Liewe Greg

Ek voel ’n dringende begeerte om hierdie dag, 21 Februarie 2009, vir jou in my onbeholpe woorde vas te lê. Dit was so ongewoon soos Paul Potts se keuse van liedere by Idols se kompetisie in Engeland. Sy keuse van opera-liedere te midde van rock, ens. het sterk kritiek by die beoordelaars uitgelok, maar hy het die gehoor en publiek aan sy voete gehad. Die ongewone het ’n impak gehad. Hy het wel gewen! Daar was geen kerslig nie, geen asemrowende sonsondergang of ’n ring in vonkelwynglas of iets dergeliks nie. Die atmosfeer rondom ons was van geen belang toe twee sielsgenote mekaar uiteindelik vind nie. Daar was wel voorheen vinnige geselsies in die verbygaan. Iets blywends word geskep. Sonder voorbedagte rade het dit so gebeur:

Ek het my stootkarretjie by die ingang van Pick n Pay geneem en jou terloops opgemerk voor die koeldrankuitstalling. Die “maroon”-slonserige driekwartbroek en die pet op jou kop kon ek nie miskyk nie - jy het my soos ’n magneet aangetrek. Met jou rug na my gekeer, het ek ewe ongeërg die stootkarretjie net rakelings by jou verby gestoot. Ek van alle mense!

En toe! Jou woorde speels soos altyd:

“Het jy ’n rybewys?”

“Nee,” was die antwoord.

“Jy beter ook ’n nommerplaat aanskaf. Doen jy inkopies?”

“Ek het nie ’n snytjie brood in die huis nie. (Dit was die waarheid) Ek moet hierdie maand besnoei.”

“Geldelike probleme?”

“Nee, ek moet die Ontvanger van Inkomste voor die einde van die maand betaal.”

“Hoeveel?”

“Nogal heelwat.”

Hierop volg ’n breedvoerige uitruil van inligting van probleme met die Ontvanger.  Jy borrel oor – vertel van ’n vrou wat jy eerder vermy en ’n draai om haar loop omdat sy altyd probleme veroorsaak. Ek probeer ’n bietjie wysheid voorlê: die moeilikste opdrag in die Bybel is om jou vyande lief te hê.

Hierop volg jou hope vergifnis wat jy al geskenk het, maar dat dit net nie meer kan nie.  Ewe versigtig hanteer jy die vraag om uit te vind aan watter kerk ek behoort? My betrokkenheid by die kerk word ewe saaklik uitgelê. Ons probeer die kerk in sy laaste doodsnikke verleng, maar die gebrek aan jong mense en kinders is ’n wesenlike probleem. Ek word genooi om jou kerk te besoek.

En toe?

Een van jou kerk se lede sluit by ons aan.  Ek word voorgestel en moet natuurlik noem dat ek nie eens jou naam ken nie? Jy stel jouself voor en reik jou hand met:

“Aangename kennis.”

Kan ’n elektriese stroom of wat ookal so sterk vloei met ’n hand se aanraking? Waarom gebeur so iets as jy alle hoop opgegee het dat jy dit ooit weer sal ondervind?  Dit voel asof alle moontlike hormone iewers losgekom het.

Ek word genooi vir koffie in die toekoms by Wimpie.

“Maar Wimpie het toegemaak?”

Volgens jou gaan Wimpie, onder nuwe eienaarskap, weer oopmaak

Met oogkontak wat boekdele spreek en ’n ligte aanraking, kry ek die belofte:

“Ek sien jou volgende week in die biblioteek!”

Ek gaan met oop oë en waaksaamheid die toekoms tegemoet. Ek weet nou met sekerheid dat ons terloopse geselsies in die verlede daarop gedui het dat iets ons bind! Omdat ons albei lief is vir stap, was die afwagting altyd daar dat ek jou tog weer sou raakloop. Stadig maar seker het ons elke keer iets meer van mekaar leer ken. Jou kleindogter het ook ’n plek in my hart verower.  As ons nie albei gestap het nie, was ons nou nog vreemdelinge vir mekaar.

Ons sal maar moet sien wat die Voorsienigheid vir ons inhou. Intussen is dit heerlik om lugkastele te bou, die gevoel in my te vertroetel en daarmee die soete slaap binne te gaan.

Gaan jy werklik in staat wees om die muur wat ek om myself gebou het, af te breek? Ek ry op ’n wipplank. Ek wil terugkom aarde toe, maar ek wil ook nie.

Sal jy ooit eendag hierdie brief lees?

Op die oomblik is dit net iets onbeskryfliks om te weet jy bestaan.

“Whatever will be, will be.”

Matty