My Babe

Byna twee dekades gelede het ek vir die eerste keer in jou blouste blou oë gekyk. ’n Verrassende, asemsnakkende, kettingreaksie het my binneste laat breakdance, daardie dag toe ons, as vreemdelinge op die strand gaan perdry het.

Ek was verbaas toe jy my later uitvra ... het gedink jy hou eintlik van my sexy vriendin! Dit was eers toe ons in die maanlig op die strand loop en jy my hand saggies vat, dat ek anders geweet het.

Nooit sal ek die weerkaatsing van die volmaan op die seepgladde oseaan vergeet nie, nog minder die sagtheid van jou lippe. Soos kinders het ons eers vroegoggend giggelend huiswaarts gekeer.

Die skoppelmaai van die jare se avontuur, van trou en die ekstase van die geboorte van ons kinders, van drome saam najaag wat in nagmerries ontaard het ... Dit alles lees ek in die lyntjies om jou geliefde blouste blou oë.

Dis jou blouste blou oë wat my drome ken, dis jou blouste blou oë wat my diepste smart en vrees soekend, vertroostend koester. Dis jou blouste blou oë wat liefdevol na ons slapende kindertjies kyk.

Soms is jou blouste blou oë grys van moegheid, rooi as getuienis van min slaap. Tog sal jy my wakker maak met ’n koppie lafenis en nog ’n dag aanpak sodat ons goed versorg kan wees.

Ek is so lief vir jou as ek ons drome gereflekteer sien in jou blouste blou oë, omkring met ’n glinstering van hoop. Jou dryfkrag en deursettingsvermoë inspireer my.

Maar dis wanneer jy jou blouste oë toemaak en ons vingers inmekaar geweef ons Hemelse Vader aanroep, wat my liefde vir jou g’n perke ken nie.

Baie liefde

Jou Babes