lees en dit kan verstaan sonder om dit te bevraagteken. Dis oë wat soms kwaai kan wees en wat verrassings goed kan versteek! As jy vir my glimlag, is dit die aansteeklikste glimlag en kan ek nie anders nie as om ook terug te glimlag.Dis ’n glimlag van tevredenheid, vreugde en liefde wat die donkerste dag kan verhelder. Dis ’n glimlag wat jou grootste probleem soos mis voor die son kan laat verdwyn. Môre my Liefie” is die mooiste woorde om my dag op te helder en maak dat my hart sommer vinniger klop as ek dit hoor. My innerlike sê: “Ek is belangrik, want EK is jou Liefie!” Dit laat my soos ’n presidentsvrou voel, Presidentvrou Hannes. Dis ’n stem wat ek in my gedagtes kan hoor as ek jou sms’e op my selfoon lees. Dis die stem wat my sê jy is lief vir my, wat my gevra het om te trou, wat my geestelik vorm en wat vir my moed inpraat as ek dit verloor het. Dis ‘n stem wat ek hoop ek altyd sal kan hoor. Mmswa!! ’n Vroegoggend soen op die mond en my liggies is aangeskakel vir die dag.Ek is herlaai en reg om die dag te begin. Hoe dan nou anders?Met die sagste lippe laat jy my vir daardie sekonde of 5 vryval. Geen inhibisies of verantwoordelikhede, geen gedagtes wat deur my kop maal nie, geen bekommernis oor die dag se pligte wat op my wag nie. Net jou warm lippe wat met myne saamsmelt en die tyd vir daardie oomblik laat vries. Dis ’n soen wat iets in my wakker maak, impulse teen my rug af laat spring, my bloeddruk opjaag, my bene onbetroubaar laat en my siel laat smag vir meer, wat my soos ’n ware vrou laat voel. Dis iets besonders omdat net jy daardie uitwerking op my het. Soos ons regmaak vir die dag wat op ons wag, ruil ons ’n paar organisatoriese pligte, beplannings of onbenullighede uit. Jougeaardheid is so anders as myne, maar tog is dit so aantreklik. Jy is bedag teenoor ander, jy is opreg, eerlik en betroubaar. Jy geniet die lewe en menswees ten volle. Jy vertrou volkome op die Here en volg Sy leiding, al is dit hoe moeilik. En so kan ek jou geaardheid verder ontleed tot op die laaste detail. Hoe dit my beïnvloed is onbeskryflik, daar is net nie genoeg woorde nie. Soms voel ek trots omdat ek so anders is as jy en ander kere voel ek baie skaam omdat jy ’n beter voorbeeld as ek is. So skuur hierdie twee klippe mekaar heeltyd. Al is daar soms vonkies, is dit tog nodig om die liefdesvuur vir mekaar te behou. En soos jy wegry, waai jy met jou beskermende hand en glimlag, en sien ek die lagplooitjies by jou liefdevolle oë. Dan weet ek dat jy ’n baie besonderse geskenk is wat spesiaal vir my gestuur is om my lewe vol te maak.Soms dink ek dat dit verkeerd is om so lief te wees vir iemand, maar dan is ek tog te dankbaar dat ek die voorreg het om íémand lief te hê. Iemand so uniek en spesiaal soos my Liefie, Hannes Ek is nie net lief vir jou nie, ek het jou lief met alles wat ek is!