Mishach (die tuinman) het kopskuddend by die werk aangekom.“Maandag, Maandag, dis weer blou Maandag . . . ” “Toe nou maar Mishach, elke Maandag is vir jou blou . . .!"

Toe, skielik, asof van nêrens, die gil. Ons het opgeskrik en vir ’n oomblik doodstil bly staan . . . toe sien ek hoe Mishach ’n stuk yster gryp . . . Ons hardloop straat af, tot by die toe ysterhek van Twist Nie . . . Ek lui die klokkie, dringend, oor en oor, maar niemand kom uit nie . . . hardloop terug . . . ek sal die heining moet oor, dis al uitweg . . . Ek hoor die klank van water, ’n verwoede gespartel . . . toe ek Mishach se oë sien, het ek geweet, ek sal alleen moet verder . . . Bang durf ek die heining aan: eers oor digte bos, toe oor die plat stuk sement van ’n buitegebou . . . eindelik by die hoek van die groot ou huis . . . Dis nou stil. Die gespartel van water het opgehou. Ek sien klein spoortjies die huis in loop. Sonder om behoorlik te dink, volg ek dit, die donker huis in.

“Waar’s jy . . . ? Waar ís jy . . . ?” Binne moet my oë eers aan die donkerte gewoond raak . . . Skielik uit die skemerte verskyn die kort, donker man. Só naby staan hy dat ek sy oë kan sien. Nooit sal ek sy oë vergeet nie.

"Wat gaan aan? Waar’s sy? Waar ís sy?” Toe hy sy oë laat sak, het ek geweet, hier moet ek uit. Ek is op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.

Uit: ’n Venster vol son, ’n eenvrou-vertoning oor Alexa Kirsten, opgevoer deur Marianne Kitching en geskryf deur Winnie Rust.

"Van ons huis se stoep af kyk ek teen die agterkant van Lisbé-hulle (Lisbé Smuts-Smith) se pragtige, ou huis vas. Feitlik versteek agter die lukwarte, olyfbome en ’n heining van wilderose, klimplante, kanferfoelie en loodkruid. Dieselfde wankelrige heining waar ek daardie vreeslike dag moes oor. Ná die tragedie het die plek lank leeggestaan. Francois, haar man van net drie maande, het opgepak. Haar kinders, Timo (toe 17) en Saskia (toe 11), was in pleegsorg. (Hul pa, Timo Smuts, is ’n paar jaar gelede aan ’n hartaanval oorlede.) Daar was nuwe intrekkers en, vir ’n rukkie, lewe. Maar hulle het pas weer getrek. Dis hartseer, die plek toegesluit . . . koud. Ek onthou net drie keer dat ons gesels het. Die mooiste herinnering was ’n verrassing: Ek by my voëltafeltjie, sy aan die anderkant besig om die dorstige heining water te gee. Sy het vriendelik geroep: ‘Hallo, ek sien jou!’ Ek moet bieg: Ek was ’n bietjie geïntimideer deur die mooi, briljante akademikus. En toe, op 7 Februarie 2005, die voorval wat ons vir altyd sou bind - en by my sal bly solank ek leef.

Maar ek het aanbeweeg. Ek en Saskia, wat sedertdien by haar aanneemouers in die Paarl woon, het ’n helder mosaïek teen ’n lelike betonmuur by my voorhekkie gemaak - ’n herinnering aan haar ma. Met spieëlstukke en groen, geel en pers steentjies. Bont kraletjies en weggooi-goed. Ons het gesellig in die warm son gewerk: Eers die spieëlstukke se patroon uitgewerk en dit met gom teen die muur vasgesit. In die jare vorentoe sal ons stukkies byvoeg: Op 7 Februarie en Lisbé se verjaardag. Saskia kom kuier en oornag soms hier. Ek geniet haar geselskap - daar is ’n band tussen ons. Sy is ’n slim en sprankelende kind. Soms werk ek snags met ’n liggie. Ek het al geval en my kop gestamp. Maar dan gaan ek weer aan. Plak . . . plk . . . plak . . . Dis terapeuties. As ek bietjie af voel, is dit die beste plek om te wees. Mense stap verby, gesels en sê iets oor die muur. Dis ’n glinsterende, gelukkige plek. ’n Simbool van my lang pad.

Op aandrang van ’n sielkundige het ek in briewe aan Lisbé my hart uitgestort. Mymeringe oor my jammerte vir haar, Francois en die kinders. My vrees dat my gesondheid nooit weer dieselfde sou wees nie. Maar ook: My dankbaarheid om te leef en die wete dat God ’n doel met my lewe het. Groot was my vreugde toe ’n kolgans in Lisbé se tuin nes maak en agt gansies uitbroei. Die trotse pa het op die skoorsteen wag gehou. Die plek het weer ’n tuiste geword - nadat dit soveel maande lank hartseer en bang en leeg was. Ek sou graag wou glo Lisbé weet daarvan. Wat die kolganse vir my gedoen het . . . hulle het as ’t ware die pad na normaliteit vir my oopgemaak. Ek onthou . . . ná die aanval het ek my bewussyn verloor. My siel het my liggaam verlaat en boontoe gedryf, hoog, hoog. Ek het op my lewelose liggaam neergekyk. Skielik was daar iets soos ’n Hand wat my nie wou toelaat om verder te dryf nie. En my siel was terug in my liggaam. Ek het my aanvaller hoor beweeg en doelbewus probeer om nie te kreun nie. Uiteindelik was daar ander geluide, baie bene om my. Steve, my man, Mishach, die polisie en paramedici. Mishach het my vertel: Die ander vrou is dood. Haar lyk is gehaal uit die swembad waar die aanvaller haar ingestamp het. Hy het haar ook herhaaldelik met ’n skroewedraaier gesteek. Soos vir my. Elton John Lourens is dieselfde dag nog in hegtenis geneem.

