So baie keer vier ons, gedenk ons, berou ons met ’n lafens in die hand. "Prost!" sê die Europeërs. "Cheers!" sê die meeste. "Laat hy val waar hy wil," sê my vriendin.

Ek geniet my whisky. Of dit nou aan die einde van ’n lang dag of aan die begin van ’n groot opskop is, die klingel van daai blokkies ys onder my Chivas is ’n salige klank. Ek was nog nooit ’n groot drinker nie. Ek het nie ’n kroeg of ’n wynversameling in my huis nie, en vele male is ons al op ’n Sondag betrap sonder ’n druppel om gaste aan te bied ... Dan moet ons maar hoed in die hand by die bure gaan leen.

Tog geniet ek die stasie waarop ek onsamehangend rondwandel ná my tweede glas wyn. Dis sorgeloos en ontspanne. En die volgende oggend speel ek en Schalk leepoog ching chong cha oor wie vir die kinders moet opstaan.

Dis hierdie melancholiese, morning-after, dieper-onder-die-komberse-inkruip gevoel wat my laat besluit het om alle alkohol uit te sny tot ná my Otter-wedloop. Van 17 Junie af is ek al op die waterkar. Want wie wil nou 7-uur op ’n Saterdagmôre opstaan om ’n berg te gaan uithol as sy hart in sy slape klop?

Dis makliker as wat ek gedink het. Miskien is dit my moedswillige streep of dalk die "ek-sal-jou-wys" wat so vlak onder my vel lê. Hoe dit ook al sy, ek teug tevrede aan my Virgin Mojito terwyl ek vir ’n slag die spulletjie van buite af bekyk. Vroegaand is dit nogal komies. Die inhibisies verdwyn en maak plek vir bravade. Die lag is volop en hard. Later, as die gevallenes een-een in die verte begin staar, is dit net die bittereinders wat jou nog met hul stories verveel. Ek was nou die aand by ’n geselligheid waar ’n vrou omtrent ’n uur lank dieselfde storie oor en oor aan my vertel het. Haar korttermyn-geheue het in haar rum-en-Coke verdrink.

Ek sien uit na 16 Oktober wanneer ek my Otter-wedloop ná die tyd met ’n behoorlike glas sjampanje sal vier. Ek is nie mooi seker wat die woorde gaan wees wat ons daai dag uiter wanneer die glase mekaar entoesiasties in die middel ontmoet nie, maar ek vermoed myne sal nie hier herhaal kan word nie!

Liewe leser,

Onthou asseblief om saam met my die Tygergerg-Kinderhospitaal te ondersteun.

SMS sommer elke week as jy hierdie blog van my lees die woord MILAN na die nommer 38198.

So skenk jy outomaties R10 aan die hospitaal. Of gaan laai sommer self jou kinders se ou DVD's daar af vir die onkologie-pasiënte om te kyk as die chemo-gif in hul are loop. Ek is seker daar is baie ou Ghoempie- en Lolos-CD's wat net in jou huis rondlê. Maak ’n pakkie op en stuur dit sommer vandag!

Jy sal nie net die kinders nie, maar ook die personeel se dag maak!

Monique is n groot fan van Juanita du Plesssis! Ek ontmoet vir Monique. Sy is al vir 16 jaar n inwoner van die Tygerberg Kinderhospitaal.

Groete van huis tot huis,
Milan