Daar is geldinsamelingsgeleenthede gehou, vrouens op motorfietse het die hele Suid-Afrika platgery, bra’s is verkoop of opgeveil, daar is op elke denkbare manier bewusmakingsveldtogte gehou, daar’s ’n strikkie van elke kleur vir verskeie kankers en ek haal my hoed af vir elkeen betrokke, elke vrou wat daardeur moes worstel, en halleluja! – elkeen wat ook oorwin het.

Maar wanneer gaan daar ’n strikkie of ’n bewusmakingsveldtog of ’n geldinsamelingsprojek wees vir navorsing oor ander degeneratiewe siektes of outo-immuunsiektes soos lupus, motorneuron-siekte, veelvuldige sklerose, rumatoïede artritis, ens.

Ek kan met gesag praat oor een van die verskriklike “disabling” siektes. Ek is in 1995 net ná my 30ste verjaarsdag gediagnoseer met rumatoïede artritis, ’n outo-immuunsiekte waar jou immuniteit teen jou eie liggaam draai, en in my geval die gewrigte en weefsel van die liggaam aanval. Drie jaar ná my diagnose het ek my eerste heupvervanging gehad, ses maande later my eerste handoperasie (eerste van vele), ses maande later my eerste knievervanging waarna skroewe in my nek gesit is, nog ’n heupvervanging, nog ’n knievervanging, elmboogvervanging, twee voetoperasies, en skoueroperasies met medikasie wat my daagliks net sieker laat voel. 

Ek is in November 1996 medies ongeskik verklaar, my huwelik het vier jaar later in die egskeidingshof geëindig. Ek het nooit die voorreg geken van ’n kind in die wêreld bring of vashou nie.

In April 2007 het ek probleme met my blaas en niere ondervind. Vandag het my (R) nier slegs 24% funksie en my (L) nier 76% funksie. Die uroloog sit ’n stent in my linkernierpyp nadat ’n obstruksie ontdek is. As gevolg van die stent beland ek elke ses weke in die hospitaal met ernstige bakteriële infeksie. In Maart 2008 kry ek ’n pulmonêre embolis, wat beteken daar is ’n bloedklont deur my hart en longe. As gevolg daarvan is my hart vergroot en ek word op hartmedikasie en daaglikse bloedverdunningsmedikasie gesit. My maag begin bloei weens al die medikasie, en nou moet dit eers behandel word. 

Jy raak desperaat, hardloop van een dokter na ’n volgende spesialis, probeer homeopate, gryp na elke strooihalm wat voor jou gehou word. Gaan vir bevryding, na geestelike leiers, jou gedagtes is ’n maalkolk – “God, is dit deur sonde wat U hierdie swaar, swaar kruis op my neergesit het. Is dit voorvader-sonde? Wat kan ek doen om dit te verander?” Maar dan kry mens krag van Bo, jy kry berusting in die wete daar is ’n doel met alles, al verstaan ons menslike verstand dit nie. Die Heilige Gees vertroos my en sê “hierdie liggaam is net tydelik”.

Ek het nog baie om voor dankbaar te wees, my familie is my ondersteuningstelsel, ek het ’n baie goeie siekefonds, wonderlike spesialiste met wie ek ’n verhouding deur die jare opgebou het, die vermoë om nog kreatief te wees, en ’n maandelikse ongeskiktheidspensioen.

Ek vra nie simpatie deur hierdie skrywe nie, ek vra net dat daar ook bewusmakingsveldtogte en geldinsamelingsprojekte gehou word vir navorsing na die oorsake van hierdie siektes. 

Tertia Burger, Montana, Pretoria