“So, hoe is dit om 'n fliek te maak? Seker baie glamorous!

Om 'n fliek te maak is soos 'n swangerskap, maar eerder die van 'n olifant wat twee jaar duur. Daar is dae wat jy nie kan slaap nie. Dae wat jy nie wil eet nie, dae wat dit voel of alles te “skielik” op jou afkom. Daar is baie knop-in-die-keel-dae waarop jy belangrike mylpale bereik het. Soos die dag toe jy die regisseur gekry het waarvoor jy gebid het, die dag toe jou aansoek om DTI-befondsing (by die departement van handel en nywerheid) goedgekeur is, of die dae wat die “shots” so mooi uitkom dat jy sommer wil huil. Daar's dae wat jy kinderlik opgewonde is: die eerste keer wat jy die geredigeerde weergawe sien, die klankbaan hoor, die plakkaatontwerp regkry of die lokprent uitreik.

Die oomblikke is soms net te groot. Dis ’n lang pad met baie kronkels, en natuurlik is daar dae waarop jy bang is. Op sulke dae wonder jy wat jy gaan doen as een van die aktrises besluit sy gaan eerder 'n aanbod aanvaar in 'n fliek wat baie meer betaal. Of wat op aarde jy gaan maak as die filmspan wat jy gekies het, nie kan doen wat jy in gedagte het nie? Of wat as hulle net een oggend opstaan en besluit hulle het genoeg gehad van die ysige Karoo waar julle skiet? Minus drie grade is bitter koud, glo my!

Net soos met 'n swangerskap is daar dae waarop dinge verkeerd gaan, waarop jy voel jy wil jou fliek met jou hele lyf beskerm. Ek onthou die oggend toe my produksiespan my vieruur wakker gemaak het om te sê iemand (wat natuurlik tot vandag toe naamloos is) het in die hek van die kerk op die klein Karoodorpie vasgery. Sal ek asseblief met die dominee praat voordat hy dit sien, want ons moet later die dag by daardie selfde kerk 'n toneel skiet? Om nie eens te praat nie van die dae – let op die meervoud hier – wat ons “action vehicle” probleme gegee het. Dan sluk jy maar jou trane en bel jou beste vriendin se pa om te kom help met die halsstarrige Land Rover, want as hy nog een keer nie wil start nie, gaan die fliek nooit klaarkom nie. En daar is nog baie sulke oomblikke.

Glo my, as daai baba uitkom, weeg hy drie ton. En die twee jaar lange swangerskap se bloed, sweet en trane was allesbehalwe glansryk. Maar jou baba sal altyd jou baba bly.

Jenny Griesel saam met een van die sterre van die fliek, Leah. FOTO: Verskaf

"Wat is die boodskap wat jy wil oordra?"

Eerstens, moet nooit die vervaardiger (wat 'n fliek maak) en die skrywer (wat die teks skryf) met mekaar verwar nie. Ons het van SA se top-draaiboekskrywers genader om Susters te skryf en is ontsettend dankbaar dat Sandra Vaughn en Corine du Toit ingestem het om dit te doen. So, wat jy op die grootskerm sien, is eintlik ons interpretasie van wat hulle geskryf het. Maar as vervaardiger wat so 'n lang pad met die projek stap, kan jy nie help om jou eie hart en drome in 'n fliek te sit nie, en natuurlik is daar 'n paar dinge wat jy daarmee wil sê of doen.

Om mee te begin, wou ons 'n chick-fliek maak. Nie net 'n fliek wat ma’s, dogters, sussies, oumas en vriendinne sal laat lag nie, maar ook een met 'n vrou se groot hart, deur vroue, vir vroue. 'n Fliek met 'n unieke handtekening.

