Beminde Hooglied-man, Jacobus Die eerste keer toe ek jou sien, toe sien ek LIEFDE en toe jy aan my vat, toe voel ek dit! ’n Skokgolf van weet nie hoeveel volts nie! Daar was net “magic” tussen ons, en dis ná al dié tyd steeds dieselfde, liefling van my siel. Ons het stormagtig begin en baie mense het gesê dit gaan nie lank hou nie. Maar ek het kosbaar gegroei in Jesus en alles wat negatief teenoor ons liefde of huwelik uitgespreek was, dadelik gekanseeleer, want ons huwelik is op die rots Jesus gebou. Toe ons die eerste keer intiem was, het die engele gejuig – glo ek – want hulle het geweet ons hoort bymekaar. My hele wese roep na jou as ons nie bymekaar is nie, my gedagtes is altyd vol van jou en as jy my bel, voel ek soos ’n verliefde tiener. My hart klop vinnig en my maag draai steeds. Ek wil net aan jou behoort vir ’n ewigheid. Ag, my man, jy weet wat ek bedoel. Jy is die enigste een wat alles van my weet, die een vir wie ek alles wil vertel, ek wil alles met jou doen en deel. Ek wil elke oggend saam jou wakker word, nadat ons uiteindelik aan die slaap geraak het. Ek is so “gebless”. Ek geniet jou nabyheid. Ek belowe om jou liefte hê vir solank as wat ek lewe. Dankie dat jy my verstaan, dankie dat jy my liefhet met ’n passie – soos net jy kan, my Hooglied-man. As jy my “daai” kyk gee, raak my knieë lam en word ek soos klei in jou hande. Ek ervaar ’n liefde so reg uit ’n roman – miskien ’n ou Kaapse verhaal. Elke keer wanneer ons saam is, voel soos die eerste keer. Jy het my geleer om net myself te wees, ek voel soos ’n prinses in jou teenwoordigheid. Ek sal jou altyd bemin en koester en vertroetel. Jy weet hoe om die diepste gevoelens in my uit te bring. Ek kan niks vir jou wegsteek nie. Die lewe is goed vir ons, want ons lewe vir mekaar, man van my hart. Ek wil saam jou oud word. Ek wil jou kierie gaan haal as jy stokoud is. En al sal ons hande eendag bewe, moet ons steeds mekaar daarmee liefkoos. Ons moet op die stoep sit tot laatnag en Hooglied lees. Dis die mooiste liefdesverhaal in dieBybel – Hooglied 6:3 = Ek is my beminde s'n en hy’s myne              7:10 = Ek is my beminde s'n en sy begeerte is na my. Altyd joune Jou Hooglied-prinses en sielsgenoot