Heike le Cordeur (28) bestuur haar eie blomwinkel, Fleur le Cordeur, in die Paarl. Sy en die span van Veronique Photography het saamgewerk aan dié fotosessie vir haar én die blomme.

rz

Heike le Cordeur voor en ná (FOTO: Veronique Mills)

Wat sê die span?

Grimeerkunstenaar Leverne Botha:

Heike het die mooiste lang donkerbruin hare wat ek in 'n lang tyd gesien het. Sy het sulke mooi donker oë wat ek net moes beklemtoon. Heike is so natuurlik, maar tog ongelooflik sjiek.

Stilis Seugnet Robson:

Dit was 'n plesier om haar uitrustings te kies. Sy het baie sterk kenmerke, soos haar skouers, en die klere het dit beklemtoon.

Fotograaf Veronique Mills:

Sy is passievol oor die lewe en haar werk, en sy het soos 'n model voor die kamera gewerk!

Wat sê Heike?

Beskryf jou klerestyl, en wat jy intussen wysgeraak het?

My klerestyl is los en ontspanne. Ek hou van sagte sy-teksture en lap wat net liggies aan my vel raak. Ek trek veel eerder jeans met hakskoene en 'n mooi sybloes aan as 'n aandrok. Ek hou ook baie van sagte truie en enigiets in neutrale kleure met helder aksente. My styl is definitief 'n mengsel tussen relaxed country en city slick. En ek hou veral van 'n stukkie goud!

Hoe het jy verwag gaan jy lyk?

Maak nie saak hoe moeg of rof ek lyk nie, ek dink altyd ek lyk pragtig. Ek het gedink ek weet hoe die resultaat gaan lyk - net ietsie mooiers as hoe ek gewoonlik vir myself lyk.

Was jy verras om jouself in die spieël te sien?

Ek was ongelooflik verras! Dit het gelyk soos iemand anders wat na my terugkyk. Ek het nie besef ek het sulke mooi groot oë en prominente wangbene nie.

Wat was vir jou die mooiste deel van jou mooimaaksessie?

Die lekkerste  was om my kreatiwiteit saam met die mooimaakspan uit te leef. Saam het ons besluit watter uitrustings pas by watter blom-bykomstighede wat ek gemaak het - dit het my baie selfvertroue gegee. Dit was so lekker om myself te kon uitleef deur nie net my handewerk nie, maar ook oom voor die kamera te wees. Om 'n bietjie dramaties te kon wees, 'n bietjie te lag, en so 'n bietjie model-model te speel was fantasties!

Wat was jou vriende/familie se reaksie?

My man kon nie glo dis ek nie. Hy het gese die mooimaakspan moet permanent by ons intrek.

Hoe maklik is dit om dié nuwe styl vol te hou?

Baie maklik, want hulle het regtig my persoonlikheid opgesom. Ek is mal oor swart en roomkleurige items, en die style wat hulle vir my uitgekies het, is klere wat ek vir seker sal dra.

Sal jy dit vir jou vriendinne aanbeveel?

Vir seker! Dit is tonne pret en wakker sommer die gevoel van vrouwees weer by 'n mens aan. Met stunning mense wat jou help mooi lyk, en lekker drankies en eetgoed is dit 'n fantastiese manier om 'n bietjie me-time te hê.

Wat het dié mooimaaksessie aan jou selfvertroue gedoen?

Hoewel ek nie 'n probleem met selfvertroue het nie, is daar wel sekere dele van my lyf wat ek goed versteek. Die mooimaakspan het juis van dié dele, soos my bene, duidelik laat wys, en ek kon ná die tyd op die foto's sien dat dit glad nie so sleg is nie. Ek voel net nog mooier en meer vol selfvertroue as dit kom by hoe die Here my gemaak het.

KLIK op die foto's hieronder om dit groter te maak.

Blomme: Fleur le Cordeur at www.fleurlecordeur.co.za

Klere: Model se eie

Bespreek vir jou mooimaaksessie híér