Die teks is deur twee ongelooflike vroue geskryf, maar dit was net die begin. Ons wou bars van opgewondenheid toe ons 'n vroulike kinematograaf, Sunel Haasbroek, gekry het, want kamerawerk is dikwels maar steeds mans se domein. En as vroue sien ons die wêreld net anders, nè? Dit was belangrik dat Susters se storie uit 'n vrou se oogpunt vertel moes word. Toe kry ons vir Carike Nel, 'n modeontwerper wat skaars 30 jaar oud is, maar wat dit haar missie gemaak het om met elke stuk lap wat sy gebruik, die karakters te bou en die storie te vertel. Nie een oorbel, skoen of serp was toevallig nie. Elke liewe ding het 'n betekenis en 'n doel. Ons het 'n vroulike produksiebestuurder, Tascha van der Westhuizen, gehad, en nog 'n ongelooflike vrou, Mary-Sue Morris, was in beheer van die span wat gesorg het vir grimering en hare.

En dan was daar natuurlik ons drie ongelooflike aktrises, Diaan Lawrenson, Leah en Quanita Adams, wat in yskoue weer kortmoue moes dra en nie een keer gekla het nie. Dit was die sterkste span saam met wie ek nog ooit op enige projek gewerk het – met hulle sal ek oorlog toe kan gaan. Ek weet hulle was almal na my toe gestuur as deel van die plan.

Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek sal my sakevennoot Johan Vorster vir niks in die wêreld verruil nie, en ook nie ons regisseur, Corné Van Rooyen, nie. Maar met Susters het ek weer besef: ongelooflike dinge gebeur as vroue saamstaan, en ons moet nooit die krag daarvan onderskat nie.

Jenny Griesel. FOTO: Verskaf


Die boodskappe wat ek persoonlik met die fliek wou oordra, is eenvoudig:  

  • Jou begin bepaal nie jou einde nie. Susters vertel die storie van drie aangenome susters wat hul drome gevolg het en elkeen op haar eie manier sukses behaal het. En met sukses bedoel ek nie noodwendig loopbaansukses nie. Hul sukses lê eerder in die feit dat hulle weet wie hulle is. Hul ma was 'n eksentrieke vrou wat haar tyd ver vooruit was, 'n sterk vrou wat hulle aangemoedig het om die wêreld te verken. My reise was altyd 'n groot deel van wie ek is, en hoe meer ek van die wêreld sien, hoe meer verstaan ek dat ons almal maar net mense is wat met ons lewe tevrede probeer wees.
  • Dit wat jy dink jou vreemd maak, is eintlik dit wat jou uniek maak. Niemand het ooit enigiets merkwaardigs in die wêreld bereik deur in te pas, of dieselfde as almal anders te dink nie.
  • Jy is okei. Ons vroue dink almal in die een of ander stadium dat ons nie goed genoeg of sterk genoeg is vir 'n spesifieke situasie nie. Dink maar aan jou gesprekke met vriendinne. Glo my, suster, jy is sterker as wat jy dink. Wanneer jy op jou swakste voel, kyk diep binne jouself, en dink net aan al die berge wat jy klaar uitgeklim het. Onthou: geen uitdaging is ooit te groot vir jou nie, en jy is nooit alleen nie. Daar is altyd iemand daar wat jou liefhet en wat saam met jou die pad wil stap. Ons is nie veronderstel om alleen deur goed te gaan nie, en as jy net om jou kyk, sal jy besef hoeveel mense jy klaar in jou lewe het wat bitter lief vir jou is. Dankbaarheid is 'n groot deel van gelukkig wees.

“Watter karakter is jy? Of met watter karakter identifiseer jy?”


Ná honderde ure se tekswerkswinkels en produksie en redigering, het ek self gewonder. Maar nou besef ek, ek is Lexie (Leah). Ek loop alleen. Ek hou meer van diere as mense en geel is my gunstelingkleur, want ek is bang vir die liefde. Ek het altyd 'n verskoning om nie van 'n ou te hou of nie met iemand te wil uitgaan nie. Dis makliker om alleen te wees, en ek is so gelukkig in my eie vel dat ek nie eens 'n poging aanwend om iemand te ontmoet nie. Wat sou ek met hom doen? Hoe gereeld eet hy en moet hy elke dag water kry?

