Jy is my droom wat waar geword het. Gevoelens wat ek eens weggesteek het, deel ek nou met jou. Die ergste is om gevoelens te hê vir iemand, maar nooit die moed het om vir daai persoon te sê hoe jy oor hom of haar voel nie. Dis hoekom ek nou vir jou gaan sê hoe ek oor jou voel en hoe jy mý laat voel. Die dae wat eens moeilik was, is nou mooi helder. En die tye wat eensaam was, is nou gevul met plesier. Dit, als te danke aan jou. Ek dink nie jy sal ooit werklik verstaan hoe jy my lewe verander het tot wie ek vandag is. Ek dink ook nie jy sal ooit werklik weet hoe spesiaal jy vir my is nie. Dit maak nie saak hoe perfek ek dit probeer stel nie, geen woorde kom naby wat my hart vir jou voel nie.
As ek net die regte woorde kan vind om die pragtige gevoel wat ek vir jou het, te beskryf, dan het ek dit al die eerste keer toe ek jou gesien het, in jou oor gefluister. Al wat ek nou kan doen, is om vir jou te wys hoe vreeslik lief ek jou het. Al maak dit nie vir party mense sin nie, is jy die een saam met wie ek die res van my lewe wil wees! Jy’t die meeste van my drome laat waar word. En die grootste een is jý ... my droom van iemand by wie ek myself kan wees, jonk kan wees, gelukkig wees en lag ... Jy laat my lewendig voel. Saam met jou voel ek soos ’n nuwe mens. Selfs al neem ek al die gevoelens vir jou, die passie en die romanse weg, gee ek steeds ontsettend baie om vir jou! Jy’t my hart oopgemaak. Jy is die wonderlikste persoon en ek kan nie my lewe indink sonder jou daarin nie. Net die gedagte sonder jou in my lewe maak my regtig bang en hartseer. Ek wil jou nooit verloor nie. Elke dag dank ek God dat hy jou in my lewe gebring het. Ek voel geseënd dat Hy jou op my pad gestuur het. Langs jou wil ek lê en oor die dag se gebeure praat, op jou bors aan die slaap raak en langs jou glimlag wakker word. Geheime met jou deel en lekker saamlag. Jy is die een saam met wie ek nuwe dinge wil beleef. Jy het my al so baie gegee en geleer dat ek nie dink ek sal ooit als vir jou kan teruggee nie. Ek wil deel in jou vreugde, daar wees vir jou in moeilike tye en jou help waar ek kan. Elke dag wat ek saam met jou deurbring, maak die lewe die moeite werd. Die plekke wat jy my wys en jou kennis wat jy met my deel en die raad wat jy my gee, is als so kosbaar. Ek wil elke gedeelde oomblik wegbêre en later weer daarna kyk en dit herbeleef. Dit is hoe spesiaal jy elke oomblik vir my maak. Al klink die meeste van die goed cliché, wil ek hêjy moet weet dat ek nog nooit oor iemand gevoel het soos wat ek oor jou voel nie. Ek wil jou alles wees, want jy is als vir my!