Elke Vrydag staan ek 4 vm. op, vee die slaap uit my oë, pak die kinders se kosblikke en tasse, en klim dan op die donker N7 tussen Melkbos en die lughawe. By die lughawe groet vida e caffè se personeel my al op die naam, ek scan my Mango-kaartjie elektronies en maak seker my sitplek is so voor in die vliegtuig as moontlik. Danksy die nuwe Wi-Fi-sisteem aan boord blog ek sommer die twee uur om.

My Johannesburg-dag begin met 'n sessie by The Headmasters Corner vir my hare, 'n produksie-vergadering, grimering en dan volg die prettige Ontbytsake-opname tot 5 nm. Die hele vliegproses word dan weer in trurat gesit: Lughawe, vida e caffè, huis toe.

Maar dié naweek was 'n uitsondering. 'n Baie frustrerende, onnodige uitsondering.

Liewe Leser, het jy al ooit ’n vlug gemis? Het jy al ooit ’n vlug op 'n lángnaweek gemis? 'n Tjok-en-blok-vlugte-langnaweek? Daar was nêrens eens plek op 'n vlieënier se afslaan-sitplekkie nie! Ek het alle gunsies ingeroep en toutjies probeer trek, maar niemand kon my by die huis kry nie.

Sien, dis die mag van die gewoonte se skuld. Ek doen elke Vrydag dieselfde goed, in dieselfde volgorde, op dieselfde tye. En vir my wat nie 'n roetine-mens is nie, was dit nogal iets om aan gewoond te raak. So, toe my vlug terug huis toe bespreek is vanaf Lanseria en nie OR Tambo nie, het ek nie mooi gefokus nie.

En daar sit ek toe in Johannesburg terwyl my man foto's aanstuur van die kinders se Saterdag-pret op Nuweland en Sondag se bootrit by die hawe. Mpf!

Die goeie nuus is dat ek wel betyds was vir my 21 km-wedloop Maandag in Bainskloof. Ja, liewe Leser, ek hardloop weer!

Die uitslag van die scan het gewys dat my knie op twee plekke beskadig is, maar met genoeg rus weer sal herstel. Geen operasie is nodig nie! Die ortopeed stel twee maande rus voor, en ek het hom belowe ek sal sommer drie maande rus... Nadat ek die Otter voltooi het.

In hierdie laaste 3 weke wat voorlê sal ek baie versigtig en konserwatief moet oefen om my knie te spaar.

Ek tel soos 'n kind die slapies opgewonde af. 15 Oktober gaan 'n strawwe dag wees. Ek weet ek gaan op fisieke- en emosionele vlak sterk uitgedaag word. Ek gaan nou selfs nog harder moet werk om die wedloop in 11 uur te voltooi. Met my swak enkel en 'n beseerde knie verwag ek om ’n ekstra uur by my tyd te sit, maar my kop is reg en my wil nog sterker. Boonop het die organiseerders van die wedloop dié week laat weet dat die Bloukrans 3 m diep gaan wees – minstens een van die 4 riviere wat ons moet oorsteek, is dus ’n swem! Prettig.

Daarom en soveel te meer vra ek jou ondersteuning aan die Tygerberg-Kinderhospitaal. Ek en jy is saam deel van hierdie projek. Ek sal die werk doen, jy kan op jou rusbank lê en SMS. Stuur die woord 'milan' na 38198 om R10 te skenk.

Volgende week laat weet ek jou hoe dit by Aardklop gaan met my optrede in PG du Plessis se stuk Teerling, en dalk stuur ek ook 'n foto van my afgekoude naels! Min dae!

Groete van huis tot huis,

Milan