Hallo daar!

SARIE se kantoor aan die onderpunt van Adderleystraat in Kaapstad is die perfekte uitkykplek. Ons het 'n bird's eye view van feesvieringe, betogings en katastrofes.

Hier het ons met ons vuvuzelas en landsvlae op die balkon gestaan toe SA die Wêreldbekerrugby in 2007 gewen het. Soveel mense in Kaapstad se strate het ek nog nooit gesien nie! Ons het so hard vir die Bokke geskreeu dat hulle nie anders kon nie as om entoesiasties terug te waai. Ons het die foto's om dit te bewys!

En toe die passasiersbus nou die dag in Adderleystraat ontplof, toe gebeur dit hiér. Ons gebou het geruk van die slag en glaspanele het gekreun, en vir 'n oomblik het ons gedink dis tyd om onder ons lessenaars weg te kruip. Totdat iemand die brandende bus opgemerk het - rég voor ons. Die hitte van die vlamme het ons tot in die kantoor gevoel.

Almal wat belang stel in die Argus-fietstoer weet dit skop hiér af, reg voor ons gebou. Die strate word afgekamp en mense staan rye diep om te sien hoe die een groep ná die ander die lang, warm, maar mooiste tog in die wêreld aanpak. Die musiek blêr en elke fietsryer se fans raas genoeg om hom of haar minstens oor die eerste bult te kry. Dis só feestelik dat jy naderhand voel jy wil self op 'n fiets klim en begin trap!
Vanoggend was die strate reeds toegekamp toe ek op kantoor kom - als vir die glans en swier van die parlementsopening. In die koerant het ek gelees van orkeste, kore en rooi tapyte. Oor die radio gehoor van president Kgalema Motlanthe wat met al sy omswerwinge sy tyd fyn moes sny om sy eerste en laaste staatsrede voor te berei.

So net ná tien hoor ek perdehoewe en hardloop balkon toe. Maar o wee . . . ek's net betyds om 'n paar swart ampsmotors, 'n handjievol motorfietse en 'n man op 'n perd met 'n vlag te sien. Die stad is grafstil en die skarebeheer-tralies blink in die son. Ver oorkant sleep 'n bergie rustig 'n tas oor die pad.
Dalk was al die fanfare - die modes, die erewagte en die groot makietie - aan die bokant van die Kaap. Maar ons hier onder in Adderleystraat het dié keer sowaar die paartie gemis!

Groete
Michélle