Ek vermoed dis die verlede wat my nou inhaal. Ek onthou dat ek so 10 jaar gelede met my Vespa geval het. Ek was op pad huis toe ná 'n dag op stel van die kykNET-reeks Dit wat stom is. Akteur Steven van Niekerk het nog aangebied om agter my aan te ry omdat dit al skemer was. Ek het oor die los gruis gegly en ek moet erken ek was meer bekommerd oor die skraap aan my ego as die skraap aan my knie.

Dis moeilik om vir jou te verduidelik hoekom hierdie wedloop vir my so belangrik is. Jy argumenteer dalk: Die fondse is ingesamel en danksy hierdie projek is soveel meer mense nou van die Tygerberg Kinderhospitaal bewus. Ek weet dit is so, maar my persoonlike uitdaging lê tussen die bergpieke van die Tsitsikamma. Dis dáár waar ek myself wou wys wie ek is en waarvan ek gemaak is.

Môre is presies 'n maand voor die wedloop. Ek sou Sondag vir oulaas vir 5 ure oor en om Tafelberg gaan hol het, met net ’n paar korter afstande in die volgende drie weke. Maar ek moet nou eers die oefenprogram halt roep. Die ortopeed het my met ’n waarskuwende wenkbrou laat belowe dat ek nie sal hardloop tot ons die uitslag volgende week het nie. Ek mag fietsry en swem. Ai tog. Net gister giggel ek vir hierdie aanhaling:"Let's have a moment of silence for all those who are stuck in traffic on their way to the gym to ride stationary bicycles". Nou gaan ek die een wees wat 5 ure in die gimnasium deurbring! Want dis hier waar my hardegatgeit inskop. Oefen sal ek vir 5 ure oefen.

Ek hou angstig asem op om te hoor wat die dokter se. Tog, diep in my binneste weet ek dat ek op 15 Oktober by daai wegspringpunt gaan staan met 'n sak op my rug en 'n wil in my hart. Hoe ver my bene my gaan dra, is ’n saak vir die gode ...

Groete van huis tot huis,

Milan