Vandag was een van daardie dae waarop alles net gelyk gebeur het. My man is vir 'n paar dae in Johannesburg, en soos die noodlot dit wil hê, moet sy bakkie vir ’n diens gaan. Die kinders moet terselfdertyd by twee verskillende skole, 10 kilometer van mekaar af, opgelaai word. Die skoonmaakdiens kom vensters was, die garage-deure word reggemaak, en my seuntjie se hare moet gesny word.

’n Chaos op groot skaal, maar ’n vrou kán mos multi-task, of hoe? Met die halfuur-breuk tussen alles deur, hardloop ek gou by die winkel in om 2-minuut-noedels te koop vir my tweejarige prinses wat nou al vir `n week net “moedels” eet. Ek gaan oor in outomatiese rat en binne ’n paar minute staan ek in die lang ry, met die noedels mooi gebalanseer in my regterhand, en melk en brood in die linkerhand. Die kinders staan voor die lekkergoed-rak, en besluit solank waarmee hulle my gaan afpers.

Uit die bloute, asof dit die natuurlikste ding op aarde is, kom die vraag, kliphard van my sesjarige seun, Johry: “Mamma, waarvoor gebruik mens ’n kondoom?”

In een sekonde flits al die boeke wat ek al ooit oor kinders grootmaak gelees het, deur my brein – vanaf my ma se ou "Dr. Jan van Elfen se Praktiese Babasorg" tot "Kweek kinders met karakter".

Terwyl ek snak na my asem, die vrou voor my verontwaardig omkyk en die tiener agter my se wange in vlamme uitslaan, weier my kop eenvoudig om te werk. Ek voel hoe die histeriese lag in my binneste kom sit, en ek weet net dis nou of nooit! Ek fluister in sy oor dat dit byna soos ’n vloekwoord is, en dat ek in die kar sal verduidelik. Gelukkig luister hy gehoorsaam. Ek weet nie hoe ek by die betaalpunt verbygekom en die kar bereik het nie, maar skielik was my deurmekaar dag een wat ek vir altyd sal onthou. Ek het net weer besef moederskap het nie ’n definisie het nie, en dat geen boek, hoe dik ook al, jou ten volle kan voorberei op wat nog op jou wag nie. En toe is my prinses vanaand ook klaar met “moedels”! Roereier en brokkoli is volgende op haar spyskaart. Uitgeput ná ’n lang dag is ek so dankbaar vir my twee life lines, wat my aan die gang hou wanneer dit voel of die allerdaagse roetine my wil insluk.My ma sê altyd:“Jou kinders hou jou common”. En vandag het ek net weer die waarheid van daardie woorde besef. Ma-wees van George