Daar was 'n sakdoekgrootte stukkie blou lug in my gesigsveld

Dit sou alles later eers insink. Vir eers was daar die skok, die pyn, die verdwasing, die hitte in die ambulans op pad Paarl toe. Die volgende dag is ek na Groote Schuur oorgeplaas. Ek het agt dae lank hulpeloos, weerloos op my rug gelê. Ek kon nie beweeg nie. Bedags was daar ’n sakdoekgrootte stukkie blou lug in my gesigsveld. Een dag het ’n vliegtuig daaroor gevlieg - so sonder inspanning. Dit was wonderlik. (Later sou ek teruggaan en vind dis ’n groot venster vol blou lug en selfs ’n stukkie van Tafelberg.) Toe is ek na die spinale eenheid oorgeplaas. Dis waar lae en lae van die trauma stadig begin afskil het, amper soos ’n ui. Lede van die polisie se trauma-eenheid in Mowbray het met my kom gesels. Daar was tye dat ek gehuil en gehuil het - oor Lisbé se gesin se verdriet. En vir my eie dierbare vriende en familie. Die Paarl en Wellington se mense het geld ingesamel en ek is na die rehabilitasie-eenheid by die Universiteit van Kaapstad se private akademiese hospitaal oorgeplaas. Daar was 28 pasiënte, meestal slagoffers van motorongelukke. Ek het toe besef hoe gelukkig ek is. Van die personeel, selfs van die spesialiste, het my van hul eie trauma vertel. En ek kon luister en daarmee identifiseer. Dit was genesend vir verteller en luisteraar. Ek moes van vooraf leer loop. Eers kruip, dan loop. Baie lag, baie trane. Uiteindelik kon ek weer op my eie beweeg (of waggel!). Ek was ses weke lank in die hospitaal.

Terug op Wellington het ek heel eerste die plek aangedurf waar ek oor die heining geklim het. En vir Lisbé roosblare daar gestrooi. Elton John is lewenslank tronk toe gestuur. Hy het daardie dag alles skoongevee, daar was geen vingerafdrukke nie. Ek kon hom nie op ’n uitkenningsparade uitwys nie. Hy is skuldig bevind op grond van nét een ding - ’n druppel van my bloed aan sy hemp. Terwyl ek in die hospitaal was, het ek ’n bietjie soos ’n gek gevoel. Het ek maar dat Mishach saam met my oor die heining geklim het. Maar die stuk yster in sy hand, sy wilde oë. Ek was bang Lisbé skrik nóg meer. Ek het Lisbé nie gehelp nie, ek het self in die moeilikheid beland en die lewe vir ’n klomp mense swaar gemaak. Maar daar was tóg ’n doel waarom ek daar moes wees. Elton John kan nie nóg kinders wees laat nie. Die sirkel was vir my voltooi. Ek het onlangs vir hom ’n brief en ’n Bybel gestuur. Hy het nie geantwoord nie. Daardie eerste dae in die hospitaal was ek soms so kwaad. Ek het verneder gevoel, seer en met ’n kop wat wou bars. Ek het gewens hy kon net ’n paar dae lank in my lyf wees en my hulpeloosheid, pyn en vrees voel. Maar mettertyd het ek ook jammerte begin voel. Nie vir die vreeslike ding wat hy aan Lisbé gedoen het nie. Ek was hartseer oor sy lewe. Het hy ooit ’n kans gehad? Het hy ooit geweet wat liefde is? Hy was 10 toe hy die eerste keer met die gereg gebots het, ’n deurmekaar, woedende jong man.

Ek het steeds baie deernis en liefde vir mense wat sukkel en ly, miskien nou selfs meer

Ek het ’n tyd lank sekere goed verloor, my onafhanklikheid, baie van die lewe se vreugde en kleur. Ek het steeds baie deernis en liefde vir mense wat sukkel en ly, miskien nou selfs meer. Maar ek kan nie meer veel met daardie deernis doen nie, behalwe om te luister en te bid. Francois en sy ma het my in die hospitaal besoek. Dit was baie emosioneel, vir hom en vir my. Hy was stukkend en het hartseer gegroet. As huisgesin het ons lewens ook onherroeplik verander. Maar my man, Steve, en my kinders, Kerry, Ben en Luke, het my met deernis, begrip en liefde omhels. Ek het nie juis pyn nie. My linkerkant is effens spasties en daar is geen gevoel aan my regterkant nie. Ek kan nie water, hitte of pyn voel nie. Soms val ek vooroor, my balans is nie meer so goed nie. Ek kan nie hardloop nie, maar dan kon ek ook nie vantevore nie!

Ek word dikwels gevra om met groepe mense oor my reis te gesels, hoe God my gehelp het om vorentoe te beweeg, om met ander te identifiseer wat liggaamlik of geestelik gewond is, hulle te bemoedig. My sterkste gevoel is dankbaarheid. Ek kan loop en praat en dink en skilder en lappe verf. Daar is die son en wind op my gesig, die berge. En tussen die gruis, die helder goedheid van God en die mensdom."