Maar hierdie jaar, so tussen die fliekmakery deur, het iets ongeloofliks gebeur. Ná vyf jaar van enkellopend wees het ek iemand ontmoet wat my aandag getrek het, en ek het die moed gekry om weer my hart vir die liefde oop te maak. Dalk was dit die uitdagings wat soms onoorkombaar gevoel het wat my die moed gegee het. Of dalk die persoonlike reis waarop ek was wat my oë oopgemaak het vir hom, of dalk is dit so eenvoudig soos dat hy bedoel was vir my. Maak nie saak hoe ek probeer terughou het nie – iets magies het gebeur. Ek het 'n ander kant van myself leer ken en vir die eerste keer in 'n baie lang tyd myself toestemming gegee om oop te wees vir dit wat kan gebeur as jy jouself toelaat om lief te wees vir iemand.

Hy het my person geword, en die hele pad saam met my gestap. Saans, as almal van ons in die Karoo behoorlik gevries het, kon ek uitsien daarna om, snoesig onder my kombers, ure lank met hom op die foon te gesels, of om wakker te word met boodskappe wat my aangemoedig het om deur te druk, of oulike idees van wat ons alles sou doen sodra ek terug was in Pretoria. Ek dink nie hy besef dit nie, maar soms was dit al daai klein goedjies wat my deur die dag gedra het.

Diaan Lawrenson, Leah, Johan Vorster en Jenny Griesel by die SARIE-première van "Susters" in Pretoria. FOTO: SARIE

Maar die wonderlike ding van self-ontdekking is dat dit 'n proses is wat nooit klaarmaak nie. Ná al hierdie harde werk en die hele reis saam was daar nog 'n onverwagte kinkel in die kabel: op die dag ná ons première vir SARIE-lesers het ek hom gevang met 'n ander vrou. Om dit erger te maak het hy daaroor gelieg en boonop sy agtjarige dogtertjie en eksvrou betrek as deel van die verskoning. Hoe meer hy probeer verduidelik het, hoe meer het hy homself eintlik net dieper en dieper in die leuen ingepraat. Uiteindelik wou ek dit nie meer hoor nie. Die waarheid sal altyd die hardste geraas in die kamer wees, en dit slaan jou met 'n ander tipe seer. Dis die olifant in die kamer wat jy nie kan vermy nie. Jy voel dit in jou hart, in jou maag, en dit gaan nêrens nie.

Eers was ek net woedend, en later het ek onophoudelik gehuil en ure en ure daaroor gesels met vriendinne. Ek het myself afgevra wat ek anders kon doen, gewonder wat het die ander vrou wat ek dalk nie het nie, of wat sy vir hom gee wat ek nie vir hom gegee het nie. Dis 'n nuttelose oefening, want al daardie vrae sal altyd onbeantwoord bly, maar mens vra dit steeds vir jouself.

Dis toe dat ek die grootste les geleer het: soms is die boodskap wat jy aan ander wil oordra, eintlik dit wat jy die meeste nodig het om te hoor. Soos die Engelse sê: “We teach others that which we ourselves most need to learn.” Toe besef ek: jy is sterker as wat jy dink. Jy is okei nes jy is. Dit wat jy dink jou vreemd maak, maak jou eintlik uniek, en jy is nooit alleen nie. Dit is presies wat ek nodig gehad het om te leer. My eie boodskappe was vir myself bedoel. Praat is een ding, maar luister is 'n ander … en wanneer mens na jouself luister, groei jy die meeste.

Nou moet ek my baba in die wêreld instuur. Ek hoop dat Susters jou sal laat glimlag, sal laat droom, en dalk 'n traan sal laat pik. Ek hoop dit sal jou toelaat om vir 'n uur of twee van al jou probleme te vergeet, want lag is ook medisyne vir die siel, of hoe? Maar bowenal hoop ek dat dit vir jou die krag sal gee om deur iets te werk.

Jenny Griesel

Vervaardiger: Susters

Desember 2017

Susters begin op 30 Maart 2018 landwyd in rolprentteaters draai.

SARIE is ’n trotse mediavennoot van die fliek.