Maandag 30 Maart
Dis ’n maand sedert my miskraam. Daar was baie hoogte- en laagtepunte. Meer af as op. Die selfvertwyfeling en gevoel dat ek ’n mislukking is, begin weer kop uitsteek. Dis moeilik om positief te bly. Ek voel asof ek so alleen is, en tog het ek baie ondersteuning – by die werk en tuis. Bertha (le Roux) en ek het bemoedigende gesprekke. Maar niemand kan regtig die ontsaglike, aanhoudende pyn in my verstaan nie.

Dis uiteindelik tyd vir die tweede hoofstuk van my reis. My menstruasie is laat. Ek het soveel swangerskaptoetse ondergaan, dit kan nie wees nie. Ek droom byna elke nag ek is steeds swanger, maar die toets is elke keer negatief. By die kliniek doen hulle nog een. Ek wens so vir ’n positiewe uitslag, maar dis negatief. My hoop is weer verpletter. Die dokter ontdek ’n klein sist wat keer dat ek begin menstrueer. Ek moet vir vyf dae medikasie neem om daarvan ontslae te raak. My emosies ry weer wipplank. Hoekom ek? Wat het ek verkeerd gedoen? Ons vroue wys altyd die vinger na onsself. Al wat ek nou kan doen, is om te bid vir krag en wysheid om te hanteer wat ook al gebeur.

Saterdag 4 April
My menstruasie het begin. Oor tien dae kan ons die eerste sonar doen om te sien wanneer ons die gevriesde embrio’s kan terugplaas.

Maandag 13 April
Dis weer tyd vir die sonar. Uiteindelik sien ons ’n dokter, nie dr. Van Rensburg nie. Die wand van my uterus is 4 mm. Dit moet 9 mm wees. Die dokter sê ek moet weer Woensdag na dr. Van Rensburg toe kom.

Woensdag 15 April  
Ons is terug by dr. Van Rensburg vir die inplanting. Dis skrikwekkend hoe gewoond ek al aan hierdie ingryping geraak het. Die wand is net 6 mm. Die suster gee my ’n baie pynlike progesteroon-inspuiting, wat die wand help verdik. My volgende sonar is Sondag. Ek kan nie eens my emosies beskryf nie. Ek dink my verstand het alle emosie afgeskakel om my te help oorleef, goed of sleg. Ek voel asof ek net outomaties voortgaan.

Sondag 19 April
Hierdie keer is ek voor in die ry, ek het seker gemaak. Vrydag het ’n vriendin (wat ook in vitro deurgaan) gehoor sy was suksesvol. Dit gee my hoop, dis net die hupstoot wat ek nodig het. Goeie nuus, my wand is 9,1 mm, ons kan die embrio’s Donderdag of Vrydag insit. Hy skryf nog ’n inspuiting voor – hierdie keer estrogeen. Regi moet dit doen. Ek huil, want dis seer. Roxy was nogal bekommerd. Ek vertel haar dis medisyne wat Mamma help.

Maandag 20 April
Terug by die kliniek om my medikasie vir die volgende twee weke te kry. Ek is te bang om iets te voel. Nou kry ek setpille en tablette om my liggaam vir die gevriesde embrio’s voor te berei. Dit maak my effens naar, maar dis alles vir ’n goeie saak. Ek probeer om my doelwit voor oë te hou. 

Donderdag 23 April
Dis D-dag. Dis moeilik om op enigiets anders te fokus. My afspraak is teen middagete. Die dag sleep verby. Ek kom vroeg by die kliniek, sodat ek die administrasie en betalings kan afhandel. Dis regtig vir ons finansieel dreinerend. Ek voel nie baie sterk vandag nie. Regi, my pilaar van krag, gaan eenuur hier wees. Ons huwelik kry deesdae ’n bietjie swaar. Maar hy staan by my, ongeag wat.

Net voor eenuur kom haal hulle my. Regi het nog nie gekom nie. Die suster bel hom. Ek voel baie jammer vir myself terwyl hulle my by die teater instoot. Dit neem hulle ’n paar minute om die gevriesde embrio’s te bring. Dit gee my ridder genoeg tyd om met ’n bos blomme op te daag, net betyds om te sien hoe die embrio’s hul debuut op die TV-skerm maak. Dr. Van Rensburg moet my ferm vermaan om te ontspan, so gespanne is ek. Ek begin huil, ek wil regtig nie dié keer misluk nie. Ek moet twintig minute met my voete gelig lê. Regi lei my aandag af en die tyd vlieg verby.

Ek gaan werk toe. Nou moet ek so kalm as moontlik bly en positief wees. Binnekort is die swangerskaptoets. Die gewag is uitmergelend, want my kop bedink allerlei scenario’s. God, ek dank U vir al my seëninge.    

Lees in die Augustus-uitgawe (vanaf 6 Julie te koop) wat die uitslag was.