Hallo daar!

Pas weer een oor sokkerspeler David Beckham en sy vrou, Victoria, wat onlangs 'n heel romantiese ete by top-sjef Gordon Ramsay se restaurant in die Claridge's hotel in Londen geniet het. Becks en Posh het glo hande vasgehou en soene uitgeruil totdat hulle die paparazzi opgemerk het en opdrag gegee het dat die gordyntjie om die tafel toegetrek word.

Dadelik het ek gewonder wat hulle geëet het. Wat eet mense wat alles in die wêreld kan bekostig? Ek dink die wenk lê in hul keuse van restaurant, want wat dit ook al was, dit was mín!

Ek wéét, want ek was net verlede jaar in die einste restaurant in die mooie ou Claridge's. Dit was koud en grys en ek was reg vir lekker eet. Die spyskaart is indrukwekkend, en alles lyk baie mooi op die bord, maar o wee, vir 'n Suid-Afrikaanse meisie met 'n gesonde aptyt het dit nie naastenby die paal gehaal nie. En ek kan net dink wat 'n Suid-Afrikaanse man met die lyf van 'n voorryspeler oor dié skamele porsies te sê sou gehad het.

Eers was daar die ertjie-en-kruisement sop, toe die filet of sea bass met lente-groente (die soort waar die wortels so groot soos jou duim se nael is) en toe, vir nagereg, geposjeerde mango met sjokolade-mousse en klapper-sorbet. Die mango, mousse en sorbet was elk nie groter as 'n outydse 50c-stuk nie. Dun gespinde sjokolade het die groot wit spasies op die bord probeer verdoesel. Maar erger nog, die vroue aan my tafel (onder meer Elizabeth Hurley en 'n hand vol joernaliste en ander professionele vroue) het nie één al die kos op hul bord geëet nie. Dis blykbaar hoe jy dit daar doen - jy los altyd 'n bietjie kos op jou bord!

Wel, teen die tyd dat ek dít agtergekom het, was my bord nog witter as voor die tyd. As daar ooit 'n dag was dat ek uit 'n duur restaurant my pad reguit na die eerste, naaste McDonald's wou gevind het, was dit daardie dag.  

Kyk, ons hoef regtig nie te wonder waarom Posh Spice en kie so tengerig is nie, waarom hulle die oorspronklike size 0's is nie. Daai vroue eet eenvoudig nie. Inderdaad 'n hartseer verhaal!

Groete
Michélle